In die film Lion King verduidelik Mufasa aan sy seun Simba hoe die wêreld werk deur die volgende te sê: “Everything you see exists together, in a delicate balance”. Dit is natuurlik hoe die algemene publiek ook na die natuur en ons eie lewe kyk – alles is in ’n fyn balans wat mooi gebalanseer moet word.
______________________________
Deur ds Petri Coetzee
Groenspanlid
Reeds in 1949 het Aldo Leopold as wetenskaplike begin agterkom dat dit nie ’n baie wetenskaplike manier is om oor die wêreld te dink nie. Hy skryf: “The image commonly employed in conservation education is the balance of nature. For reasons too lengthy to detail here, this figure of speech fails to describe accurately what little we know about the land mechanism.” Daar is gewoonlik rondom balans in die natuur gedink in terme van ’n sisteem wat baie delikaat en kwesbaar is en maklik versteur kan word. Aan die ander kant word daar weer gedink aan ’n sisteem wat so kragtig is dat dit enige versteuring kan teenwerk en terug kan beweeg na die oorspronklike punt van balansering. Die gedagte was dat die natuur ontwikkel het tot ’n bepaalde sisteem en daardie sisteem is in ’n balans wat òf maklik versteur word òf baie moeilik versteur gaan word en vanself weer na die normaal of middelpunt toe sal beweeg.
Vandag praat bitter min wetenskaplikes nog van die natuur as ’n sisteem wat fyn in balans is. Die wetenskap het bewys dat nie een van die twee sienings hierbo oor die fyn balans van die natuur korrek is nie. Die ekosisteem word vandag eerder beskou as ’n dinamiese sisteem wat gedurig besig is om te verander en nie noodwendig die heeltyd na ’n spesifieke punt van balans of ekwilibrium terugbeweeg of probeer handhaaf nie. Reeds in die 1980’s het die ekoloog Steward Pickett gepraat van die vloei van die natuur en term “flux of nature” gebruik. Studies het reeds in die 50’e jare aangetoon dat selfs in afgesonderde woude waar geen menslike interaksie plaasgevind het nie, daar oor ’n relatiewe kort tydperk die verdwyning van sekere voëlspesies en die inkom van ander spesies, plaasgevind het.
Die natuur het wel ’n eie meganisme om faktore soos klimaat en spesie-interaksie en verandering te buffer. Die doel daarvan is egter nie om terug te keer na die oorspronklike toestand nie, maar om in die dinamiese vloei (flux), beter en effektief te kan aanpas by die verandering. Ons sien hierdie dinamika ook byvoorbeeld met grasspesies se reaksie op weidingsdruk. Wanneer die veld oorbewei word, sal meer smaaklike grasspesies oorgeneem word deur minder smaaklike spesies. Die gevolg is dat herbivore dan na ’n ander area beweeg waar meer smaaklike spesies is. Daarna sal die smaaklike spesies weer toeneem. Die samestelling van die veld gaan egter nie dieselfde wees nie. Na erge droogtes het boere aan my vertel dat hulle grasspesies in die veld gekry het wat hulle nog nooit voorheen gesien het nie. Ander smaaklike spesies kry dan ook die kans om te ontkiem en die dinamika en samestelling van die veld verander. Dieselfde gebeur wanneer die veld onderbenut word. Sekere grasspesies wat baie dooie materiaal lewer floreer dan. Dit skep die geleentheid vir ’n veldbrand wat deur weerlig aangesteek kan word. Na die veldbrand kom daar spesies op wat se sade net deur brandskade gestimuleer kan word om te ontkiem. So verander die dinamika van die veld weer eens.
