Agter v.l.n.r.: Di. Ronald Chimzimu, David Chilataya, Kumadzi en Samuel Bessitala (algemene sekretaris van die Mphatso Sinode) Voor: di. Peter Chikakada en Riaan Terblanche

 

“Ons het heelwat getuienisse gehoor van die impak van die opleiding. Die Woord van God word nou met krag en oortuiging verkondig, sodat heelwat mense tot bekering kom. Predikers, veral ouderlinge wat nooit formele opleiding gekry het nie, word nou toegerus om die Woord so te ontleed en prakties toe te pas dat God aan die Woord kom.”

Ds Riaan Terblanche
Veritas College Mosambiek

______________________________

“Vanaf 27 tot 31 Mei 2024 is daar 45 leraars van ons susterskerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) se Mphatso Sinode in Vila Ulongue met module 3 van Veritas College as fasiliteerders opgelei.” So vertel ds Riaan Terblanche, organiseerder van Veritas College Mosambiek, gestasioneer in Tete in Noordwes-Mosambiek.

“Die opleiding is in Chichewa deur ds Ronald Chimzimu van Mzuzu in Malawi aangebied, ondersteun deur ds. David Chilataya ook van Malawi, ds. Kumadzi (Veritas Kollege Mosambiek) en ek.

“Dit was ook die heel eerste keer dat ons in Mosambiek ‘n nuwe vertaling van Module 3 in Chichewa in ontvangs geneem het. Dit was iets waaroor die leraars besonder bly was, aangesien heelwat lidmate in die Angonia-streek hoofsaaklik Chichewa-sprekend is. Dié groot vertalingswerk is gedoen deur Veritas Kollege in Malawi onder leiding van dr Davidson Chifungo.

“Tydens die opleiding help ons die leraars om met module 3 die poëtiese dele van die Bybel te verstaan en te analiseer. Hulle moes dan self probeer om tekste uit die Psalms, Spreuke en die Profete te ontleed. Met die terugvoering bied hulle dan hul eksegese aan die groot groep. Dit was baie bemoedigend om te sien hoe hulle in hierdie week in die vaardigheid om eksegese te doen gegroei het.”

 

Hier help ds. David Chilataya die leraars met eksegese.

 

Groot vreugde oor Chichewa-Bybels danksy Getuienisaksie

“Daar was ook groot vreugde by die leraars oor Bybels wat geskenk is deur Getuienisaksie van die Wes-Kaap. Daar is ‘n baie groot nood aan Bybels in Mosambiek, dermate dat ons in sekere dele, soos in Mutarara, leraars opgelei het wat sonder ‘n Bybel die kerk moet lei. Ons het leraars daar gevra om hul Bybels na die opleiding te bring, maar toe niks die volgende dag gebeur nie, kom ons agter dat die leraars se Bybels stukkend gebruik is; dan is dit groot vreugde wanneer hulle ‘n nuwe Bybel ontvang.”

Wat ‘n mens opgewonde maak, is dat hierdie opleiding nie net by die leraars bly nie, maar dat hulle hul eie lidmate sal toerus om die Blye Boodskap uit te dra. Hulle is nou besig om 33 groepe in hul onderskeie gemeentes wat altesaam 515 lidmate bevat, te bemagtig.

“Die doel hiervan is dat hierdie lid”mate die Woord van God nie net beter sal verstaan nie, maar dat hulle dit in hul eie lewens sal toepas en dit sal uitdra na hulle wat die Here nog nie ken nie.”

 

Links ontvang ds. Noé Maundiono (die vise-moderator van die IRM Mphatso Sinode) ‘n Chichewa Bybel van ds. Kumadzi van Veritas Kollege Mosambiek.

 

Die impak van die Veritas-opleiding

“Ons het heelwat getuienisse gehoor oor die impak van die opleiding. Die Woord van God word nou met krag en oortuiging verkondig, sodat heelwat mense tot bekering kom. Predikers, veral ouderlinge wat nooit formele opleiding gekry het nie, word nou toegerus om die Woord so te ontleed en prakties toe te pas dat God aan die Woord kom.

“Dis veral nodig in die plaaslike gemeenskap waar baie mense nog in duisternis verkeer en vasgegang sit in tradisies van voorvaderaanbidding en towery.

“Ons prys die Here vir hierdie leraars wat hulle eie mense nou bemagtig met God se Woord. Ons is innig dankbaar vir die Getuieniskommissie van Wes-Kaap wat die opleiding ondersteun het! Dit is vir ons hier in Mosambiek ‘n wonderlike versterking om deel te mag wees van die groter liggaam van Jesus Christus!”

 

Hier is die groepe leraars (ook in die agtergrond) besig om met die tekste te worstel.

________________________________

Kontak ds Riaan Terblanche by riaan@veritascollege.org vir meer inligting.