“… hy het geglo dat die Here vir hom die NG Sendingkerk as platform gee waarbinne hy sy getuienis kan lewer. Hy het dus gekies om binne die NG Sendingkerk te bly en het dit as die ruimte beskou waar die eenheidsband en die lewe van die kerk in Christus so geleef kan word dat daar geen skeiding is nie.
“Die rede vir sy sterk oortuiging hieroor is waarskynlik onder andere omdat hy die kapasiteit van die bruin gemeenskap om verskeidenheid te absorbeer en deel te maak van hul waarheid, beleef het.”
Ds David Botha (jnr)
________________________________
As oudste seun van die Nigeriese pioniersendelingspaar, Johan George Botha en sy vrou, Francina, sou David Petrus Botha in sy 99 jare hier op aarde baie diep spore in die NG Sendingkerk (later die Verenigende Gereformeerde Kerk) trap. Hy beleef in sy bediening kragtige ervarings danksy sy blootstelling aan die bruin gemeenskappe waar hy ook al bedien. Hy bring mense uit verskillende gemeenskappe bymekaar, word segsman vir die onderdrukte en staan op vir versoening. Hy beklee verskeie leierskapsposies in die NG Sendingkerk, soos die van aktuarius (1958-1974) en moderator (1974-1982). Hy sterf op Sondag 26 Mei 2024. Ons het met sy seun, David (jnr) gaan gesels oor sy merkwaardige pa.
David, vertel ons meer van jou pa se grootwordjare.
“My oupa en ouma, Johan George en Francina Botha, was pioniersendelinge in Nigerië en was in Suid-Afrika met verlof toe my pa, David Petrus, op 23 Februarie 1925 op die plaas Rus en Werk in die Daljosafat-omgewing gebore is. Dit was die plaas waar sy ma se broer, Joël Hugo, geboer het.
“Op pad vanaf Nigerië het daar egter ‘n tragedie gebeur toe my oupa-hulle se dogtertjie, Rita, wat twee jaar oud was, aan koors gesterf het. Na die geboorte van my pa wou sy ouers hom nie aan dieselfde gevare blootstel nie en het hulle hom as baba in die sorg van haar broer, Joël en sy vrou gelaat en teruggegaan na Nigerië.
“Sy grootwordjare op die plaas was vir hom wonderlik. Hy het baie liefde ontvang en daar was ‘n baie hegte band tussen hom en sy oom. Hy het sy ouers net elke vyf jaar tydens hul vyfjaarlikse verlof in Suid-Afrika gesien; iets wat ‘n groot impak op hom as kind gemaak het.
“Hy bly tydens sy laerskooljare by oud-pioniersendelinge van Nigerië, Carl Zimmerman en sy vrou, op Villiersdorp. Vir sy hoërskooljare bly hy by sy ouers in Wellington toe hulle na Suid-Afrika teruggekeer het as gevolg van sy pa se swak gesondheid, onder andere herhaaldelike aanvalle van malaria.”
Waar het jou pa studeer en hoe het sy roeping ontstaan en oor die jare ontwikkel?
“Oupa het sy sendelingopleiding aan die Sendinginstituut op Wellington gehad en was ook as oud-‘donkie’ na hul terugkeer uit Nigerië inwonende hoof van Huis Samuel. Sy ouers se voorbeeld en sy grootwordjare by die Zimmermans het bygedra tot ‘n groeiende oortuiging by Pa om ook as sendeling na Nigerië te gaan. Hy wou aanvanklik homself egter as mediese dokter bekwaam vir diens onder die Tiv-bevolking in Nigerië, maar verander sy kursus om eerder as evangeliedienaar opgelei te word op aanmoediging van sy pa.
“My pa het op 16-jarige ouderdom aan die Sendinginstituut op Wellington (nou die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit) gaan studeer. In daardie jare kon jy skoolstanderds spring en jou matriek alreeds op 16 voltooi.
“In hierdie tyd het hy baie deelgeneem aan Christelike Studente Vereniging (CSV)-konferensies wat tussen hulle en die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Stellenbosch plaasgevind het. Een so ‘n konferensie met die tema, Die verhouding van die Christenstudent met die deel van die bevolking wat nie van Europese afkoms was nie, het ‘n groot invloed op sy denke en latere bediening gehad. Hierdie konferensie het spesifiek gefokus op die rol van die vakbondwese in die Kaap en hoe dit impakteer op die verhoudinge tussen die (toe) wit Christen-studente van die CSV en die deel van die samelewing wat nie wit was nie.
“My pa moes ‘n voordrag daaroor lewer en het op aanbeveling van sy sosiologie-dosent kennis gemaak met die vakbondleiers van die Kaap wat tot hegte vriendskappe gelei het. So het hy dan ook saam met hulle geleenthede gereël waarin die CSV-studente en die vakbondleiers mekaar ontmoet het, mekaar leer ken het en indringende gesprekke oor relevante sake gehad het. Dit was hierdie blootstelling aan die bruin gemeenskap in sy studentejare wat veroorsaak het dat daar ‘n groot omwenteling in sy verstaan van rasseverhoudinge in Suid-Afrika ontwikkel het.
