Mama Duma (tweede van regs in blou) en haar groep. Haar mentor, Manqoba Mvelase (by die tafel in geel), help met die afronding van die eerste module van Veritas.

 

“Mama Duma is ‘n landelike lidmaat en kerkraadslid by Mhlumayo,” vertel Lourens Schoeman, koördineerder van Veritas KwaZulu-Natal en verbonde aan die VGK Msinga. “Sy het Veritas se vier basiese modules onder die fasilitering van Manqoba Mvelase, kerkraadslid van dieselfde wykskerkraad van die VGK Msinga, voltooi.

“Mama Mabaso, ook van die VGK Msinga, het die Veritas-togas gemaak wat ons in KZN met sertifikaatoorhandigings gebruik. Sy is ‘n kranige naaldwerkster.

“Mama Duma het so twee maande gelede aangekondig dat sy gereed is om haar eie groep op te lei. Ek moet haar as fasiliteerder oplei en registreer by Veritas. Ons maak toe so.

“Op Vrydag 20 Oktober het ons ‘n afspraak om haar groep te evalueer. Tien deelemers sit in die klein kerkie, onder andere ‘n biskop van ‘n onafhanklike kerk, nog ‘n paar manne en die meerderheid is vroue. Hulle verstaan eksegese. Hulle weet wat hermeneutiek is en hulle het hul preke uitgewerk vanuit die Pauliniese briewe. Hulle wil dadelik met Module 2 begin.

“Hulle droom dat elke kerk in die eMkhumbane-omgewing ‘n lewendige Sondagskool sal hê. Die vroue beplan om die plaaslike skool te gaan besoek, die hoof te gaan bemoedig en vir die matrieks te gaan bid. Dan wil hulle ‘n oop deur kry om met tienermeisies te praat oor vrouwees. ‘Ons moet die kinders weer by die Here uitkry …,’ droom hulle.

“Op haar stil, vriendelike manier fasiliteer mama Duma haar groep se gesprekke. Na die tyd soek sy ook Sondagskoolmateriaal vir die ander kerke: ‘Ons gaan saamwerk om ons kinders vir die Here te wen …’

“‘n Lang, skraal man se gesig straal as hy aanhalings uit Efesiërs 2 voordra en dit spontaan toepas in sy eie lewe. Hy sluit homself soms vir dae toe in sy huis, en bestudeer dan die Bybel. Maak Veritas vir hom sin? ‘Ja,’ sê hy, ‘Nou kan ek die brug tussen die Bybel en die lewe van ons mense hier in Mhlumayo bou.’

“Die biskop, baba (vader) Mabaso, nooi my om na klas na die gemeenskapstuin te kom kyk. Daar is koolkoppe so groot soos sokkerballe. Uie. Spinasie. Ek hoor daarna dat hy met sy eie trekker die land wat die hoofman opsygesit het vir ‘n gemeenskapstuin, kom omploeg het. Hy het die gemeenskap gehelp om die groot tuin te omhein. Hy pomp daagliks met sy petrolpomp water uit die spruit in waterdromme vanwaar elke tuintjie se eienaar water kan skep om hul eie tuin te versorg. In die tuin werk arm vroue. Elkeen maak ‘n bietjie ekstra kos vir hul gesinne.

“Ek sȇ vir baba Mabaso: ‘Hierdie is ‘n modelpreek. Dit illustreer God se genade en liefde aan desperate mense.”

“Dis wat die Here aan ‘n mens doen,” sê hy.

“Saam stap ons na sy bakkie toe. Ons praaat oor Veritas vir die jeug, veral vir die manne, om Bybelstudies te begin. Hy praat entoesiasties saam.

“Ek vind in baba Mabaso ‘n broer, ‘n rolmodel. Ek dank die Here vir mense soos baba Mabaso en mama Duma. Mense wat met die Woord in hul gemeenskappe ‘n lig is wat helder ligmaak as dinge donker raak.”

Skakel Lourens Schoeman by lourens@ethembeni.org vir meer inligting.

Verified by ExactMetrics