Die toergroep voor die ingang van Hefsiba
Die roeping om saam te werk, te leer en oor grense en kontinente heen te groei, het onlangs ‘n groep van agt, geïnisieer deur Daniël de Wet (Getuienisaksie, Wes-Kaapland) en Nico Mostert (Vennote in Getuienis, Sinode Vrystaat) na Mosambiek gelei.
Die groep van agt het bestaan uit die moderators van die sinodes van Wes-Kaapland en die Vrystaat, asook PSD’s en taakspanlede. Hierdie ekumeniese besoeke het die span se oë opnuut geopen vir die wonder van gemeenskap, toewyding en God se roeping in Afrika.
Vir Marinus Theron (moderator: Wes-Kaapland) was die besoek aan Mosambiek ‘n ontmoeting met die geskiedenis van die kerk en ‘n herinnering aan die impak van die sendelinge wat hul roeping met erns en toewyding vervul het. Hulle besoek aan Hefsiba, die Instituut vir Christelike Hoër Onderwys, was vir hom ‘n hoogtepunt. Die kerkleiers se verantwoordelike rentmeesterskap teenoor ekologie het vir hom uitgestaan. Theron het opgemerk: “Hier is ook ‘n groeiende kerk en te midde van talle uitdagings doen hulle met ywer mee die opdrag wat Jesus ons gegee het om na alle nasies toe te gaan. Dis werklikwaar ‘n inspirasie en bied baie stof tot nadenke! Ons hier in Suid-Afrika moet nie te midde van al ons uitdagings ons roeping laat kwyn nie.”
Die gasvryheid en hartlikheid van die mense in Mosambiek het ‘n diepe indruk gelaat op Marnus Havenga (PSD: Kerklike Opleiding, Wes-Kaap). Hy het die geleentheid gehad om met die gemeenskap te gesels en het so meer geleer oor hulle ervarings en uitdagings. Die besoek aan Hefsiba was ook ontsaglik waardevol vir hom omdat dit vir hom ‘n insig gegee het in die lewe van die studente in Mosambiek en die waarde van saamwerk oor taalgrense heen. “Daar word baie moeite gedoen met die teologiese opleiding wat hier ontvang word. Ten spyte van die taalverskil (hulle praat hoofsaaklik Portugees) kon ons steeds saamgesels, saamleer en saamdink oor die toekoms.”
Vir Pieter van der Walt het die ontmoeting met die leiers van ons susterskerk, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) Sinode Mphatso, hom bewus gemaak van die unieke uitdagings en geleenthede in die Mosambiekse konteks. Die kerk in Mosambiek groei en brei uit, maar het ‘n tekort aan opgeleide bedieningswerkers. Dit het hom aangemoedig om kontak te hou en saam te werk met hierdie leiers. “Dit mag ons goed doen om kontak te hou met hierdie vennote en saam met hulle te leer, want hoewel ons kontekste in baie opsigte verskil, is die uitdagings oor ons land- en kultuurgrense herkenbaar.”
Hierdie reis na Mosambiek het aan die groep die geleentheid gebied om te leer, te deel en te groei. Die inspirerende geloofsgetuienisse van die besoekende span het die betekenis van saamwerking en roeping benadruk en het hulle aangespoor om hul geloof en diens aan God te verdiep en uit te brei.