Vlnr: Retha de Jager, Cilla Heymans, Emmelina Gerber, NJ van As, Hennie van Deventer, Okkie Petersen en Frik de Jager

 

“Die tyd wat ons in Makhathini spandeer het, het ons as span oneindig verryk. Ons het meer ontvang as wat ons kon gee.” So vertel dr Hennie van Deventer, een van die lidmate van die NG Kerk Gemeente Wellington-Oos wat vanaf 16 tot 27 September as deel van ‘n uitreikspan na die VGK Makhathini in KwaZulu-Natal was. Die ander lede in die span was Emmelina Gerber, Retha en Frik de Jager, Okkie Petersen, Cilla Heymans en NJ van As.

“Dit was ‘n groot voorreg om te kon help met die opleiding van sorgwerkers en om ‘n klompie vroue te kon touwysmaak met eko-vriendelike naaldwerkvaardighede,” vertel Hennie. “Die werkswinkel oor rentmeesterskap sal hopenlik ook onder leiding van die gemeenteleiers vrugte dra en die Gideon-Bybels wat versprei is, is bedoel as saad wat die Gees sal laat ontkiem op die Here se tyd.

“Die uitdeel van die ‘buckets of love’ aan hulpbehoewendes by KwaNdaba, Bhekabantu en Mbangweni was vir onsself ‘n lewensveranderende ervaring.

“Ons glo die poging om stabiele watervoorsiening te verseker by ds Lucky Kunene se huis sal ook ‘n verskil in hul lewens maak.

“Die houtvloer bo Lunagni se nuwe kantoor behoort ekstra pakplek te voorsien. En ‘n plafon bo sy kop!

“Vir ons was die heel grootste seën egter die tyd wat ons saam met ds Louwrens en Jeanne van der Westhuizen spandeer het. Hulle is vir ons ‘n groot inspirasie! Die manier waarop hulle met mense omgaan, is ‘n refleksie van Jesus se liefde en omgee. Ons dank die Here vir die mense wat hulle is en vir wat hulle doen in die krag van die Gees.”

Kyk ook gerus na die PDF as verslag oor die uitreikspan se besoek daar.

Verified by ExactMetrics