Dr Daniël de Wet stel AnnaMarie de Klerk se boek, Extending hope to women, bekend.
Dit was vir Getuienisaksie se Taakspan Afrika Ekumene op Woensdagoggend 8 November weer ‘n groot voorreg om die jaarlikse waarderingstee vir oud-sendelinge te kon aanbied; ‘n hoogtepunt op ons jaarkalender.
Ons het enorme waardering vir die Koninkrykswerk wat deur hierdie groep oud-sendelinge gedoen is in lande soos Malawi, Mosambiek en Zimbabwe, met wie se kerkleiers ons steeds stewige bande het en bestuur word deur dr Daniël de Wet.
Vanjaar was ons weer ‘n lekker groot groep bymekaar waartydens daar opnuut bande opgetel is met ou vriende wat mekaar in jare nie gesien het nie en daar is na die tyd heerlik saam gekuier.
Dis ook nie aldag dat jy die drie afgelope taakspanbestuurders (voorheen sendingsekretaris genoem) saam afgeneem kry nie.
By gister se byeenkoms was prof Martin Pauw, opgevolg deur dr Kobus Odendaal in 2007, opgevolg deur dr Daniël de Wet in 2021 by die Waarderingstee. Wat ‘n voorreg om hulle aldrie teenwoordig te kon hê.Ook hul ondersteuningspersoneel van destyds tot vandag toe was teenwoordig.
V.l.n.r.: Kobus Odendaal, Martin Pauw en Daniël de Wet
Tydens die program het dr Daniël de Wet die boek wat AnnaMarie de Klerk oor Ednes Nansani Kagundu in Malawi geskryf het, “Extending hope to women”, aan die gaste bekendgestel. Dit was merkwaardig om te hoor hoe dié boek alreeds tot soveel seën in Malawi is.
Jaco Botha, voorsitter van ons Taakspan Afrika Ekumene, het meer vertel oor sy navorsingstudie oor uitreike en het verduidelik waarom hy eintlik eerder graag van ‘inreike’ praat. Hy verduidelik: “Die NG Kerk het ‘n baie ryk kultuur en geskiedenis van uitreik. Hierdie praktyk word deur baie gemeentes gebruik om hulle missionale roeping uit te leef. Dit is egter wêreldwyd die geval dat uitreike bitter min bestudeer word. Die verskillende maniere van uitreik, die metodiek, die motiverings en al die aspekte is elemente waarvan ons min weet; oor hoe gemeentes dit doen. Bykomend is daar min tot geen navorsing wat toon watter langtermyn impak NG Kerkgemeentes se uitreike op plaaslike gemeenskappe het nie. Laastens is daar geen navorsing oor wat uitreike doen aan die NG Kerk se lidmate wat op uitreike gaan nie. Dit is waaroor my navorsing tans gaan.”
Dit was vir Getuienisaksie ook weer eens ‘n groot voorreg om die CLF (Christelike Lektuurfonds) by ons byeenkoms te kon verwelkom.
Berlise Louwrens, bemarkingsbestuurder van hul hoofkantoor in Wellington was teenwoordig met ‘n lieflike klompie boeke, spesiaal uitgesoek met afslag en besonder geskik as Kersgeskenke. Sy het ook vir Anthea Katts, die boekwinkelbestuurder van die nuwe CLF-tak (die vyfde een landswyd!) wat binnekort in Durbanville open, saamgebring en aan die groep bekendgestel. Getuienisaksie wens CLF alles van die beste toe. Dis ook baie goeie nuus dat ons nou sommer hier in die noordelike voorstede van Kaapstad ook ‘n CLF-winkel het.
Anthea Katts (heel links) en Berlise Louwrens (2de van regs) by hul CLF-stalletjie
‘n Groot DANKIE aan veral Mickey Bouwer wat alles so vlot agter die skerms laat verloop het. Die ander staatmakers in die kantoor is natuurlik Leoné Prinsloo en Hylie Enslin. Dr Daniël de Wet is die taakspanbestuurder.

V.l.n.r: Hylie Enslin, Leoné Prinsloo en Mickey Bouwer