V.l.n.r.: Manqoba Mvelase, ds Samuel Zuma en Khanyisane Mbatha tydens hul onlangse besoek aan die Wes-Kaap.

 

“My droom vir die kerk, veral ten opsigte van vennootskappe, is dat ons sal besef dat ‘n vennootskap vir ewig hou en nooit ophou nie.”

Ds Braam Coetzee
Bredasdorpgemeente van die NGK en VGK

________________________________________________

 

Vennootskappe is een van die mees effektiewe maniere om as Christus-navolgers van die hele wêreld ‘n baie beter plek te help maak om in te woon. Dit versterk nie net ons energie en positiewe invloed op ons verskillende gemeenskappe nie, maar inspireer ook die vlammetjies van handevat tot gloeiende samewerking wat hoop, vrede en lig bring.

Gemeentes wat al jarelank in so ‘n vennootskap is, is die VGK Msinga in KwaZulu-Natal en die Bredasdorpgemeente van die NGK en VGK. Ds Braam Coetzee, predikant by Bredasdorp vertel: “Dit is danksy mediese studente van die Tygerberg Hospitaal wat jaarliks na Msinga uitgereik het dat ons gemeente daarby betrokke begin raak het. Die studente het ons gemeente in 1991 genader om deel van hul uitreike te raak. Ds Eloff het toe destyds met die uitreike begin en vir twee jaar saam met die studente gegaan waarna die buitepos, Nhalakahle aan ons gemeente toegeken is.

“Dit het oor die jare ontwikkel van ‘n klein uitreik, slegs op Nhalakahle, tot ‘n jaarlikse jeugkamp by Nhalakahle en Tugela. Dit het  werk met vroue en hutbesoeke ingesluit.

“Tans ry ons tydens ons jaarlikse uitreik kinders en vroue van ander buiteposte aan om ook deel te wees van die dag se uitreike. Op hierdie manier bereik ons dan daagliks ongeveer 500 kinders en 90 vroue. Almal kry dan ook daagliks iets te eet en te drink.

“Vanjaar gaan ons die Mhlumayo-gebied ook bedien. Ons beplan om dan die hele gebied waarvoor ds Zuma verantwoordelik is te besoek en te hoor waar ons nog betrokke kan raak.

“Daar was onlangs van die VGK Msinga-kerkleiers op besoek aan ons gemeente hier op Bredasdorp. Ds Samuel Zuma, die Transformers Khanyisane Mbatha in Nhalakahle en Manqoba Mvelase in Mhlumayo was vir drie dae op besoek in Kaapstad en die afgelope Vrydag tot Maandagoggend ons gaste in Bredasdorp.

“Ds Zuma is die leier van die VGK Msinga se kerkraad en die ander twee is medeverantwoordelik vir die leiding in die kerk. Hulle preek elke Sondag, besoek skole en bied dan jeugprogramma daar aan. Hulle doen ook gereeld huisbesoek.

“Van ons gemeentelede getuig as volg oor ons Msinga-medegelowiges se besoek aan ons: ‘Dit was vir ons gemeente baie goed om te sien wie die geestelike leiers in Msinga is vir wie ons nie net jaarliks besoek nie, maar ook deurlopend finansieel ondersteun.  Nog ‘n gemeentelid vertel: ‘Om die gesigte by die uitreik te sit en self by hulle te hoor hoe dit gaan, het my anders laat kyk na ons gemeente se Msinga-uitreik.’ ‘n Ander lidmaat vertel: ‘Om te hoor wat in hul persoonlike lewe aangaan, het my met meer deernis gevul as wat ek gedink het. Ek het nie besef wat al die hindernisse is waarmee hulle daagliks te kampe het nie. Die jongmanne se verhoudings met hul metgeselle het ook uitdagings waarvan ek nie bewus was nie.’

“Ons doelwit met hierdie Msinga-vennootskap is om eerstens die opdrag van die Here weer duidelik uit te spel. Dit is ook om as gemeente meer betrokke te raak by ander gemeentes en ons saamgevoedgde gemeente saam met ander te vier.

“My droom vir die kerk, veral ten opsigte van vennootskappe, is dat ons sal besef dat ‘n vennootskap vir ewig hou en nooit ophou nie.”

____________________________________________

Vir meer inligting kan ds Braam Coetzee by braam@bredasdorpgemeente.co.za of dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za gekontak word.