Die vuur trek dreigend oor Ontongskop.

Ds David Botha
Eko-korrespondent

 

Ons nuwe jaar, 2024, het met die volgende nuus begin: “Op rekord sedert 1850 was die jaar 2023 die warmste op aarde nog.” Die tweede helfte van 2023 het omtrent al wat rekord is laat spat. Lees wat die BBC News onder andere hieroor sê: “… 2023 confirmed as world’s hottest year on record.” Die bevindinge waaroor die BBC berig, is onafhanklik bevestig deur nog vier ander organisasies. En die moontlikheid is sterk, sê die BBC, dat 2024 nog warmer gaan wees as 2023.

Ons persoonlike ondervinding van die afgelope twee weke hier in die Wolsley- Tulbaghomgewing is ‘n groot uitroepteken agter hierdie moontlikheid.

Op Maandagnamiddag 22 Januarie het ‘n brand by Kluitjieskraal net buite Wolseley begin. Soos altyd was die Winelands Fire Protection Association (WFPA) en al wat brandbestrydingsvoertuig uit die Tulbagh- en Witzenbergomgewing is op die toneel om te probeer keer dat die brand nie na die Oubiquaberge toe versprei nie. Enige brand wat in Wolseley se omgewing ontstaan, gee vir ons wat hier by Tulbagh se stasie aan die voet van Ontongskop woon ‘n onrustigheid – veral as die suidoosterwind waai.

So ongeveer 13 jaar gelede het ‘n vuur wat ook by Kluitjieskraal begin het, veroorsaak dat almal hier by die stasie uit hulle huise moes vlug. Net soos toe is hierdie vuur ook deur ‘n suidoosterwind aangejaag. 22 Januarie se suidoosterwind was egter in ‘n sterkter klas; dit het ‘n turbo in gehad! Die brandslaners en -bestryders kon nie keer dat die vlamme hulle pad berg toe kry nie. Dit was verstommend hoe vinnig hierdie vuur sy pad oopgebrand het. Ons Waterval Brand WhatsApp-groep was nog nooit voorheen so besig nie. Soos die vuur aangejaag sy pad kry, het die benoudheid op die groep ook toegeneem. Almal wat tussen Wolseley en Tulbagh-weg woon was in die vuur se pad. Die noodoproepe op die groep het al nader aan ons gekom.

Aanvanklik het die brand berglangs gehou. Ons het die skouspel buite vanuit ons tuin dopgehou. Die vuur het in ‘n rivier van vlamme oor Ontongskop gehardloop. Ons was bekommerd oor die paar gesinne wat net onderkant die brandpad teen die berg woon. Genadiglik het die sterk wind verhoed dat die vlamme by hulle laag af teen die berg kon kom. Net toe ons redelik seker was dat die vuur by ons verby gaan jaag, kom daar ‘n baie benoude boodskap op die WhatsApp-groep deur: “Julle, die vuur is op pad na ons huise toe. Kom help!”

Taaibos brand ‘n tweede keer.

Taaibos se mense was baie benoud. Daar was baie hoogsontvlambare uitheemse plantegroei by hulle. Die vuur se gloed het soos ‘n monster al hoër die lug ingeklim suidoos van ons. Die buurman tussen ons en Taaibos se huis het ‘n rietdak. Hy pleit op die groep om hulp om te keer dat hulle rietdak aan die brand slaan. Soos die vuur nader jaag, vlug almal naaste aan die vlamme uit hulle blyplekke uit – met net die noodsaaklikste items ingelaai. So ongeveer om twee-uur die nag merk ek op dat my buurman se veld wat teen ons grond lê aan die brand is. Ek bekyk die dreigende vlamme deur die twee lanings beefwoods wat langs ons grensdrade staan. Skielik was dit glashelder: hierdie vuur is glad nie van plan om by ons verby te jaag nie. Hy kom vir ons!

