Gemeentelede van Guro voor hul kerkgebou nadat hul kerkdak opgesit is.
______________________
“Dit is nie genoeg dat jy vir My ‘n dienskneg is om die stamme van Jakob op te rig nie. Ek gee jou as ‘n lig vir nasies, sodat my heil sal strek tot aan die uiteindes van die aarde.” (Jesaja 49:6)
______________________
Dr Hennie van Deventer, voorheen dosent aan die Josophat Mwale Teologiese Instituut (JMTI) van ons susterskerk in Malawi, die CCAP op Nkhoma, is nou as afgetredene ‘n lidmaat van die NG Kerk Wellington-Oos waar hy by hul Getuienisbediening betrokke is. Hy vertel:
“Die Here roep ons om die lig van die evangelie te laat skyn hier in ons eie omgewing. Dis ons eerste prioriteit. Maar dit stop nie hier nie. Dit is nie genoeg nie, sê Jesaja vir die dienskneg van die Here. Ons word ook gestuur na die uiteindes van die aarde.
“Een van die projekte waarby ons gemeente betrokke is, is die Guro-gemeente van ons susterskerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) en geleë in die noordwestelike deel van Mosambiek in ‘n area waar die IRM nog nie juis vastrapplek gekry het nie.
“Dit is danksy die bediening van ds Khoza, ‘n ware pioniersendeling en kerkplanter, dat dié gemeentetjie ontstaan het. Hulle het tans 164 lidmate.
“Wellington-Oos-gemeente is al 25 jaar by ds Khoza betrokke. Aangesien Guro nie ‘n plek is waar ons self maklik gaan uitkom nie, kan ons ds Khoza egter vanuit Wellington-Oos ondersteun om die Goeie Nuus na die uithoeke van Afrika te help versprei.

Die Guro-gemeente tydens ‘n erediens in hul eerste kerkgeboutjie met die grasdak.
“Tot aan die begin van Januarie vanjaar was hulle bymekaarkomplek ‘n grasafdakkie. Maar vanselfsprekend begeer hulle ‘n stewiger kerkie.
“Hulle het nie sit en wag vir ander om die werk vir hulle te kom doen nie, maar het self inspring en stene begin maak, fondamente gelê, ‘n staalversterkte betonstruktuur opgerig en aan hul nuwe kerk begin bou.
“Maar in ‘n gemeenskap van uiterste armoede is daar eenvoudig nie fondse om die kerkie se dak te kon voltooi nie. Guro-gemeente kon eenvoudig nie die dak bekostig nie. Volgens hulle begroting sou hulle so ongeveer R26 000 daarvoor nodig hê. En dit is nou waar ons by Wellington-Oos in die prentjie kon kom.
“Ons gemeente het toe besluit om aan die begin van vanjaar ‘n projek aan te pak om dit vir hulle moontlik te help maak. Ons het Getuienisaksie se taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, dr Daniël de Wet, genooi om op 28 Januarie hier te kom preek en daarna ons gemeente uitgedaag om vir Guro se kerkdak bydraes te maak.
“Ons was ‘n bietjie kleingelowig en het gedink dit sal ons dalk ‘n paar maande vat om die geld in te samel. Ons was egter stomgeslaan toe ons lidmate binne twee weke ‘n bedrag van R19 000 tot hierdie projek bygedra het! Die Getuienisaksiekantoor het toe R8 000 bygesit en ons kon in Februarie aan Guro-gemeente die bedrag van R27 000 oorplaas.

Die gemeente het self ingespring om hul kerkgebou te begin bou.

Die Guro-kerkgebou met sy splinternuwe dak.
“Die oorplasing het ‘n paar weke geneem om by hulle uit te kom, maar toe hulle die geld teen middel-Maart ontvang, het hulle binne twee weke die dak voltooi! Vir my gevoel is dit so min of meer ‘n wonderwerk. En ds Khoza het verslag gegee oor elke sent wat ons vir hulle gestuur het.
“Die hele projek was vir ons ‘n baie positiewe ervaring. Dit het ook ons gemeente laat besef dat mense bereid is om te gee as hulle ‘n duidelike prentjie van die behoefte kry.”
Kyk gerus na hierdie video wat op 28 Januarie in die NG Kerk Wellington-Oos vertoon is HIER.
________________________
Vir meer inligting kan dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za of dr Hennie van Deventer by hennie.malawi@gmail.com gekontak word.
