Wat word van jou as jy nie meer kan werk nie? Dit kan wees as gevolg van verpligte aftrede, siekte of ‘n ernstige ongeluk. As jy jou lewe in diens van die kerk gegee het, behoort daar ‘n pensioenfonds vir predikante te wees. En dis presies wat ds Pieter Botha, pioniersendeling van ons susterskerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM), destyds in die negentigerjare besef het. Daar is kosbare werk agter die skerms gedoen ten bate van talle mense se bestaansbehoeftes in nood waarvan min mense weet. Die Predikantepensioenfonds wat vir die IRM-predikante in 1998 gestig is, het ‘n merkwaardige geskiedenis en het ook so pas ‘n besondere mylpaal behaal danksy toegewyde insette van die Gesamentlike Sendingkommissie vir Mosambiek (GSM) waarvan dr Daniël de Wet by Getuienisaksie die voorsitter is.
__________________________________________
Op 6 en 7 Desember verlede jaar het ons susterkerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM)-leierskap ’n spesiale sakevergadering op Chimoio, hoofstad van die Manica Provinsie, gehou. Die belangrikste saak van bespreking was die moontlike skuif van die IRM se Predikantepensioenfonds vanaf die finansiële diensverskaffer in Suid-Afrika na een in Mosambiek.
Die Gesamentlike Sendingkommissie vir Mosambiek (GSM) het die afgelope jaar baie hard hieraan gewerk; iets waarvoor die IRM baie waardering het. Ons het meer gaan uitvind by ds Giep Louw, administratiewe beampte van dié pensioenfonds tot 2023.

Die GSM vergader in Oktober verlede jaar

Die verteenwoordigers van die drie IRM-sinodes tydens die vergadering. V.l.n.r.: ds João Herbath Kachemue (algemene sekretaris van Tumbine Sinode), ds Samuel Besitala (algemene sekretaris van Mphatso Sinode) en ds Victor Malukekwe (verteenwoordiger van Novo Sinode)
Oom Giep, wat was die motivering vir die onstaan van die IRM se Predikantepensioenfonds in 1998?
“Wanneer ons wil kyk na die redes en die proses hiervan is dit moeilik om dit in isolasie te doen. Die IRM, wat uit drie sinodes bestaan, was ‘n geïntegreerde proses waar ‘n hele aantal unieke persone vanuit verskillende hoeke elkeen ‘n unieke bydrae gelewer het.
“Teen die laat negentigerjare, tydens ‘n vergadering van ‘n Algemene Sinodesitting van die IRM wat in Maputu plaasgevind het, het die moontlikheid van ‘n pensioenfonds vir hul predikante ter sprake gekom. Wyle ds Kobus Koch, eertydse sendingsekretaris van die NG Kerk Wes- en Suid-Kaapland, het by daardie geleentheid voorgestel dat ek versoek sal word om ‘n pensioenfonds vir die IRM te ontwikkel. Na die gesprek in die sinode het iemand aan my ‘n paar dokumente gegee om my op hoogte te bring met wat reeds in hierdie opsig gedoen is.
“Pioniersendeling, ds Pieter Botha, was eintlik die een wat die behoefte aan ‘n pensoenfonds reeds baie vroeër raakgesien en geïnisieer het. Ons kan hom dus die stigter van die IRM Pensioenfonds noem. Hy het nie net daaroor gedroom nie, maar het toe al baie aanvoorwerk in hierdie verband gedoen. Hy het reeds ingeskrewe lede gehad en ook al R500,00 as aanvangskapitaal op belegging vir die pensioenfondslede gehad toe dit amptelik in die lewe geroep is.
“Waar ds Botha met leed en lyding in die kerk te kampe gehad het, het hy dadelik tot aksie oorgegaan. Dit was ‘n uitstaande kenmerk van sy persoonlikheid – op elke terrein in die kerk. Waar daar nood en behoeftes in die kerk was, was hy aktief daarby betrokke. Hy het dus die nood van die IRM-predikante en hul afhanklikes in tye van siektes, ongelukke, en nood in tye van korter – en langer termyn siektes, en in tye van ouderdom raakgesien. Toe hy die nood in die kerk in hierdie opsig beleef het, het hy dadelik begin werk en beplan aan noodverligting. Daar moes fondse en fasiliteite vir die skep van ‘n pensioenfonds gevind word ten einde aan die predikante en hul afhanklikes van ‘n versorging te voorsien; vandaar die reeds-ingeskrewe lede en R500,00 belegging.
“Soos ek die laaste aantal jare by die IRM betrokke was, was daar nie ‘n enkele terrein waar ek dikwels op die mees onverwagte plekke ‘n pragtige en gepaste inset van ds Botha teëgekom het nie. Hy was oral en sy insette altyd gepas. Hy het op die regte plek ‘n inset gelewer wat nie net terloops was nie, maar weldeurdag en dit het kort- en langtermyn denkwyses gestimuleer. Hy was dus in die ware sin van die woord oral besig om noodsaaklike inisiatiewe te neem en te stimuleer. Dit is die kwaliteit mense wat die IRM gehad het en nog steeds het.”

