Jurie en Magdaleen Goosen by Jovin Adjeitey van Ghana tydens die Worldwide International Student Ministry Network-konferensie in Nairobi, Kenia.

 

Ds Jurie Goosen, pas-afgetrede predikant wat die bediening aan buitelandse studente aan die einde van die ‘90s in Suid Afrika en die werk by die Universiteit van Stellenbosch (US)-kampus begin het, is tans op besoek aan Kenia en Tanzanië. Vanaf 1 tot 5 November het hy en sy vrou die wêreldwye konsultasie van internasionale studentebediening leiers in Nairobi bygewoon. Dit het plaasgevind onder die vaandel van die Lausanne Worldwide International Student Ministry Network (WIN).

Jurie vertel: “Afrika het vandag die meeste Christene ter wêreld en sal vir die volgende vyftig jaar die helfte van die hele wêreld se jeug bevolking huisves.. Kenia alleen het tans meer as 55 000 plaaslike Christen studente wat betrokke is by studente aksies op hul kampusse, die grootste Christelike studentebeweging ter wêreld is. Tydens hierdie historiese wêreldwye byeenkoms (WIN) is die realiteite, tendense en geleenthede van internasionale studente bespreek. Daar is vandag meer as 6,3 miljoen internasionale studente wêreldwyd, werklik ‘n groot geleentheid vir die kerk wêreldwyd.

“Die fokus was ook op leemtes en uitdagings van globale internasionale studentebediening en om Oos-Afrika te laat met innoverende idees vir die toekoms. Een doelwit was die vorming van ‘n Pan-Afrikaanse internasionale studentebediening netwerk vir Afrika. Tydens die konferensie het ons uit Handelinge gelees, wat ‘n rykdom van Gees-geleide diaspora-missiologie en interkulturele bediening bevat.”

Jurie en sy vrou Magdaleen gebruik die geleentheid om saam met hul seun, Philip – elektroniese ingenieur, na hul besoek aan Nairobi ook US-alumni en oud-lidmate van hul bediening op Stellenbosch in Mombasa en Dar es Salaam te gaan besoek. Jurie het ook die voorreg gehad om Sondag 12 November by die Universiteit van Dar es Salaam se kapel te preek tydens die Engelse diens. Hulle kon ook die Swahili diens op kampus bywoon en die geleentheid gebruik om predikante, professors en studente aan te moedig om die Evangelie uit te dra op die kampus.

Dit is vir die Goosens ‘n groot vreugde om met soveel hartlikheid deur hul oud-lidmate ontvang te kon word – hierdie mense wat destyds ‘n geestelike tuiste by dié internasionale eredienste in Stellenbosch kon vind en so ver van hul lande en familie in die Goosen geestelike ‘ouers’ kon vind. In hul studiejare is daar besondere vriendskapsbande met die Goosens as Christen-geesgenote gesmee.

Dit is vir die Goosens so verblydend om nou te ervaar dat hierdie alumni nou in strategiese leierskapposisies in Oos-Afrika aangestel is en as Christene kosbare werk verrig. Baie van hulle is nou dosente in Kenia en Tanzanië.

 

V.l.n.r. agter: Dr Susan Nyaga (PhD in Linguistiek), haar dogter Emani, dr Zephaniah Birech (PhD in Laser fisika). V.l.n.r.. voor: Magdaleen en Jurie Goosen, mnr Tobias Omondi Obondo (MIng in Chemiese Ingenieurswese en dr Barnabé Anzuruni Msabah (PhD in Teologie)

 

Dr Barnabé Anzuruni Msabah (PhD in Teologie) is tans Tearfund se streeks koördineerder vir Kerk- en Gemeenskap transformasie in Oos- en Sentraal-Afrika en streeks koördineerder van TNE (Theology and Network Engagement) Oos- en Sentraal-Afrika en Suid- en Oos-Afrika. Hy doseer teologie en ontwikkeling aan die Pan Africa Christian University, Nairobi, Kenia.

Dr Susan Karigu Nyaga (PhD Linguistiek) werk tans as ‘n senior geletterdheid- en onderwys konsultant vir Afrika Sub-Sahara by SIL International. Sy is baie geïnteresseerd in navorsing gebaseerde ontwikkeling en effektiewe implementering van opvoedkundige beleide en praktyke, veral dié wat die grondliggende vroeë kinderopvoeding en -ontwikkeling behels.

Mnr Tobias Omonsi Obono (MIng in Chemiese Ingenieurswese) is tans tutoriaal genoot, chemiese en prosesingenieurswese by die Fakulteit Ingenieurswese en Bou-omgewing aan die Technical University of Kenia.

Dr Zephania Birech (PhD) is tans dosent in fisika aan die Universiteit of Nairobi.

Prof. James is tans die rektor van St. Paul ’s University in Kenia.

 

Die Goosens op besoek aan huis van prof. James en Pamela Kombo in Nairobi.

Jurie het in Januarie vanjaar demissie ontvang van Helderberg-gemeente. Ds Tyler Helfers en sy vrou Christina van die Christian Reformed Church of North America het die leierskap van die gemeente (Stellenbosch International Fellowship – Engelse diens van Moederkerk Stellenbosch) oorgeneem.

Magdaleen is steeds voltyds in diens van die NG Moederkerk, ‘n geloofsbediening, en saam met  Jurie ondersteun hulle die leierskap van die kerk. Hulle ryk ook uit op kampus na studente van geslote lande wat soekende is, maar nie noodwendig na ‘n kerkdiens sal kom nie. Verder is hulle ook betrokke by ondersteuning aan studente wat na ander lande aanbeweeg en die voorbereiding van Suid-Afrikaanse studente wat in ander lande gaan studeer met die oog op die uitdra van die evangelie.