“My Race4Grace-doelwit was om R100 000 (R1 000 per kilometer) ten bate van die Henry Murray Gedenkfonds (voorheen die Morgenster Noodfonds genoem) in te samel waaruit broodnodige skoolfooie vir weeskinders in Zimbabwe betaal kan word. Danksy tientalle borge en donateurs kon ons die verrassende bedrag van R150 000 insamel!” So vertel Sanja Steyn, dogter van Henry en Susan Murray en tans boervrou in die Darling-distrik. Die Murrays was jarelank op Morgenstersendingstasie in Zimbabwe by die opleiding van teologiestudente en hul vroue betrokke en was ook die stigters van die Morgenster Noodfonds.

__________________________________

Kyk jy na die lys van die 18 name op die lys van die Henry Murray Gedenkfondsprojek vir 2024, lees jy ook ‘n kort opsomming van elkeen se omstandighede. Hier is vier van hulle s’n: “Alia has faced the tragic loss of both her parents and currently resides with her elderly grandmother. The financial burden of school fees weighs heavily on her shoulders, as her grandmother is advanced in age and unable to work. Similarly, Florence has experienced the loss of her parents and now resides with her grandmother in the village. Unfortunately, her grandmother, a housewife, is unable to afford the necessary school fees. In Tadiwa’s case, both parents have passed away, and the child is under the care of his aunt. Regrettably, the aunt faces financial hardships, as she is not employed, making it challenging to meet Tadiwa’s educational expenses. Clever, too, has lost both parents and relies on his maternal grandmother for support. However, his grandmother is elderly and ailing, adding to the difficulties they face in meeting Clever’s educational needs.”

Sonder finansiële ondersteuning het hierdie kinders geen hoop op ‘n toekoms met skolastiese opleiding nie. Danksy Race4Grace se onontbeerlike bydrae tot die Henry Murray Gedenkfonds, sal hierdie kinders se skoolfooie en nog meer vir die jaar uit hierdie broodnodige fonds gedek kan word. Die fooie dek, buiten skoolfooie, ook administratiewe koste en skryfbehoeftes (teksboeke en oefening boeke en ‘n paar penne), met ander woorde in totaal borg die fonds ‘n kind op laerskool tussen R1 800 – R2 200 (afhangende van die skool) en R3 000 vir ‘n kind op sekondêre skool per termyn.

 

Sanja, vertel ons meer van Race4Grace.

“Race4Grace het in 2011 ontstaan omdat ek my passie vir sport wou inspan vir ‘n groter doel, naamlik om ‘n geskenk van hoop (grace) aan behoeftige mense te kan gee. As gebore Zimbabwiër het ek ‘n sagte plekkie vir my geboorteland en het ‘n vorige jaar via Race4Grace fondse ingesamel vir Bybelverspreiding in tronke in Zimbabwe.

“Na die sukses daarvan het ek besef dat meer sulke projekte moontlik was en in 2023 het Race4Grace hande gevat met die Henry Murray Gedenkfonds op Morgenster om te help met skoolfooie vir weeskinders in Zimbabwe. Ons word immers uitgedaag deur Jakobus 1:27 wat sê: ‘Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan …’ In November 2023 het ek toe die uitmergelende 100km SkyRun-bergwedloop in 26 uur in die Witteberge naby die grens van Lesotho voltooi en daarmee die R150 000 ingesamel.”

Sanja reg vir die SkyRun!

 

Susan, jy is die ma van Sanja en het destyds saam met jou man, Henry, die Morgenster Noodfonds, nou die Henry Murray Gedenkfonds, in die lewe geroep. Vertel ons meer daarvan.

“Dié fonds is vyftien jaar gelede in die lewe geroep. Die doel daarvan was om hulp te verleen aan gemeentes van ons susterskerk, die Reformed Church in Zimbabwe (RCZ),  en aan instansies en projekte op en rondom Morgenster soos die hospitaal, die Murray Teologiese Kweekskool, die onderwyskollege, die skole vir Dowes (op Morgenster) en Blindes (op Copota), ensovoorts.

