Kerkleiers uit die Wes-Kaap wat onlangs op besoek was aan ons susterskerke in Zimbabwe. Hier staan hulle voor die kerkgebou op die sendingstasie, Morgenster. V.l.n.r.: ds Marinus Theron, ds Stephen Pedro, dr Daniël de Wet en ds Hendry Tromp.
“… die treffendste ervaring vir my [was] die inspirasie van ‘n sendeling wat sy roeping getrou nagevolg het. Iemand wat klein begin het en om dan te sien hoe die Here wat roep, sorg dat so iets groter word. Ons leer daaruit dat ons nie moet huiwer om met ‘n klein begin gehoorsaam te wees aan God en Hom vir die res te vertrou nie.
Ds Marinus Theron
Voorsitter van die moderamen NG Kerk Wes-Kaapland
_________________________________
Vanaf Maandag 3 Junie tot Vrydag 7 Junie was ‘n paar van ons kerkleiers uit die Wes-Kaap, ds Marinus Theron (voorsitter van die moderamen NG Kerk Wes-Kaapland), ds Hendry Tromp (moderator van die VGKSA Streeksinode Kaapland), ds Stephen Pedro (diensgroepbestuurder van Getuienisaksie) en dr Daniël de Wet (bestuurder van Getuienisaksie se Taakspan Ekumeniese vennootskappe in Afrika) op besoek aan Zimbabwe.
In hierdie tyd het hulle besoek gebring aan ons twee susterskerke daar, die Reformed Church in Zimbabwe (RCZ), die CCAP Harare Sinode, CAVA en die Murray Teologiese Kollege. Ons het meer gaan uitvind.
Hendry, dit was jou eerste besoek aan ons RCZ-kerkleierskap in Zimbabwe. Wat het vir jou uitgestaan?
“Ons besoek aan die RCZ was verrykend. Dit was opvallend hoe hulle so baie met so min gedoen kry. Byvoorbeeld die algemene sekretaris wat alles vanuit sy kantoor op Masvingo in samewerking met die moderator moet bestuur en onderhou, getuig van kwaliteit leierskap. Om skole, ‘n universiteit, klinieke en ‘n teologiese skool te bestuur en nog skole te bou, verg geweldige toewyding en kundigheid. As jy kyk na die gehalte van hierdie instansies, dan getuig dit nie net van die toewyding van hul leierskap nie, maar ook van hul bekwaamheid om instansies soos hierdie te kan bestuur.
“Dis beslis nie ‘n eenman-orkes nie; die rede vir hul sukses is omdat die leiers in hul verskillende posisies hul werk met toewyding uitvoer. Dit help om die groter prentjie te verstaan en die sisteem aan die gang te hou. Ek weet nie hoe hulle dit regkry om so baie te vermag nie; ek moet sê ek is diep geraak deur hul gehoorsaamheid en hul toegewydheid; hul waagmoed om goed te doen te midde van hulle uitdagende omstandighede.”
“Dit was vir my ‘n besondere bemoediging om dit te sien, veral omdat verhale uit Afrika dikwels deurtrek is van armoede en gebrek aan bronne. Hier het ek die teendeel gesien en ervaar; armoede en die gebrek aan hulpbronne is geen rede om nie ‘n verskil aan jou gemeenskap te kan maak daar waar die Here jou geplaas het nie.
“Hierdie ervaring het my aangemoedig om regtig dit wat in jou hand is, te gebruik – soos Moses wat met sy staf die opdrag van die Here gekry het om die water oop te kloof. Ons kan baie by hulle leer.”

Tydens die vergadering met RCZ-leiers in Masvingo. Agter v.l.n.r.: dr Daniël de Wet, ds Tafadzwa Masimba (algemene sekretaris), ds Stephen Pedro. Voor: ds Hendry Tromp, ds Isaac Pandasvika (moderator) en ds Marinus Theron.
Marinus, dit was ook jou eerste besoek aan die kerkleierskap in Zimbabwe. Wat het vir jou uitgestaan tydens jul besoek aan die CCAP-Harare Sinode?
