Mobiele Kliniek-spanleier, Dausse Nthenga, besig om boek te hou van die vroue en hul babas wat vir hul maandelikse besoek opgedaag het by een van die tien areas wat deur die span bedien word.
__________________________
Hoe gemaak as daar duisende mense nie die basiese gesondheidsorg tot hul beskikking het nie? As jy as Christen wel die kennis, ervaring en netwerke in plek het, kan jy iets daaraan doen. En dis presies hoe die Mobiele Kliniek meer as dertig jaar gelede ontstaan en mettertyd uitgebrei het.
Op 1 Maart vanjaar het die Christelike organisasie in Mosambiek, die Missão Betesda em Moçambique, die Mobiele Kliniek-projek in Noordwes-Mosambiek by ons susterskerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) oorgeneem. Ons het meer gaan uitvind by die bestuurder van die projek, dr Pim de Lijster.

Duisende vroue en babas word jaarliks deur die Mobiele Kliniek van gesondheidsorg voorsien.
Hy vertel: “Dié projek word al jarelank deur Getuienisaksie ondersteun en het ’n groot impak op die gesondheid van duisende mense. Die span bestaan uit vier bekwame gesondheidsorgwerkers, naamlik Dausse Nthenga, Maria de Fátima Jonasse, Lucrécia Avora Mário en Rofino Ramos wat mense in die mees afgeleë gebiede in die Agónia- en Tsangano-distrikte van die Tete Provinsie bedien.
“Hulle lewer drie afsonderlike take, naamlik inentings aan kinders onder vyf jaar, voorgeboortesorg en die behandeling van siektes. Tans werk hulle in tien areas waar staatsgesondheidsorg glad nie gelewer word nie. In Mei het die span 1 696 mense met mediese sorg bedien.

Rofino Ramos besig om ‘n baba in te ent.
“Ons is dankbaar vir die moontlikheid om mense in hierdie afgeleë gebiede te bedien, ondanks verskeie uitdagings wat deel is van die werk in hierdie deel van Afrika. Ook is ons dankbaar vir die bakkie waarsonder die span nêrens sou kan kom nie, en die onderhoud wat deur sendingsboer, Jannie Smit, gedoen word.
“Bid asseblief saam met ons vir die veiligheid en eensgesindheid van die span, dat hulle getuienis tot seën mag wees vir die kinders en grootmense met wie hulle in aanraking kom. Bid ook asseblief saam met ons vir ‘n konstante voorraad medikasies wat ons van die Mosambiekse regering kry.
“Mag 1 Samuel 7:12b (1953-uitgawe) … tot hiertoe het die Here ons gehelp, ons anker en hoop bly.”
__________________________
Kontak dr Pim de Lijster by pwdelijster@gmail.com of dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
