Die span van die VGK Makhathini wat onlangs hier in die Wes-Kaap op besoek was. V.l.n.r.: Bonginkosi Mthembu, Lucky Kunene, Louwrens van der Westhuizen en Themba Mahlangu
_______________________________
Mariëtte Odendaal
“Dit was ‘n ontsettende geseënde toer!” So vertel ds Louwrens van der Westhuizen, predikant van die VGK Makhathini-gemeente in KwaZulu-Natal wat vanaf 12 tot 19 Mei met ‘n groepie kerkleiers, Themba Mahlangu, Lucky Kunene en Bonginkosi Mthembu, ‘n paar NG Kerk- en VGK-gemeentes in die Wes-Kaap besoek het. “Almal het ons met oorweldigende gasvryheid ontvang,” vertel hy opgewonde.
Louwrens sit in die Kaapstad Internasionale Lughawe op pad terug na Durban terwyl hy dié WhatsApp-boodskap aan my stuur. “Jô, dit was net oorweldigend.” Ek hoor hy sukkel om sy ervaring in woorde te probeer uitdruk. “Die hele toer was beplan om soveel moontlik gemeentes te besoek met soms tot drie afsprake per dag! Met elke aanbieding moes ons ook by ons gehoor aanpas, so ons moes vinnig by hul bepaalde behoeftes inslot.
“Van die gemeentes was totaal verbaas om te hoor wat alles in Makhathini gebeur; veral die omvang daarvan, Nou verstaan hulle soveel beter. Van die gemeentes het selfs getuig dat hulle by ons in Makhathini baie kan kom leer.
“Dit was ook baie besonders om op ons pad so baie mense te kon teëkom wat al voorheen op uitreikbesoeke in Makhathini was. Dit was ook ‘n riem onder die hart om te ervaar hoe lidmate as ‘n gemeente, nie as individue nie, maar as ‘n geméénte, vir ons bid. En die manier hoe hulle in gebede vir ons ingetree het, was hartroerend; dit was vir my heilige ervarings en het ontsettend baie vir my beteken.

Deon Naude, leierouderling van die NG Kerk Gansbaai, lees aan ons Hebr. 12 vers 1 en 2.
“Soveel mense het ook deurentyd bevestig hoe hulle gereeld vir ons in Makhathini bid. Die groepie wat saam met my was, gaan terug na Makhathini met nuwe ywer en nuwe perspektiewe.
“Ons het net weer eens besef dat ons konneksie met ons vennootskapsgemeentes baie sterk is en veral hoe belangrik so ‘n toer is; om die verhoudinge te bevestig en te onderhou. Van ons Makhathini-kerkleiers het vertel dat hy die besoeke nie net as ‘fellowship’ nie, maar as ‘friendship’ ervaar het.”
Louwrens, watter gemeentes hier in die Wes-Kaap is almal deur julle besoek?
Die eerste besoek was op Sondag 12 Mei by ds Elbie Vingqi van die VGK Lwandle en die laaste Sondag, 19 Mei, is ons toer afgesluit deur saam met die NG Kerk Wellington-Oos die Pinksterfees te vier waar ons saam met hulle die Nagmaal gebruik het.
“In totaal het ons tien gemeentes besoek, naamlik die VGK Lwandle, die NG Kerkgemeentes van Oudtshoorn-Wes, Grootbrak, Hartenbos, Mosselbaai-Suid, Mosselbaai Moedergemeente, Danabaai, Riversdal, Gansbaai en Wellington-Oos.
“Langs die pad het ons ook gaan inloer by ds Charleton Crowley, leraar van die VGK Mosselbaai, en by ds Kobus van Schalkwyk en sy vrou, Ryna op Albertinia. Hulle was voorheen predikantspaar op Makhathini en het onlangs afgetree nadat hulle die laaste jare by die VGK Vredenburg bedien het.

Ons kuier by ds Kobus en Ryna van Schalkwyk wat nou op Albertinia woon.
“Lidmate van die VGK Kylemore het ook, soos altyd, ons met liefde ondersteun deur ons te gaan afhaal by die lughawe, om verblyf met lekker etes te voorsien en weer aan die einde van die toer ons op die lughawe te besorg. Dr Hennie van Deventer van die NG Kerk Wellington-Oos het aan ons sy Polo as vervoermiddel voorsien; iets wat ons baie waardeer.”
Wat was die fokus en doel van julle besoek?
“Die fokus was om gemeentes te besoek wat reeds ingeskakel is by die Makhathini-vennootskap. Ons probeer om elke tweede jaar so ‘n toer in Pinkstertyd te onderneem.
“Tydens so ‘n toer herbevestig ons net weer die bestaande vennootskapsooreenkoms met mekaar, versterk reeds-gevestigde verhoudinge en bou nuwes. Dit help vergemaklik ook nuwe leierskap met ons vennootskapsgemeentes.
“Dit is dan ook ‘n besondere ervaring om tydens Pinkster so saam met medegelowiges vanuit ‘n ander kulturele konteks te aanbid.”

Op besoek aan ds Charlton Crowley (links) van die VGK Mosselbaai wat as teologiese student dikwels Makhathini besoek het.
Hoe het julle Makhathini-mense die toer ervaar?
“Vir my het dit letterlik gevoel asof ek soos Paulus met sy sendingreise op ‘n geestelike toer was. Die besoek by elke gemeente was soos ‘n herontmoeting met broers en susters in Christus wat met verlange daarna uitgesien het om die wonder van die evangelie met mekaar te kon deel.”
“Themba Mahlangu, ons kinder- en jeugwerker, vertel: ‘It was as if people are waiting for us with an expectation and longing to see us. I was deeply touched by the way they expressed their love and prayed for us.’
“Lucky Kunene, pastorale versorger, getuig: ‘I was touched by the passion for missions amongst the congregations. Even old people are not waiting to be served but are so passionate to do something.’
“Bonginkosi Mthembu, ook ‘n pastorale versorger, vertel: ‘We were received in love by all the people.'”
En hoe het die mense hier plaaslik julle besoek ervaar?
“Ds Hanri Joubert van Gansbaai het ervaar dat Makhathini in die hart van die gemeente leef.
“Marianne Joubert van Riversdal het opgemerk dat die konneksie met mekaar diep-geestelik was. Sy sê: ‘Riversdal is oortuig van die integriteit van jul leierskap. Riversdal is toegewyd en opreg in hulle verbintenis tot Makhathini.’
“Franna Herselman, afgetrede leraar op Gansbaai, se woorde was: ‘Dit is vir my ‘n ongelooflike voorreg om julle te kon ontmoet. Die broeder- en susterskap en gemene doel van ons almal maak my opgewonde. Ek dank die Here dat die werk in Makhathini voortgaan.'”

Ds Wehan Geldenhuys van Danabaai luister aandagtig na wat Themba vertel.
Louwrens, hoe sou julle sê kan ons prakties hierop voortbou?
“Lucky se voorstel was as volg: ‘My wish for the future is to pray and to have fellowship together in a mutual way. May our partner congregations share a bit more with us about their needs. It is not that we alone need help. We should also like to reach out to them to support and uplift their needs.’
“Die begeerte dat meer VGK-gemeentes by die vennootskap betrokke sal raak, is weer genoem; dit is iets waarop meer gefokus kan word.
“Oop kommunikasielyne is ook baie belangrik om die reeds-gevestigde en diepgrondige verhoudinge te versorg en te onderhou.”
___________________________________
Die volgende vennootskapsvergadering is op Saterdag 5 Oktober 2024 by die VGK Kylemore. Enige iemand is welkom om die vergadering by te woon en meer te hoor van die werk wat die Here op die Makhathini-vlaktes doen.
Kontak ds Louwrens van der Westhuizen by weshuis7@gmail.com of dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
