Dis altyd goed om te hoor as gemeentes entoesiasties raak oor die werk van die Here buite hul eie grense. So was dit dan vanjaar ook weer die geval met die NG Kerk Kogelberg-gemeente in Kleinmond. Hulle het hul jaarlikse Getuienisfees vanaf 10 tot 12 September gevier met die tema, “Gaan dan … Kom, laat ons gaan.”

Gert Pretorius wat die Getuienisfees-reëlings getref het, vertel: “Die gemeente het al vir meer as 25 jaar die gebruik om op ‘n gepaste manier op sending en die gemeente se getuienistaak te fokus – ‘n geleentheid om almal te herinner aan die werk wat gedoen word deur die 13 sendelinge en sendingorganisasies wat deur ons gemeente ondersteun word.

“Die gasspreker was vanjaar ds Willem Botes van die Strand wat vir 39 jaar saam met sy vrou, Annalie, en hulle vier kinders die Here Jesus se kerk in die Transkei gedien en gelei het.

Die voorsanggroep het die gemeente heerlik laat saamsing met goeie begeleiding en sterk stemme.

“In die week voor die Getuienisfees het vroegoggend-boodskappe na al die lidmate die klem geplaas op die eerste deel van vanjaar se tema, naamlik Jesus se opdrag: ‘Gaan dan …’ In die tweede week is gefokus op ons antwoord daarop: ‘Kom, laat ons gaan …‘ By die drie eredienste op Sondagoggend 10 September, en die drie aandbyeenkomste daarná was hierdie twee dele van die tema die dringende uitnodiging aan en aansporing vir lidmate om ligdraers in die wêreld te wees; getuies van die Here Jesus Christus se verlossing.

In die samesang was lof aan die Here wat sy boodskappers toerus en die gemeente se toewyding aan dié roeping, elke keer merkbaar.

“Die reaksie van lidmate oor wat die Getuienisfees vir hulle beteken het, was aangrypend. Een persoon het gesê: ‘Dit het my laat besin oor geleenthede en mense op my lewenspad teenoor wie ek nie getuig het nie …’ ‘n Ander een het gewonder: ‘Hoeveel mense het al deur my belydenis van geloof in Jesus tot bekering gekom?’ Iemand anders het opnuut besef dat ‘ek die boodskap van verlossing moet oordra as ek by my huis, is, op pad is, opstaan en gaan slaap.’ ‘n Ander een het dit as volg beleef: ‘Die suiwer boodskappe was kragtig en het ons aan die brand gesteek om ligdraers van sy Koningkryk te wees.

Die geleentheid is afgesluit met ‘n seëngebed vir ds Willem en Annalie (met die wit serp), en die sendelinge wat teenwoordig was.

“Daar was ook ander was as volg getuig het: ‘Geen getuienis is so kragtig soos dié van een wat sy lewe aan die Here se sending gewy het nie,’ en ook: ‘Die boodskappe het my weer herinner dat ek net gewillig moet wees; die Here sal aan my die woorde gee en Hy sal die harte van ander daarvoor voorberei.’

“Ten laaste was daar ook iemand wat gesê het: ‘Die byeenkomste het my laat besef daar is geen verskoning waarom ons nie kan getuig nie, want die Heilige Gees sal ons toerus.'”

________________________________________

Dalk wil julle in jul gemeente ook so iets begin? Kontak dan gerus vir Gert Pretorius by gapretorius50@gmail.com vir meer inligting.

*Baie dankie aan Joanne Momsen vir die verskaffing van foto’s.