“Dit was vir my ‘n besondere ervaring. Eerstens was dit vir my opvallend dat hulle ‘n groeiende kerk is. Hul moderator, ds Cosmas Pamaso, en hul algemene sekretaris, ds Lobias Boloma, het ook die belangrike rol wat vroue in hul kerk speel beklemtoon; 80% van hul sinode se 36 gemeentes bestaan uit vroue. Hulle het dus ‘n besondere agting en waardering vir die rol en plek wat vroue in hul gemeentes inneem. Hulle het ook nie ‘n tekort aan predikante nie en is een van die min susterskerke in Afrika wat ook vroue as predikante oplei.
“Wat my egter die meeste geïnspireer het, is dié kerkleiers se diepe oortuiging dat hulle geroep is om die evangelie van Christus in hierdie stukkie wêreld met sy gebrokenheid te bring.
“Een voorbeeld daarvan is hoe die evangelie mense uit die greep van dwelmmisbruik kan help. Dwelmmisbruik neem ongelukkig toe as ontvlugting uit mense se haglike omstandighede in Zimbabwe.
“Die CCAP Harare Sinode is ook baie daarop ingestel om ‘n inklusiewe kerk te wees, veral ten opsigte van die taalkwessie. As nasate van Malawiërs klou hulle nie vas aan hul Chichewa-taal nie, maar omarm ook Shona- en Ndebele-gelowiges in hul midde. Hulle gebruik om hierdie rede dus Engels in hul eredienste om alle taalgroepe te akkommodeer. As mense dan steeds sukkel om die preek te volg, sal hulle tolke gebruik.”

V.l.n.r.: ds Stephen Pedro, ds Lobias Boloma (algemene sekretaris CCAP Harare), dr Daniël de Wet, ds Cosmas Pamaso (moderator), me Rudo Chakanga (uitvoerende komiteelid), ds Marinus Theron en ds Hendry Tromp in die groot CCAP Harare-kerkgebou in Harare.
Wat het julle alles op die Morgenster Sendingstasie ervaar?
Hendry vertel: “Die toegewydheid van die Murray Teologiese Kollege-personeel om ‘n kwaliteit akademiese instelling te vestig waar studente onderrig van hoogstaande gehalte ontvang, was indrukwekkend. Ook dat die studente nie net in terme van kopkennis gevorm word nie, maar ook in terme van hartskennis – dat hul karakters daar ontwikkel word en dat hulle verder aan mekaar skaaf om dan so die bediening te kan ingaan.
“Wat vir my besonders uitgestaan het, was ‘n klein, vierkantige steengeboutjie; die eerste gebou waar alles begin het.
“Toe tref dit my onmiddellik: dat die gehoorsaamheid van ‘n persoon, van mense, soveel vrug gedra het sodat wat ons nou rondom ons waarneem, die gevolg is van mense se gehoorsaamheid aan God se roeping; mense se bereidheid om te dien, mense se waagmoedigheid om te staan vir dit wat waar, eg en edel is en mense se toegewydheid aan God se roeping. Dit het my geweldig getref.
“Ek hoop hulle bewaar daardie geboutjie as ‘n voortdurende herinnering aan waarvandaan hulle kom en wat hulle in Christus alreeds bereik het. Dis so ‘n magtige getuienis om die geboutjie daar te sien. ‘n Mens se klein begin is nie die einde van jou storie nie; soms is jy maar net die een wat ‘n saadjie plant wat uiteindelik vele ander inspireer om self sade van hoop te saai.”
Marinus vertel: “Wat betref die Murray Teologiese Kollege was die treffendste ervaring vir my die inspirasie van ‘n sendeling wat sy roeping getrou nagevolg het. Iemand wat klein begin het en om dan te sien hoe die Here wat roep, sorg dat so iets groter word. Ons leer daaruit dat ons nie moet huiwer om met ‘n klein begin gehoorsaam te wees aan God en Hom vir die res te vertrou nie.
“Tweedens was die kollege-personeel se toewyding aan die Gereformeerde teologie en hul ingesteldheid om predikante op te lei wat Skrifgetroue predikers sal wees, merkwaardig.
“Derdens was dit vir my besonders hoe die kerkleierskap besef watter monitêre waarde daar is in die fasiliteite wat hulle het; dit wat hulle oor die jare ontvang het en hoe hulle eienaarskap daarvan neem en veral hoe hulle met die min hulpbronne tot hul beskikking instandhouding en verbeteringe doen.
