Ds João Herbath Kachemue (heel links) algemene sekretaris van die Thumbine Sinode en ‘n groepie predikante tydens die opleiding.

 

Vanaf 20 tot 24 November is daar twintig leraars van ons susterskerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) se Thumbine Sinode, op Milange (geleë in die Zambesia Provinsie Mosambiek) deur Veritas College-opleiding bemagtig. Hulle is as as Module 2-fasiliteerders van Veritas College opgelei.

Die opleiding is gefasiliteer deur dr Davidson Chifungo, ds Johane Kumadzi en ds Riaan Terblanche, organiseerder van Veritas College Mosambiek, gestasioneer in Tête.

Die 20 leraars van die IRM Thumbine Sinode wat opgelei is. Voor links sit een van die opleiers, ds Johane Kumadzi.

 

Riaan vertel: “Die doel van die Veritas College-opleiding is nie bloot om kennis oor te dra nie, maar is ook gerig op die impak wat die evangelie van Jesus Christus deur die Woord op die lewens van mense en families in Mosambiek het.

“Ds Matunda, die assessor van die Thumbine Sinode het getuig dat God hom deur die opleiding bemoedig het. Hy getuig dat heelwat van die tien deelnemers wat hy opgelei het, die Here Jesus as hul persoonlike Redder aangeneem het.

“Een van hulle het bely dat hy betrokke was by toordery, en dat hy na sy bekering vir ds Matunda na sy huis genooi het om te bid, en toe het hy al die toorgoed verbrand.

“‘n Ander leraar, ds Uarica, het getuig dat die opleiding wat saam met ander denominasies gedoen is, ‘n nuwe eenheid in Christus tussen die kerke tot stand gebring het.

“Ons prys die Here vir hierdie ingrypende verandering wat deur die opleiding van lidmate ontstaan het.

“Ons is baie dankbaar vir Getuienisaksie van die Kaapland Sinode wat ‘n groot bydrae met die borg van hierdie opleiding gemaak het. Ons prys die Here vir die NG Kerk wat wat in hierdie afgeleë deel van Afrika uitreik met God se Woord!”

Kontak dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting