Op besoek aan die Liazi-gemeente verlede jaar.

 

Dalk koester jy al lankal die begeerte om saam met ds Danie Murray van die Handevat-bediening (NG Kerk Proteahoogte) Mosambiek te gaan besoek; om saam met ons mede-gelowiges daar in ‘n grasdakkerkie te aanbid; om saam met Danie te ervaar hoe die Lig van Christus in iemand se lewe deurbreek; om die uitdagings en ook opwinding van kerkwees in Mosambiek eerstehands te ervaar.

Die goeie nuus is dat Danie binnekort weer op pad is na ons susterkerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) . Hy vertrek voorlopig vanuit die Kaap op Dinsdag 27 Februarie en sal weer terug wees op Woensdag 27 Maart.

Danie laat weet: “Die doelwitte van my besoek sal onder andere insluit ‘n besoek van die uitreikbestuurder van die NG Kerk Helderberg, Melanie Smit. Hulle het tot dusver die Geletterdheidsbediening in Mosambiek ondersteun. Ek kry haar op die grens tussen Malawi en Mosambiek; sy vlieg die oggend vanaf Johannesburg na Blantyre, Malawi. Ons sal dan gesprekke voer oor dié bediening, aangesien dit van hulle kant af nou afgesluit word en dit selfstandig verder deur die IRM bestuur sal word. In hierdie tyd sal ons dan ook skooltjies saam met die kerkleiers van Mosambiek besoek sodat die uitreikbestuurder ‘n ervaring kan hê van die omgewing en die werk wat tot dusver daar gedoen is en wat vir die toekoms beplan word.

“Daar sal ook in dié tyd ‘n paar sake met die IRM Tumbine Sinodeleiers deurgepraat word. Die sinodeleiers bepaal watter areas besoek moet word. Een van die plekke is die Lugela-gemeente waar ons program met die laaste besoek nie uitgewerk het nie, asook nog ‘n paar ander besoekpunte. Die besoeke duur gemiddeld so twee dae op ‘n plek.”

Kom saam!

“Een van Handevat se doelwitte is om vir mense ‘n ervaring te gee van die werk wat in Mosambiek gedoen word, want ons glo vas dat God ons geroep het vir Afrika,” vertel Danie. “Al is jy nie fisies in Mosambiek betrokke nie, probeer ons altyd om enige persoon wat ‘n hart vir die werk het en so ‘n roeping deel, hierdie blootstelling te gee.

“Daar is plek vir een of twee persone in my bakkie en die kostes beloop ongeveer R4 000 vir verblyf, etes, en so meer langs die pad en in Mosambiek. Belangstellendes sal moet kan inval by die program, hoe dit ookal uitdraai. Dit verg aanpasbaarheid. Ons eet ook meestal aan huis van die Mosambiekers en gebruik hul fasiliteite.Hulle is hartlike mense en ons word gewoonlik met ope arms ontvang.

“Hierdie blootstelling gaan jou verander; jy sal vir seker as ‘n ander mens terugkom.

“Ek glo werklik dat die Here nog sendelinge na Mosambiek wil stuur, al word dit dalk nie op dieselfde patrone gedoen nie. Kom deel dus die roeping en geloof in afhanklikheid van wat God doen en nog in die toekoms wil doen.

“Daar was ook al mense wat met hul eie voertuie saamgekom het, wat natuurlik ook ‘n moontlikheid is.”

 

Kontak

Danie Murray: danie@handevat.com