“Laastens het ek ervaar dat hulle ‘n ontsettende groot waardering het vir die verhouding met hul susterskerke, die NG Kerk en die VGK en die ondersteunende rol wat gespeel word sodat hulle kan voortgaan met hul roeping. Wat ‘n besondere ervaring en voorreg was dit nie om hierdie plek te kon beleef en eerstehands te kon sien nie.”
Stephen vertel: “Die warm gasvryheid waarmee ons deur almal ontvang is en die waardering waarmee die RCZ-kerkleiers ons kosbare verbondenheid aan hulle met liefde en agting beskou, is iets besonders. Die moderator het byvoorbeeld gesê dat ons as NG Kerkfamilie nie net vennote is nie, maar waarlik broers en susters is; ons is een in Christus.
“Hulle toegewyde commitment tot hul roeping in diens van God vir die kerk (Matt. 28) het my ook diep geraak. Beide die RCZ en CCAP moet in baie moeilike omstandighede kerk van die Here in Zimbabwe wees; nie net uit ‘n ekonomiese oogpunt nie, maar ook te midde van sosio-politiese uitdagings.
“Wat my altyd sal bybly, is die dag toe ons die Zimbabwe Ruïnes besoek het. Hulle menslike hulpbronbestuurder, Frank Shuro wat glad nie ons op sy program vir die dag gehad het nie, het sy tyd opgeoffer en saam met ons bergop gestap. Dit was vir my ‘n besondere demonstrasie van ons eenheid; om so saam as een groep na die ruïnes te stap.”

Ons kerkleierskap saam met 2de van links dr Menard Musendekwa (vise-prinsipaal van die Murray Teologiese Kollege) en in die middel ds Simbarashe Munamati (prinsipaal van die Murray Teologiese Kollege) voor die RCZ-kerkgebou op Morgenster.
Wat was julle belewing van die Christian Audio-Visual Action (CAVA)?
Volgens Hendry Tromp het die volgende van CAVA hom veral opgeval: “Die toewyding en passievolle dryfkrag wat die kerkleiers hier het om die werk van die Here te doen. In ons gesprek met CAVA was dit so bemoedigend en in ‘n mate ook ‘humbling’ om te sien hoe baie die gelowiges hier doen met min bronne tot hulle beskikking; om te sien hoeveel lewens hulle verander.
“Dit was vir my baie bemoedigend om te sien hoe hulle nog werklikwaar getrou uitvoering gee aan die gestuurdheid as mense wat deur God die wêreld ingestuur word om te gaan evangeliseer; iets wat ons op ander maniere doen, maar waarop ons beslis ook sterker kan op fokus.”

Ons kerkleiers uit die Wes-Kaap hier saam met die direksie en bestuurspan van CAVA.
Ten slotte
Hendry getuig: “Die Murray Teologiese Kollege op Morgenster, die RCZ, CAVA en die CCAP Harare skep vir my sulke sterk ‘pockets’ van hoop in die verskillende gemeenskappe van hul land. Dit gee my soveel hoop om te weet dat in ‘n land met moeilike omstandighede en waar dinge maklik skeefloop en mense maklik alles kan verloor, is die kerk daar besig om te bou; om diensbaar te wees ten bate van hul gemeenskappe en regtig die roeping en opdrag van die Here uit te voer … amazing!”
“Wat hierdie ervaring vir my oor ons eie uitdaging as kerke en ons roeping geleer het, was eerstens waagmoedige gehoorsaamheid, want dis moeilik as alles teen jou inspeel. Ons kan dit leer by die gelowiges in Zim; hul toegewydheid aan die Here en hul werk waartoe die Here hul geroep het.
“Laastens het mense se waardering vir wat die Here vir hulle gegee het, uitgestaan. Hulle het ons geneem na die werk wat hulle doen en met soveel passie en trots met ons gedeel oor waarmee hulle besig is. Hulle waardering om deel te wees van wat God besig is om te doen en uiting te gee aan dit wat die Here in hul harte geplaas het, was geweldig inspirerend.”
________________________
Kontak dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
