Dr Willie Zeze, bestuurder van die Nkhoma Museum, vertel aan die groep meer oor die geskiedenis van die sendelinge.
Die verlede het ‘n kragtige manier om ons hede in te kleur en ons toekoms te vorm. Hierdie waarheid het diep deurgedring in die hart van dr Leon Foot, skriba van die NG Kerk Sinode Vrystaat, tydens die NG Kerk se onlangse besoek aan Malawi, waar hy die geleentheid gehad het om die geskiedenis van sy geloofsgemeenskap te herontdek en ‘n nuwe waardering vir die werk van sy kerklike voorouers te ervaar.
Vir Foot was hierdie reis na Malawi ‘n onvergeetlike en besonderse belewenis. “Hierdie was my eerste besoek aan Malawi en ek is baie bly ek het gegaan. Dit is een van daai ‘wow-oomblikke’ van ‘n mens se lewe, waar jy met ‘n knop in jou keel staan en kyk na wat jou kerklike voorouers gedoen het.”
As ‘n kind van die Kaap, het die stories van die sendelinge in Malawi ‘n groot deel van Foot se grootwordjare gevorm. “Ons het kleintyd gehoor van sendelinge wat daar gaan werk het – mense wat hulle lewe daaraan gewy het om mense in Afrika te gaan help.” Om in die voetspore van die sendelinge in Malawi te kon loop, het hom die geleentheid gegee om die fisiese bewyse van daardie toewyding te sien en dit het hom diep geroer.
Een van die sentrale punte van die besoek was die Nkhoma-hospitaal, wat ‘n bron van trots en inspirasie vir die gemeenskap is. “Om daar te kom en te sien wat vasgestel is oor die afgelope 100 jaar is nogal besonders. Jy moet nie aan die hospitaal dink as ‘n Mediclinic, Grootte Skuur of Tygerberg Hospitaal nie. Die hospitaal het ‘n unieke struktuur en die impak daarvan op die gemeenskap is niks meer as ‘n praktiese uitdrukking van geloof nie.”

‘n Lugfoto van die Nkhoma Hospitaal
Die gemeenskap van Malawi het Foot geraak met hul vasberadenheid en hul vermoë om met min te werk en daarvan ‘n lewe te maak. “Die mense in Malawi het min, maar hulle kom reg met dit wat hulle het en hulle doen iets daarmee. As jy kyk na die omgewing, sien jy altyd iemand wat besig is om iets te maak – hulle laat hulle nie onderkry nie.”
Die reis het ook ‘n sterk indruk gelaat van die trots en inspirasie wat die Malawiese gemeenskap in hul geloof en erfenis het. “Die kerk in Malawi is duidelik nie ‘n kerk met oorvloedige bronne nie, maar wat opvallend is, is die trots wat ‘n mens by hulle opmerk.” Hierdie trots kom voort uit ‘n erfenis van geloof en toewyding.
Hierdie besoek het nie net ‘n herontdekking van die verlede gebring nie, maar dit het vir Foot ook bewus gemaak van die impak van die NG Kerk se betrokkenheid in Afrika. “Ek dink ons het oor die afgelope tyd dalk te min gemaak van daardie stories en ek dink dit is belangrik dat ons lidmate weer die sendelinge se stories moet hoor.”
Leon Foot het sy getuienis afgesluit deur op te merk dat die besoek aan Malawi hom herinner het aan die krag van gemeenskap en die toewyding en impak van ‘n geloofsreis wat oor geslagte voortduur. “Ek sê weer, dit was vir my ‘n besonderse voorreg om daar te kon wees, te kon deelneem en te sien wat daar tot stand gebring is. Die kerk in Malawi is duidelik nie’n kerk met oorvloedige bronne nie, maar die mense is trots op dit wat hulle het en op dit wat hulle doen.”
