Dr Martin Barnard (regs) van die NG Kerk Vishoek by die sendelinge wat hulle as gemeente ondersteun, asook van hul oud-sendelinge wat teenwoordig was.

 

Deur Mariëtte Odendaal

Tydens die naweek van 5 tot 7 April het die NG Kerk Vishoek-gemeente hul jaarlikse Geloofsoffernaweek aangebied. Vanjaar was dit egter ‘n besondere vieringsgeleentheid waarheen al hul sendelinge en oud-sendelinge genooi is om die gemeente meer van hul onderskeie bedieninge bewus te maak en veral vir hul sendelinge te kon bedank vir hul besondere bedieninge oor die afgelope 30 jaar.

Ons het meer by die predikant van die gemeente, dr Martin Barnard, gaan uitvind.

 

Martin, wat het julle laat besluit om so ‘n Geloofsofferfeesnaweek te hou?

“Ons bied elke jaar ‘n Geloofsoffernaweek aan wanneer ons sendelinge weer tuis is met hul jaarlikse vakansie. Wat hierdie jaar egter baie spesiaal gemaak het, was die viering van die dertigste jaar van ons gemeente se Geloofsoffer. Die tema van ons Geloofsofferfeesnaweek was 30 JAAR VAN GENADE.

“Ons gemeente het hierdie roeping in 1994 ontvang en van toe af hou ons elke jaar ons Geloofsoffernaweek. Dit is vir ons baie spesiaal dat die Here reeds vir 30 jaar so getrou is dat ons al ons sendelinge tot nou toe kon onderhou en nooit ‘n maand se ondersteuning aan hulle oorgeslaan het nie.”

 

Gemeentelede tydens die Geloofsofferfeesnaweek.

 

Julle ondersteun die bedieninge van ‘n hele paar sendelinge. Vertel ons asseblief meer van hulle.

“Ja, graag. Willie en Elize Botha wat al vanaf 1994 deur ons gemeente as ons sendelinge uitgestuur word, is werksaam by Inserv. As ‘n navorsingsorganisasie help Inserv kerke, sendingorganisasies en ander soortgelyke instansies met inligting, navorsingsopleiding en raadpleging ten opsigte van strategiese beplanning. Sodoende word daar dan doeltreffende sending- en kerkplantingsprogramme op kort – en langtermyn ten bate van kruiskulturele uitreike onder onbereikte mensegroepe in veral, maar nie beperk nie, tot Suider-Afrika ontwikkel. Elize is ook die onderhoof van ‘n plaaslike Christelike hoërskool in Pretoria.

“Neil en Marie Eichstadt word ook deur ons gemeente ondersteun. Neil werk meestal in Tanzanië en is betrokke by Mobile Mission Maintenance (MMM). Dit het in 1975 begin toe MMM gestig is om praktiese ondersteuning aan geïsoleerde sendingwerkers in afgeleë gebiede van Australië te bied. Neil se vrou, Marie, is al jare betrokke by Participate. Envision. Navigate. (PEN) ‘n inklusiewe, geloofsgebaseerde organisasie wat individue help om uit die sirkel van armoede te ontsnap en sodoende ‘n Suid-Afrika te bou waar almal ‘n regmatige plek het. Hulle werk onder andere met vroue wat hulleself in prostitusie bevind, vroeëkindontwikkeling en opheffingswerk in die breë.

 

Lidmate vind meer uit oor die verskillende sendingbedieninge wat deur hul gemeente ondersteun word.

 

“Ons gemeente ondersteun ook vir Petro Strydom in Fraserburg met sy Kambro-bediening. Hier werk hulle weekliks met ongeveer tagtig laer- en hoërskoolleerders.

“Heri en Sonia Ramanantsialonina se bediening word ook deur ons gemeente ondersteun. Heri is die hoof van Youth with a Mission (YWAM) Madagaskar en die eilande wat Madagaskar omring. Sy vrou, Sonia, is ‘n maatskaplike werker en werksaam in Muizenberg waar sy werk met vroue wat in vrouehandel vasgevang is. Heri en Sonia beplan om volgende jaar weer voltyds terug te keer na Madagaskar.

“Wolf en Wenda Cilliers is ook in Madagaskar betrokke waar hulle al dekades lank bedien. Hulle hooffokus is kerkplanting en daar is alreeds ‘n hele paar kerkplantingspanne van hulle in Madagaskar betrokke.

“Sharon Roux is betrokke by die sendingorganisasie, Africa to Asia Innovative Ministries (Ataim) in Beaufort-Wes. Hulle bestaan sedert die begin van die 2000’s en gebruik korttermynspanne om die Here te dien deur sy mense te dien.”

 

Martin, watter oud-sendelinge het nog belang by julle getuieniswerk wat ook by die fees teenwoordig was?

“Dit was wonderlik om van ons oud-sendelinge asook al ons oud-sendelingvoogde by die naweek se feesvieringe te kon hê.

“Cobus Oosthuizen van Lifexchange, ‘n nie-winsgewende organisasie, kon ook saam met ons kuier. Een deel van Lifexchange is steeds besig met mentorskapsopleiding vir die youth at risk waar hulle met bendelede in Oceanview, Mitchells Plain, ensovoorts werk.

“Theunis en Magda Scheepers, wat baie betrokke was by kursusse soos onder andere, Walking with wounded children, was ook daar. So ook Elize en Louwtjie Oosthuizen wat die Kambro-bediening in Fraserburg begin het en steeds op ‘n afstand as direkteure daarby betrokke is. André Nortjé wat in die vroeë 2000’s ‘n sendeling in die Midde-Ooste  was, was ook teenwoordig.

