Geskryf deur ds Petri Coetzee
NG Gemeente Albertinia

 

“Waarom moet ons tog so baie geld spandeer om renosters en skoenlappers wat kan uitsterf te bewaar?”

Die antwoord wat jy dikwels op hierdie vraag kry, is as volg: “Omdat jy andersins die renoster of skoenlapper oor 20 jaar net in dieretuine sal vind en nie meer lekker in die veld na hulle kan kyk nie.  Hulle is ons erfenis.”

Wel, daar is baie spesies wat steeds in Suid-Afrika bestaan wat ek persoonlik nog nooit in die veld gesien het nie en waarskynlik ook nooit sal sien nie. Net soos die meeste mense in Suid-Afrika ook nie hulle sal sien nie.  Erfenis gaan oor baie meer as net wat ons kan sien of wat ons weet ons nog het. Die bewaring van spesies lê op ’n heel ander vlak as net om te kan sê ons het nog hierdie of daardie soort en my kinders gaan eendag nog na hulle kan kyk.

 

Die biodiversiteit van die ekosisteem

Verskillende spesies en hulle interaksie met mekaar vorm saam ’n ekosisteem.  Die verskeidenheid en hoeveelheid van spesies in ’n ekosisteem noem ons die biodiversiteit van die ekosisteem.  ’n Algemene reël vir enige ekosisteem is dat hoe groter die biodiversiteit in die sisteem is, hoe minder kwesbaar is die ekosisteem.  Met ander woorde, hoe groter die biodiversiteit van ’n sisteem, hoe beter kan die sisteem herstel na ’n ramp soos droogte; hoe beter is die sisteem dus bestand teen die verandering van omgewingsfaktore of die klimaat.  Ons sou dit ook ’n buffer kon noem.

Biodiversiteit vorm ’n buffer teen verandering van die omgewing.  Hoe meer spesies ons uit ’n ekosisteem haal, hoe kwesbaarder word daardie sisteem om later in mekaar te stort wanneer sekere omgewingsfaktore verander.  Ons is dus al hoe meer besig om die buffer te verswak wanneer ons die biodiversiteit verminder.

Ekosisteme bestaan uit ’n geweldige sensitiewe ewewig tussen die interaksie van spesies met mekaar en hulle omgewing.  Hoe meer daar is, hoe beter bly die ewewig in stand.  Dit geld natuurlik nie net op die vlak vir ons onmiddelike omgewing nie, maar dit geld vir die natuur in haar geheel.  Hoe meer spesies ons uit die totale sisteem haal, hoe meer kwesbaar raak die totale wêreldwye sisteem en hoe gevaarliker raak ’n totale ineenstorting van die ekosisteem waarin ons bly.

Hierdie buffer in die natuur kan ook sy limiete bereik en nie meer verandering teenwerk nie.  Indien die aarde ’n baie beter biodiversiteit as tans gehad het, sou die aarde die klimaatsverandering baie langer kon akkommodeer en geabsorbeer.  Een van die redes waarom ons die geweldige versnelling in koolsuurgasvlakke beleef, is juis te wyte daaraan dat hierdie natuurlike buffer van biodiversiteit nie meer die verandering in die omgewing kan buffer nie.  Ons is nie net besig om meer koolsuurgas vry te stel nie, maar ons het ook oor jare die meganisme om klimaatsverandering teë te werk, verswak deur biodiversiteit te verminder.

 

Die bewaring van elke spesie in ’n ekosisteem is noodsaaklik

Daar is egter ook ’n ander faktor in biodiversiteit wat die bewaring van elke spesie in ’n ekosisteem noodsaaklik maak. Spesies het nie almal ’n gelyke impak op die buffer nie.  Sommige spesies is krities belangrik om die sisteem daar te hou. Wanneer daar soms net een spesie uit die sisteem gehaal word, kan die sisteem aansienlik verander. Die probleem is dat ons tans heeltemal te min inligting besit oor watter spesies watter rol in ’n ekosisteem speel.