Ons is deur hulle wat die vorige brand beleef het vroeg reeds aangeraai om ons noodsaaklikste goed solank in ons kar te laai. Ons sluit niks toe nie. Die brandbestryders moet vrye toegang hê. Sekuriteit is skielik totaal onvanpas en onbelangrik. Ons vlug! Dit is egter nie net ons wat vlug nie. Ons een buurman kom maak seker dat niemand van ons in ons huise aan die slaap gevang word deur die vuur nie. Hy klop dringend aan ons voordeur. Buurman vertel dat hy ‘n reuse-pofadder in ons pad gewaar het wat in die bure se tuin skuiling gaan soek het teen die vuur. Almal bel almal en maak seker dat niemand slaap nie.

Ons was van die laastes wat ry. Ons vind ons pad tussen die brandbestryders deur. Ons gaan net ver genoeg ry, sodat ons buite gevaar is. Ons stop sodat ons kan sien waar die vuur is en hoe hy sy pad vind. Die suidoosterwind en hoë temperatuur maak hom honger – baie honger. Taaibos se ruigte en die renosterveld gee genoeg kos. Dit is moelik om te weet of ons huis aan die brand is. Ons huis lê in die middel van al die huise. En die vuur wat voor ons opstaan in die port jacksons word ‘n muur van vlamme wat alles agter hulle onsigbaar maak. Die vuur spring ongehinderd oor die 15m breë teerpad wat na die stasieperon toe loop. Die rook hang dik en rooi oor alles. Die berg is onsigbaar.

My vrou soek my hand. Ons raak altwee bewus daarvan dat ons lywe stokstyf is. Ons spiere weier om te ontspan. Agter die see van vlamme is die meeste van wat ons ons eie noem. En ons weet nie of die vlamme ook al daar uitgekom het nie.

Dit was so skuins voor vyfuur die oggend toe die brandbestryders laat weet dat ons na ons huise kan terugkeer. Ons ry huis toe, terwyl die brand nog kol-kol weerskante van die pad brand en die wind gloeiende takkies en blare oor die pad waai. Ons plek was onaangeraak deur die vuur se vlamme – tog wel deeglik aangeraak deur sy rook, as en roet. Hy het uit brandstof geraak tien meter van ons grensdraad af. Ons buurman het die gras teen die rante van die pad mooi kort gehou.

Die brand en ‘n trein het gelyk by die stasie opgedaag. Die trein het aanvanklik besluit om te stop. Seker in die hoop dat die vuur nie tot by hom sou kom nie. Toe die vlamme egter na hom begin lek, besluit die drywer om liewer so gou moontlik uit die pad te kom. Genadiglik het die vuur teen die treinspoor sy Moses teëgekom. Die vier stelle spore was wyd genoeg om te keer dat die brand die Tulbagh Kwekery bereik.

Ons het ons plekkie afgegee en weer teruggekry.

Voëlvlei se vissershuisies in ligtelaaie. Hierdie is ‘n karavaan.

Nie almal was só gelukkig nie. Die hele gemeenskap van vissers en kampeerders langs die Voëlvleidam het alles verloor. Hulle huisies en ontspanningsaal, waar ons dikwels Natuurbewaring-vergaderings gehou het, is tot as verbrand.

Die brand het vir ‘n hele week lank in ons omgewing voortgeduur om verwoesting te saai. Twee weke later spook hulle nog steeds daarmee in die omgewing van Bainskloof. Uit die lug is dit duidelik sigbaar: die hele Oubiquabergreeks tussen Nuwekloof en Bainskloof is kaal gebrand – ongeveer 25 000 hektaar!

Ons is gewoond daaraan om vure te hê hierdie tyd van die jaar, maar hierdie een was die ergste nog. Buurman wat ook die brand van 13 jaar gelede beleef het, was oortuig: “Hierdie een was tien maal erger!” Die brand se intensiteit is verhoog deur ‘n paar faktore: ‘n woedende suidoostewind en baie hoë dag- en nagtemperature.

Ons het in die twee weke sedert 22 Januarie twee hittegolwe gehad waarvan die tweede een twee agtereenvolgende dae bo 40 grade celcius was. Klimaatsverandering en die gepaardgaande verhoging in temperatuur is nie meer iets wat in die toekoms wag nie. Dit is hier!

 

 

 

Kontak

david p botha
dpbotha2@gmail.com