Ds Pieter Botha (links) met ds NA Katunda en sy dogters en kleinkinders.
Hoe het die skepping van die Predikantepensioenfonds verloop?
“Nadat die eerste probleme uit die weg geruim is – gedeeltelik of ten volle – was die volgende stap om die fonds by die IRM se Algemene Sinode goedgekeur te kry. Dit sou plaasvind by die eersvolgende sinodesitting wat op Vila Ulónguè sou plaasvind.
“Om ‘n pensioenfonds te stig, is dit eerstens noodsaaklik om ‘n onderskrywer te vind om die bestuurs- en versekeringsaspekte van die pensioenfonds te hanteer. Mosambiek was ons eerste opsie. Ons eerste uitnodigimg om kwotasies om ‘n onderskrywer na Mosambiek en Suid-Afrika was egter vrugteloos. So was die tweede poging ook vrugteloos.
“Toe ons geen reaksie kry nie het ons Old Mutual genader onder die Orion-opsie. Hulle het met huiwering ingewillig. Binne twee weke het hulle my egter dringend na Kaapstad genooi – net om my mee te deel dat hulle ook nie meer kans sien om vir ons as onderskrywer op tree nie. Daar het baie ernstige gesprekke plaasgevind en later het hulle wel ingewillig.
“Old Mutual het toe alle dokumente van die pensioenfonds op skrif beskikbaar gemaak en dus kon alle benodigde stukke aan die IRM se Algemene Sinode voorgelê word. Dit is breedvoerig bespreek, verduidelik en toe goedgekeur.
“Die IRM Predikantepensioenfonds is op 1 April 1998 te Vila Ulónguè gestig en die drie algemene sekretaresse van die drie sinodes, naamlik Mphatso, Tumbine en Novu, was sleutelfigure in die administrasie daarvan. Hulle was verantwoordelik daarvoor om op grondvlak die volle inhoud en implikasies daarvan met hul onderskeie sinodes te kommunikeer; iets wat van onskatbare waarde was en waarvan die vrugte steeds in die toekoms gepluk sal word.
“Daar is ook groot dankbaarheid aan Old Mutual en hul personeel vir die dienste wat hulle oor al die jare ten opsigte hiervan gelewer het. Hulle insette om ons in ons nood as onderskrywers by te staan, kan ons nooit vergeet nie! Daar was ook die kere wat ek saam met amptenare van Old Mutual na-ure in Kaapstad gewerk het om ‘n konstitusie vir die pensioenfonds op te stel. Dit is later in Engels en Portugees vertaal en aan elke IRM-predikant beskikbaar gestel.
“Ons moes ook tyd bestee aan Binnelandse Inkomste van Suid-Afrika om inkomstebelastingprobleme tussen die twee betrokke lande op te los.”
Wie is almal hierby ingesluit en hoe vind hulle hierby baat?
“Die predikante en hul eggenotes, hul kinders en afhanklikes is by die pensioenfonds ingeluit. Dis nie net by die afsterwe van ‘n leraar wat daar uitbetalings plaasvind nie, maar ook as daar kort- en langtermyn siektes of ongelukke plaasvind wat verhoed dat die persoon verder kan werk.”
Kontak
Dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za.