Studente na ‘n gradeplegtigheid by Hefsiba se hoofingang.

 

Kruger du Preez, tans gasdosent by Hefsiba Christelike Instituut vir Hoër Onderwys by Vila Ulónguè in Noordwes-Mosambiek, vertel: “Dit was op 6 Augustus dat ek die benoude boodskap van dr Manassse, die direkteur van Hefsiba, ontvang het wat my baie ontsteld vertel het van vyf Hefsiba-personeellede wat in ‘n baie ernstige ongeluk naby Beira was. Die motor is so te sê afgeskryf.

“Die prentjie het geleidelik ontvou …  Die Hefsiba-personeel, wat die akademiese direkteur, dr Canteiro en ons geestelike kapelaan, ds Ualise ingesluit het, was op besoek aan die Hefsiba-satelietkampusse in Milange en Mocuba toe dit gebeur het. Dit was sterk skemer en reënerig wat hulle gedwing het om baie stadig te ry. Skielik was daar net ‘n aardige geluid en ook geen remme nie! Daar was geen ander uitkomkans nie – hulle moes teen ‘n stilstaande vragmotor vasry om tot stilstand te kom.

“Die wonder was dat, alhoewel die motor ‘n wrak van voor was, het niemand ernstige beserings opgedoen nie! Hulle was egter baie getraumatiseerd. Die genade was groot …

“Dit blyk toe later dat die stuurstang onder morsaf gebreek en in die grond vasgesteek het. Dit het veroorsaak dat daar geen remme was nie.

“Die motor is met kostes tot by Chimoio gesleep en die personeel moes ander vervoer terug na die hoofkampus op Vila Ulónguè in die Tête Provinsie, ‘n hele 686 km verder, soek.”

Die stuurstang van die motor het morsaf gebreek.

 

Die huidige situasie is as volg:

Om die kar so reg te maak dat dit weer rybaar is sal ongeveer R50 000.00 (Vyftigduisend Rand) kos. Die personeel het nie meer vertroue in die Ford Ranger nie en wil dit verkoop met die opsie om ‘n ander, al is dit dan goeie tweedehandse motor, te koop

‘n Goeie, stewige  tweedehandse kar wat hulle in gedagte het kos R250 000.00.

 

Hoekom is dit so nodig dat die voertuig vervang moet word?

  • Hefsiba se hoofkampus is op Vila Ulónguè in die Tête Provinsie. Die twee satelietkampusse word finansieel, administratief en akademies daarvandaan bestuur. Gereelde besoeke aan Milange en Mocuba is dus noodsaaklik. Die afstand vanaf  Vila na Mocuba en terug is sowat 1 142 km.  Dit kan nie van ds Manasse verwag word om dit altyd met sy eie motor te doen, soos dit tans die geval is nie.
  • Inkope vir die skool word in Tête gedoen wat elke keer ‘n 600 km reis ver is.  Suid-Afrikaanse besoekers wat Hefsiba besoek land ook op Tête en moet gehaal word.

Kruger vertel verder: “Ek is tans gasdosent in teologie en psigologie hier op Hefsiba by die hoofkampus asook kurrikulumkonsulant vir  NetACT.  Ek is beïndruk met die goeie beheer van alles hier op die kampus – ook die bestuur van hul finansies.”

 

Hefsiba Motorfonds

Ons doen namens Hefsiba ‘n dringende beroep op gemeentes en individue om asseblief ruim by te dra tot die Hefsiba Motorfonds. Skenkings kan gemaak word aan Getuienisaksie. Die bankbesonderhede is as volg:

NG Kerk in SA (Witness)
Nedbank
Takkode: 198 765
Rek. nr: 1135 900 280
Verwysing: Hefsiba Motorfonds

Vir meer inligting kan dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za gekontak word.