Sinodegangers voor die hoofingang by Hefsiba
DIE GESKIEDENIS VAN DIE OUDSTE IRM-SINODE
Nadat die kerk in 1922 deur die Portuguese koloniale regering en aangevuur deur die Rooms Katolieke Kerk, geforseer is om op te hou om dienste te hou en vir 50 jaar in die geheim moes vergader, het die deure genadiglik weer oopgegaan.
So het dit gebeur dat bekende missioloë van die NG Kerk soos ds P.E.S. Smit, dr Johannie Cronjé, dr Eddie Bruwer, ds Pieter Botha en ds Kobus Minnaar, Mosambiek kon besoek, veral dan ook hierdie noordelike gedeelte van die Angónia distrik in die Tête Provinsie. Dit het alles daartoe gelei dat ons susterskerk, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) amptelik as kerk geregistreer kon word in Mosambiek.
In 1977 is ‘n sinodale kommissie gekies om die eerste sinode van die IRM te konstitueer by die historiese Mphatso-gemeente. Ds Pedro Tembe, eintlik van Suid-Afrika en toe leraar in Maputo, is as die eerste moderator gekies. Die kerk was nog klein en in sy beginjare. By die geleentheid word David Chikakuda en Fanuel Kasamba opdrag gegee om vir leraars te gaan studeer by Justo Mwale Teologiese Skool in Zambia. Hulle het teruggekeer as leraars wat met toewyding onder moeilike omstandighede (kommunistiese beheer), hier gewerk het en gehelp het met kerkgroei veral in die Angonia- en Tsangano-distrikte. Die sinode was bevoorreg om nog vir ds Chikakuda as afgevaardigde ouderling van Mphatso te kon verwelkom.

Ds Chikakuda was die oudste sinodeganger. Hy het sy opleiding in Justo Mwale Teologiese Skool, Lusaka ontvang. Onder die kommunistiese bewind het hy onder lewensgevaarlike omstandighede vanuit Malawi begin met evangelisasie en gemeentebou in Mosambiek.
DIE IRM SE MPHATSO SINODE VANDAG
Daar word, volgens die algemene sekretaris van die sinode, ds Samuel Bessitala, bereken dat daar vandag reeds sowat 67 000 lidmate in die sinodale gebied is! Die afgevaardiges na die sinode het intussen so uitgebrei dat die sinodale saal op Vila Ulónguè, nie meer al die afgevaardigdes kan huisves nie en daarom is daar besluit om in die Hefsiba Teologiese Skool se hoofsaal die vergadering te hê.
DIE MISSIONALE GERIGTHEID VAN DIE SINODE
“Die uitstaande eienskap van hierdie sinodesitting was die klem op die missionale uitbreiding van die kerk,” volgens ds. Bessitala. Die afgevaardigdes het besef dat die groei van die kerk nie na wense is nie en dat daar nog baie prayer houses gestig kan en moet word in die proses van kerkplanting. Alhoewel daar vyf leraars in sogenaamde sendingareas is – dit is waar daar nog nie amptelik tot gemeentestigting oorgegaan is nie – is dit by verre nie genoeg nie.
In gesprek met die algemene sekretaris, is daarop gewys dat die kerk se sisteem om kandidate na Hefsiba te stuur, deels daarvoor verantwoordelik kan wees dat daar so min predikante afstudeer. Kandidate word net gestuur as die sinode ‘n vakature voorsien oor drie of vier jaar. Daar word gereken dat dit ‘n verantwoordelike ding is om te doen. Die sinode staan daarom in vir elke afgestudeerde om in ‘n gemeente geplaas te word en ‘n salaris te ontvang.
Daar word nou ernstig strategies beplan om die situasie te verbeter sodat die kerk, tot die Here se eer, uitgebrei kan word. Daar word ook besef dat omtrent al die leraars uit plattelandse gebiede kom en dat hulle nie altyd die mas in stedelike gebiede opkom nie. Daar sal nou in samewerking met Hefsiba hersiening gedoen word van die kurrikulum om dit aan te spreek.
Groot evangeliese buitelugbyeenkomste word ook beplan.
Waar leraars swak vaar in sekere gemeentes is daar besluit om hulle te herontplooi sodat hulle geestesgawes elders effektief gebruik kan word. So is daar een leraar tydens die sitting gevra om ‘n verplasing te aanvaar.
Die bediening onder die jeug het ook onder bespreking gekom en daar word gevoel dat Hefsiba ook hier meer relevante opleiding moet bied sodat die “selfoon – en massamedia-jeug” aangespreek sal kan word.
Die behoefte is ook uitgespreek dat daar weer meer uitreikgroepe van Suid-Afrika die sinodale gebied sal besoek. Dit gee die nodige geestelike energie en bou noodsaaklike ekumeniese bande.
DIE EENHEID IN DIE SINODE
Die sinode het daarin geslaag om die eenheidsband tussen veral die leraars te versterk. Die atmosfeer was meestal ontspanne en hartlik. Daar is kennis geneem dat daar in sommige gemeentes wel spanning tussen die gemeentes en die leraars bestaan. Na ‘n ernstige debat is ‘n leraar bv versoek om ook sy gemeente te verlaat en vir vredesonthalwe na ‘n ander vakante gemeente te beweeg. Dit is natuurlik voorafgegaan deur ‘n deeglike gesprek oor die saak met hul ring.

Die pasverkose nuwe IRM Sinode Mphatso-moderatuur, v.l.n.r.: ds Noe Mwandlona Khoza (aktuarius), ds Manuel Sambani (skriba), ds Horacio Holomane Waize (ondervoorsitter), ds Leonardo Dauzeni (moderator). Heel regs ds Samuel Bessitala (algemene sekretaris) wat vir die volgende twee jaar in die pos sal aanbly.
DIE NUWE MODERATUUR
Ons susterskerk in Mosambiek, die IRM Mphatso Sinode, het so pas hul nuwe moderatuur verkies. Hulle bestaan uit ‘n klomp jong manne (uitgesluit die aktuarius). Sien foto en name hierbo.
OPROEP
Voorbidding en meelewing word versoek vir hierdie oudste en grootste sinode van die IRM kerk in Mosambiek.
KONTAK
Daniël de Wet
missio@kaapkerk.co.za