Een voorbeeld hiervan is die “bergnooientjie” skoenlapper (aeropetes tulbaghia).  Hierdie skoenlapper is slegs een van ’n paar insekspesies wat rooi kan onderskei.  Baie somerblommende fynbosplantspesies het rooi blomme om die skoenlapper aan te lok om hulle te bestuif.  Indien die skoenlapper sou uitsterf, sal die meeste van die treffende rooiblomplante in die fynbos ook verdwyn, omdat hulle nie meer bestuif sal word nie.

Ons weet ook dat hierdie skoenlappers se larwes, soetgras soos dekgras (hyparrhenia hirta), as voedsel benodig. Hierdie soetgrasse kom in die fynbosbioom net in die meer kleigrond-areas voor soos die renosterveld en laaglande.  Hierdie areas is weer die meer geskikte areas vir landbou.  Net klein areas van die renosterveld is nog nie vir landboudoeleindes gebruik nie. Sonder gesonde lappe laaglandfynbos en renosterveld sal ons dus hierdie baie waardevolle insek verloor. Dit sal die gevolg hê dat baie van die rooiblomplante,  waarvan die meeste bolplante is, sal verdwyn.

Hierdie plante is hoofsaaklik bolplante. Dit is juis hierdie plante wat ’n stabiliserende faktor is teen erosie in die bergfynbos nadat fynbos gebrand het.  Ons weet verder ook nog nie wat die effek op die ander plantegroei sal wees indien baie van die bolplante gaan verdwyn nie, soos byvoorbeeld ten opsigte van die vestiging van indringerplante.  Indringerplante verander oor ’n tydperk die totale ekosisteem en verminder die biodiversiteit.  Verskillende plante het verskillende interaksies met mekaar om die ewewig van ’n sisteem te handhaaf.

 

Die beste erfenis wat ons aan ons kinders kan oordra

Wanneer ons praat oor erfenis vir ons kinders in terme van die bewaring van die natuur, gaan dit nie in die eerste plek om diertjies te kan sien nie, maar gaan dit om die lewe self wat ons aan ons kinders oordra.  Dit gaan daaroor dat ek mense liefhet; dat ek hulle liefhet met die liefde van Christus wat na my toe kom op hierdie aarde.

Met elke spesie wat verdwyn of die oppervlakte van ’n sisteem wat minder word deur nie-natuurlike prosesse, is ons besig om die aarde se buffer te verswak. Party het ’n groter invloed as ander op die buffer, maar dit bly nietemin verswak. So verswak dit die globale buffer oor ’n tydperk van baie jare tot ’n punt waar die buffer nie meer sy werk kan doen nie.

Dan is ons verby die draaipunt (tipping point) en eskaleer die invloed van verandering in die klimaat teen ’n baie hoë tempo en kan die natuur ons nie meer help nie. Die beste erfenis wat ons aan ons kinders kan oordra, is biodiversiteit.  Bewaar so veel as moontlike ekosisteme. Begin in jou eie tuin. Plant inheemse plante, plant ’n verskeidenheid en skep ’n eie ekostelsel in jou tuin.

Dit lyk dalk nie altyd so indrukwekkend en mooi soos die netjiese plantjies in ’n ry en gesnyde grasperke nie, maar dit is ’n stuk erfenis wat jy vir jou kinders los omdat jy hulle liefhet.  Moenie net in terme van individuele spesies dink nie, maar dink in terme van sisteme en diversiteit.

 

Bronne:

 

Cleland, E. E. 201.  Biodiversity and Ecosystem Stability. Nature Education    Knowledge 3(10):14

Esler, KJ, et al. 2014. Fynbos. Ekologie en bestuur. Briza Publications.

Jactel, H. et al. 2005 A test of the biodiversity-stability theory: Meta-analysis of tree species diversity effects on insect pest infestations, and re-examination of responsible factors. Forest Diversity and Function 176, 235–262.

Verified by ExactMetrics