Die natuur is in ’n voortdurende dinamiese veranderende proses. Dit reageer op eksterne faktore soos klimaat, diere-interaksies en ook die mens se handelinge. In hierdie dinamiese proses is die natuur se reaksie om aan te pas. Aanpassing is hoe die natuur bly voortbestaan en oorleef. Sommige ekoloë beweer dat die natuur slegs beskryf kan word in terme van die chaos-teorie, naamlik dat ons nie regtig kan voorspel hoe die natuur se vloei (flux) gaan verloop nie. Ons weet nie hoe gaan die dinamika van die natuur homself uitspeel oor 50 of 100 jaar nie. Ons het nie regtig ’n benul van wat klimaatsverandering vir ons in die toekoms inhou nie. Die eko-sisteem is te kompleks daarvoor. Daar was reeds in ’n dorpie in Kanada ’n klomp inwoners wat siek geword het van ’n longkwaal. Daar is bevind dat dit veroorsaak word deur ’n sekere fungus en die behandeling was geweldig moeilik. Honderde mense is dood. Die verklaring vir die skielike uitbreek van die fungus was dat die spore van die fungus dormant in die grond lê en met die styging in temperatuur en langer droogteperiodes, as gevolg van die verwarming van die aarde, het die spore in die lug beland en is sodoende deur mense ingeasem. Ons het nie ’n benul van die moontlike uitdagings wat aardverwarming vir die mens gaan bring en hoe die natuur daarop gaan reageer nie. Die mens is egter nou besig om hierdie veranderde dinamika van die natuur te versnel en die buffer soos spesiediversiteit wat help met die aanpassingsproses, uit te put. Die veranderinge in die natuur gaan dus vinniger plaasvind en meer drasties wees. Die mens druk hierdie proses in ’n bepaalde rigting.
Waarom is dit so belangrik om te verstaan dat die natuur nie met balans werk nie, maar met ’n dinamiese vloei en die gevolglike aanpassing daarvan? Dit beteken dat die natuur nie op haar eie net weer vanself sal teruggaan na ’n balans nie. Indien ons nou ons koolstofvoetspoor drasties verminder, beteken dit nie dat die aarde weer oor 100 jaar gaan terugkeer na hoe dit was nie. Ons leef soms met ’n rustige naïwiteit dat as ons nou alles reg doen, die aarde weer net haarself sal herstel.
Die aarde gaan nie herstel nie, die aarde gaan aanpas en ’n nuwe normaal vir ons skep. ’n Normaal wat ongelooflike aanpassings van ons gaan vra, meer as wat ons onsself tans kan indink. Die mens sal verder in sekere sisteme moet ingryp indien ons nog iets van die normaal wat ons nou het, wil behou. Dinge soos die uitroei van indringerplante, die doelbewuste bewaring van biodiversiteit, gekontroleerde brande in sekere areas om spesies weer te stimuleer om te ontkiem en die aanplant van bome, die korrekte bestuur van weiveld, die wegbeweeg van die gebruik van fossielbrandstowwe, so sovoorts. As ons nie ingryp nie, gaan die natuur nie vanself terugbeweeg nie.
Die een konstante wet in ekologie is dat alles verander. Die natuur is dinamies en pas aan. God het hierdie ingebore wet van aanpassing daar geplaas. Dit geld ook vir ons. As ons nie nou aanpassings in ons lewenstyl maak nie, sal die natuur ons later dwing om uiterste aanpassings te moet ondergaan. Dit is soos die ys-tydperke wat die aarde beleef het. Die natuur het oorleef deur geweldige aanpassings en veranderende vloei (flux) -rigtings te maak. Die vraag is of ons kan gaan aanpas? In die natuur is dit nie die sterkste wat oorleef nie, maar die een wat die beste kan aanpas, oorleef. Die natuur gaan nooit weer dieselfde wees nie. Ons kan wel keer dat dit minder – nie dieselfde gaan wees nie – deur nou aanpassings te maak.
Ons kan net gewoon begin om al die dinge te doen wat so baie stemme al lankal vir ons sê om te doen. Plant biodiversiteit in jou tuin. Gebruik net die nodigste water, verminder jou ritte, probeer wegkom om plastiek te gebruik, ensovoorts. Die saak van gelowiges se verantwoordelikheid teenoor die natuur is nie meer ’n interessante stokperdjie van party mense of ’n kommissie nie; dit raak ’n saak van lewe en dood vir baie mense en dalk alle mense.
Alhoewel die mens is hoogs intelligent is, is ons van die spesies op die aarde wat die moeilikste aanpas. Ons verander eerder die omgewing om by ons aan te pas. Daar kom egter ’n tyd waar ons met baie moeite gaan sukkel om ons omgewing by ons aan te pas en ons geforseer gaan word om ons stroom se rigting te verander.
Corinne Zimmerman van Illinois Universiteit sê die volgende: “While the vast majority of scientists agree that efforts to address climate change must involve human action, a public misconception about nature being in balance could inhibit progress . If nature is all robust and fine, she’ll take care of herself, we don’t have to do anything about our carbon footprint. It is a very naive understanding of nature.”
________________________
Kontak ds Petri Coetzee by p3coetzee@icloud.com vir meer inligting.