“Een laatmiddag was my pa en ‘n sekere George Gibbs vanaf Athlone op pad stasie toe sodat my pa die trein kon terugneem na Wellington. Terwyl die son agter Tafelberg ondergaan, het my pa ‘n besondere ervaring gehad – dit was asof die Here sy hand oor hom hou en hy duidelik ‘n stem vir hom hoor sê: ‘Jou roeping lê nie in Nigerië nie; jou roeping lê aan die voet van Tafelberg.’
“Hy voltooi sy studies aan die Sendinginstituut, maar was toe te jonk om as leraar bevestig te word en gaan voort met studies en spesialiseer in sielkunde aan die Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Sy nagraads in sielkunde besorg aan hom ‘n beurs om in Duitsland verder te gaan studeer met die aanbod om dan ‘n akademiese pos op te neem.
“Net hierna ontvang hy ‘n beroep van die NG Sendingkerk in Wynberg en hy moes kies: ‘n nagraadse studie in Duitsland met ‘n akademiese toekoms of ‘n bediening aan die bruin gemeenskap met wie hy toe alreeds besondere hegte bande gesmee het. Hy kon nie anders as om gehoorsaam te wees as aan sy ervaring in Athlone nie.”
Waar het jou pa toe oral bedien, David?
“Hy word bevestig as predikant van die NG Sendingkerk in Wynberg op 25 Januarie 1948, dieselfde jaar as wat die Nasionale Party aan bewind gekom het. Kort hierna trou hy met sy studenteliefde, Antoinette (Nettie) Janse van Rensburg, dogter van ds Isak en Elsie Janse van Rensburg van die Vrystaat. Hulle bedien hierdie gemeente vir twaalf jaar.
“Ons ouers en ons as kinders is met oop harte en arms in Wynberg se gemeente en in die bruin gemeenskap verwelkom en liefgehad. In hierdie tyd beleef hy saam met sy gemeente die impak van die Groepsgebiede- en ander Apartheidswette wat al hoe meer skeiding tussen wit- en bruinmense gebring het.
“Vanaf 1960 is hy predikant by die NG Sendingkerk Clanwilliam en neem nog redelik deel aan Afrikanerfeeste soos Geloftedagvieringe, ensovoorts. Dit was vir hom belangrik dat die wit Afrikanergemeenskap moes verstaan dat hy nie sy rug op sy Afrikaner-wees gedraai het nie en dat hy steeds aan hulle lojaal is.
“In hierdie tyd probeer hy baie hard om die verskillende gemeenskappe bymekaar te bring en hy kry heelwat ondersteuning van plattelanders vir sy standpunt.
“In 1964 aanvaar hy ‘n beroep na die NG Sendingkerk in Malmesbury. Hy raak baie betrokke by die gemeenskap en besoek baie plase. In hierdie tyd probeer hy weer eens baie hard om verhoudinge tussen bruin en wit te normaliseer en mense met mekaar te laat praat. Dit was in dié tyd dat bruin mense gedwing is om na Wesbank, net buite Malmesbury, te verskuif.
“In 1968 aanvaar hy ‘n beroep na die NG Sendingkerk Bellville-Suid en gee soms klas by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Wes-Kaap in kerkgeskiedenis en kerkreg.
“Tydens Pa se bediening in Wynberg was hy betrokke by dispute en regsgedinge oor die implementering van die Groepsgebiedewet. Een van die plekke waar sodanige regsgedinge was, was Bellville. Sy bydrae hierin namens die bruin gemeenskap het gehelp dat dit (in die geval van Bellville) nie die bruinmense was wat moes skuif nie, maar wel die witmense.
“Pa was leraar in Bellvile-Suid tot 1979 waarna hy redakteur van die Ligdraer geword het tot en met 1990. In die tyd wat hy redakteur was, tree hy ook op as tentmakerleraar in die gemeentes van Bellville-Suid (1979-1987) en Die Goeie Hoop in Mitchellsplein (1987-1990). Hy ontvang sy demissie in Die Goeie Hoop-gemeente op 29 April 1990.
“Hy word die direkteur en navorser van die SA Gesticht Museum in Langstraat Kaapstad in 1992 en tree uit hierdie pos in 2001. Hierna vestig hy en ma Nettie hulle op Pearly Beach en word die pastorale versorgers vir die VGK Gansbaai se wyk op Pearly Beach. Hier speel Pa ‘n motiverende en leidende rol in die eenheidsoekende proses tussen die VGK en die NG Kerk op Gansbaai.
“In 2011 verhuis hulle na Stellenbosch en gaan woon in Langverwag Aftreeoord. Ook hier het Pa (én Ma) voortgegaan om die inwoners geestelik te bedien. In 2023, na Ma se afsterwe in 2016 en ‘n geleidelik agteruitgang in Pa se gesondheid, gaan woon hy tot met sy dood in Huis Disa van die ACVV op Tulbagh om naby twee van sy kinders te wees. Hier was hy nie meer ‘n dominee nie; net maar ‘n oupa en oom – vir almal.”
David, kan jy dalk vir ons meer vertel van hoe sy blootstelling aan bruin gemeenskappe sy denke en menings verander het?
“Pa het grootgeword in die dampkring van die Nasionale Party-denke en die opkoms van Afrikaner Nasionalisme. Hy was ‘n lojale lid van die wit Afrikanergemeenskap, maar sy denke het drasties begin verander met sy blootstelling aan die bruinmense van die Kaap.
“Danksy hierdie vriendskappe en sy Wynbergervaring het hy al hoe sterker oortuig geraak dat die Nasionale Party se pad met apartheid nie die antwoord vir Suid-Afrika of die wil van die Here was nie. Hy het toenemend besef dat segregasie ‘n reuse-fout was. As gevolg van sy blootstelling het hy tot die oortuiging gekom dat die bruin gemeenskap deel is van die Afrikanergemeenskap.
“Pa het al hoe meer oortuig geraak dat die wêreld waarin hy die evangelie verkondig en waarin die Here hom geroep het in die bruin gemeenskap is. Hy het baie vinnig in die Wynberggemeente die ervaring gehad dat hy volkome bevry is van enige kleurvooroordeel.
“Hy het so ‘n besondere band met die leierskap van die bruin gemeenskap in die Kaap ontwikkel dat hulle hom aanvaar het as een van hulle en ook soms as hul segsman.
“‘n Belangrike moment in sy bediening was toe dr Beyers Naudé hom genader het met die versoek om saam met hom te werk by die Christelike Instituut met die doel om hervormingsprosesse buite die kerklike strukture aan te pak. Pa het egter nie sy weg oopgesien om saam met dr Naudé buite die kerk om te werk om verandering te beïnvloed nie, maar hy het geglo dat die Here vir hom die NG Sendingkerk as platform gee waarbinne hy sy getuienis kan lewer. Hy het dus gekies om binne die NG Sendingkerk te bly en het dit as die ruimte beskou waar die eenheidsband en die lewe van die kerk in Christus so geleef kan word dat daar geen skeiding is nie.
“Die rede vir sy sterk oortuiging hieroor is waarskynlik onder andere omdat hy die kapasiteit van die bruin gemeenskap om verskeidenheid te absorbeer en deel te maak van hul waarheid, beleef het.”
Vertel ons meer van die boek wat jou pa geskryf het, Die opkoms van ons derde stand.
“Pa is uiteindelik aangemoedig om oor sy insigte en standpunte te skryf. Die boek, Die opkoms van ons derde stand is geskryf in die tyd toe hy in Clanwilliam bedien het; dit was in die hoogbloeityd van die NP se implementering van die apartheidswetgewing en die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Die boek is uitgegee deur Human en Rosseau met die voorwoord geskryf deur NP van Wyk Louw.
“Dis ‘n sterk sosiologiese boek waarin hy op sosiologiese gronde die standpunt inneem en argumenteer dat die wit Afrikaners ‘n reuse-fout maak deur die bruin gemeenskap van hulle te vervreem, omdat hulle almal eintlik een gemeenskap is.
“Die boek het heelwat reperkussies veroorsaak en die gramskap van die NP-leierskap op die hals gehaal, veral dié van dr HF Verwoerd. Almal wat hulle met my pa se standpunt vereenselwig het, is ernstig gekritseer, selfs tot in die parlement.”
Hoe sou jy sy nalatingskap as pa aan julle as sy kinders en kleinkinders beskryf?
“My pa het die NG Sendingkerk beskou as die ruimte waarin hy ‘n voorbeeld kon stel vir die teendeel van apartheid. Ons is geleer om respek vir ALLE mense te hê, ongeag ras, kleur of taal.
“In ons huis was daar nie apartheid nie. Almal was onvoorwaardelik welkom. Ons as kinders het proefondervindelik geleer dat daar ‘n wêreld sonder apartheid is. Tabieta Scholtz wat as huishulp sedert ons vertrek van Clanwilliam permanent deel van ons huishouding geword het, was nie ‘n bediende nie – sy was ‘n dogter en suster.
“Pa en Ma het ons met streng dissipline grootgemaak vanuit ‘n sterk klem op die gesin as verbondseenheid. Pa was met oorgawe en onbeskroomd die hoof van die huishouding. Ons gesinslewe was volkome in diens van sy roeping. Ma het hom hierin volledig gesteun. Dit het onder andere geïmpliseer dat ons ‘n afwesige pa gehad het. Die kerk en gemeente het eerste gekom. Vakansies het hy en ma moeite gedoen vir lekker saamwees-ervarings, maar andersins was hy besig met ‘die Here se werk’.
“Al ons kinders het by Pa en Ma geleer om lief te wees vir Jesus Christus en sy Woord.”
______________________________
Kontak David Botha (jnr) by dpbotha2@gmail.com vir meer inligting.