“Alhoewel die fondse na my man, Henry, se afsterwe in Augustus 2014 en my verhuising na Suid-Afrika in Oktober 2016 baie gekrimp het, kon ons gelukkig nog voortgaan met hulpverlening.

“Een van die projekte wat uit die Henry Murray Gedenkfonds ondersteun word, is die diakonale skoolfondsprojek vir weeskinders onder toesig van die RCZ Morgenster-gemeente. Toe ek einde-2016 van Morgenster weg is, was daar 60 kinders op die lys waarvan 55 steeds oor die afgelope ses jaar gehelp kon word om hul basiese sekondêre opleiding (Cambridge O-vlak, gelykstaande aan Graad 11 in ons skole) te voltooi; ‘n merkwaardige mylpaal!

“Aan die begin van hierdie jaar is daar nou slegs vyf van die 60 begunstigdes oor. Mnr Sam Matindike wat die fonds namens die RCZ Morgenster se kerkraad (sonder enige vergoeding) bestuur, is baie toegewyd en noukeurig. Hy het ook persoonlik goeie kontak met elke skoolhoof en bepleit ons saak wanneer daar gewag word vir beskikbare fondse sodat die kinders nie weggewys word nie. Hy het vir my op ‘n stadium gesê dat dit aanvanklik vir hom net nog ‘n taak was, maar nadat hy op grondvlak die kinders en hul omstandighede leer ken het, het dit vir hom ‘n passie geword.

“Aanvanklik het ons kinders tot op A-vlak (ons Graad-12 plus nog een jaar post-matriek) ondersteun, maar dit het tot gevolg gehad dat hulle dan ook hulp vir hul naskoolse studies aan ‘n universiteit benodig het. Dit is natuurlik iets wat heeltemal buite bereik van die fonds is. Ons het besef dat ons baie meer kinders kan help tot op O-vlak  teenoor slegs enkeles verder.

“Hierdie hulp is natuurlik ‘n druppel in die emmer gesien in die lig van die magdom kinders wat óf wees is (en meestal deur oumas versorg word) óf wie se ouers glad nie die skoolfooie kan bekostig nie. Baie van hulle het nie eens geld vir kos nie en sommige van hierdie weeskinders dien selfs as gesinshoof vir die jonger kinders; die sogenaamde child-headed families.

“Die feit dat daar na ses jaar, slegs vyf kinders op die lys is, beteken nie dat die behoefte en nood minder is nie. Weens beperkte fondse kon die lys tot nou toe nie aangevul word soos kinders stelselmatig klaargemaak het nie.

“Te danke aan die Here se voorsiening en Race4Grace 2023 se ruim bydrae, kan daar nou egter weer nog 16 weeskinders gehelp word deur die Henry Murray Gedenkfonds. Dit sal vir daardie kinders in staat stel om vir die 2024-skooljaar skool toe te kan gaan en ook die nodige skoolklere, eksamenfooie en skryfbehoeftes te ontvang.”

 

Sanja, beplan jy enige ander projekte vir 2024?

“Ja, beslis. Hierdie jaar het afgeskop met ‘n ses weke FIT4FOOD-fiksheidsuitdaging. As ‘n Race4Grace-inisiatief was ‘n persentasie van hierdie inskrywingsfooi aan Race4Grace geskenk om te help met noodsaaklike basiese kosvoorraad aan die weeskinders. Daar sal later vanjaar nog ‘n FIT4FOOD-uitdaging ten bate van Race4Grace plaasvind.”

“My plan is om jaarliks aan ‘n SkyRun-wedren ten bate van Race4Grace deel te neem sodat ons hierdie 16 weeskinders nie net vir een jaar skool toe kan stuur nie, maar vir hulle hele skoolloopbaan!”

 

Hoe kan belangstellendes betrokke raak?

“Bid eerstens saam met ons vir die Here se insig en wysheid. Vat saam met ons hande deur by te dra tot die fonds en neem deel as ‘n Race4Grace-atleet en gebruik jou sportdeelname vir ‘n groter en uiters-verdienstelike doel.”

Vir meer inligting besoek gerus ons webwerf

 

Author