Dr Daniël de Wet hier saam met di Evans Majoni, Paul Chaombwa en Arnold Saka

 

Op 7 November het dr Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Afrika Ekumene, met drie nagraadse teologiestudente van ons susterskerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode, wat aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, vergader.

Hulle is di Evans Majoni, Paul Chaombwa en Arnold Saka.

Ds Evans Majoni is nou al vir twee jaar verbonde aan die CCAP Mwala-gemeente en tans besig met sy MTh in ekklesiologie, gereformeerde en moderne kerkgeskiedenis. Hy is nou by die gedeelte waar hy navorsing doen oor hoe die CCAP Nkhoma Sinode finansiële onafhanklikheid kan bereik.

Ds Paul Chaombwa is verbonde aan die CCAP Malowa-gemeente en is tans besig met sy nagraadse diploma in praktiese teologie en gemeenskapsontwikkeling. Hy beplan om dit volgende jaar te voltooi. Daarna wil hy met sy MTh in praktiese teologie en gemeenskapsontwikkeling begin.

Ds Arnold Saka is predikant van die CCAP Dowa-gemeente en besig met sy MTh in praktiese teologie en gemeenskapsontwikkeling. Hy het so pas al sy eksamens voltooi en is byna klaar met sy tesis. Hy beplan om dit tussen Februarie en Maart in te dien sodat hy sy graad aan die einde van 2024 kan verwerf.

Mag hierdie studies uiteindelik tot groot seën vir die kerk in Malawi wees. Mag hierdie drie predikante hul insigte en kennis tot eer van Christus se plan vir Malawi aanwend.

______________________________

Kontak dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting

 

 

 

Verified by ExactMetrics