 

Dr Daniël de Wet vertel meer van ons susterskerke in Afrika tydens die Geloofsofferfeesnaweek

 

Dr Daniël de Wet van Getuienisaksie het die Vrydagaand as spreker opgetree. Van watter betekenis was sy boodskap vir julle gemeente?

“Daniël het vertel van die ekumeniese vennootskapswerk wat hy namens ons NG Kerk, die VGK en die RCA van Getuienisaksie as eenheidsbediening in Afrika doen.

“Dit was vir ons gemeentelede baie goed om te hoor wat alles in ons susterskerke in die res van Afrika aan die gebeur is. Daniël het ons gemeente daaraan herinner dat Getuienisaksie se sendingondersteuning ook die ondersteuning van ons gemeentelede is, want ons gee bydraes daarvoor by wyse van eweredige bydraes.”

 

Saterdag het julle na die verhale van sendelinge geluister. Wat was die algemene vreugdes en uitdagings wat hulle met julle gedeel het?

“Sjoe, daar is baie! Daar was amper drie ure van gesprekke en deel na aanleiding van die drie gespreksvrae wat ek voorgestel het, naamlik: Wat is die grootste uitdagings wat jy hierdie jaar as sendeling ervaar het? Soms kan dit moeilik gaan in die sendingveld; wat gee vir jou die moed en energie om voort te gaan as sendeling? Vertel ons van ‘n vreemde of moeilike situasie waarin jy jouself bevind het met betrekking tot jou sendingwerk.

“As ek dit moet opsom, dan is ons sendelinge se grootste uitdaging om emosioneel na hulleself om te sien. Daar is soveel verwagtinge van almal, maar wat doen hulle vir self-care? Daar is vele uitdagings, hetsy burokrasie, druk wat op hulle toegepas word wat keer dat hulle hul werk gefokusd kan doen, middele wat nie altyd beskikbaar is nie en natuurlik ook finansiële uitdagings. Vir diegene wat met skoolkinders werk, is die grootste uitdaging maar dwelmmisbruik en afwesige ouers.

“Vir die sendelinge is hierdie tyd ‘n huis-toe-kom ervaring. Hier kan hulle net hulleself wees en nuwe energie en krag vind; hulle getuig daarvan. Heelwat van hulle het by die Bybelinstituut in Kalkbaai gestudeer en word teologies hier onderlê. Hulle raak by ons gemeente betrokke en dan stuur ons hulle uit. Drie van hierdie sendelingpare is al vir 30 jaar ons sendelinge.”

 

“Die oorvloed van God se genade”, die tema van die Geloofsofferfeesnaweek.

 

Daniël het ook die Sondag gepreek. Wat was die kern van sy boodskap?

“Daniël het veral aangesluit by ons hooftema wat gehandel het oor genade. Die tema van sy preek was juis Die oorvloed van God se genade. Die Gees van die Here voorsien dat daar waar andere 30 jaar gelede met die Geloofsoffer begin het, God enduit getrou is dat ons vandag hierdie mylpaal kan vier.

“Mag ons ook weet dat die Here ons almal as sendelinge geroep het. Wat vir ons op aarde sin gee, is om God se roeping vir jou lewe uit te leef.”

 

Daar is die Sondag ook geloofsoffers heringestel. Vertel meer.

“Ons geloofsoffers word jaarliks tydens ons Geloofsoffernaweek heringestel. Dit beteken dat ons lidmate hulle opnuut aan geloofsoffers vir die jaar verbind.

“Normaalweg laat ons een van ons sendelinge self preek. As gevolg van ons 30 jaar-feesviering het ons dit vanjaar so effe anders gedoen om dit ‘n groter feeskarakter te gee.

“Vrydagaand het die gemeente almal saam by ‘n fees-ete gekuier waar Daniël aan die woord was. Saterdag was dit net die sendelingvoogde saam met die Getuieniskommissie asook al die sendelinge wat intiem met mekaar kon deel.

“Sondag was die geloofsofferherinstelling. Daniël het gepreek, ek het die geloofsofferherinstelling hanteer en ons kon tydens die erediens aan elke sendeling ‘n geskenk oorhandig en hulle weer uitstuur.

“Daarna het ons in die saal gekuier en worsbroodjies geëet. Die sendelinge het elkeen ‘n tafel beman en die gemeentelede kon ‘n bietjie saam met hulle kuier en vrae oor hul bediening vra.

 

Wat was die waarde van hierdie Geloofsofferfeesnaweek vir julle as gemeente? 

“Dit was van groot waarde. Hier vertel drie van ons gemeentelede in hul eie woorde wat dit vir hulle beteken het: ‘Dit is belangrik om kontak te bewerkstellig met die sendelinge en die gemeentelede. Daarom probeer ons doelbewus hierdie verhouding bou. ‘n Gemeente skuif demografies en daarom moet ons voortdurend hard daaraan werk om daardie verhouding op en uit te bou.’

“Nog een getuig: ‘Dit was goed dat die gemeente gehoor het van die aanvanklike roeping van die persone wat 30 jaar gelede met die geloofsoffer begin het. Daardie roeping leef na 30 jaar nog sterk in die harte van ons gemeentelede, naamlik om voort te gaan met die geloofsoffer.’

“‘n Derde lidmaat vertel: ‘Ons almal is opnuut geïnspireer om ook ons roeping op te neem en dit voluit te leef; nie net die sendelinge nie.'”

_____________________________

 

Kontak dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za of dr Martin Barnard by martin@ngvishoek.co.za vir meer inligting.