V.l.n.r.: Dr Katani Mwale (aktuarius van die CCAP Nkhoma Sinode), dr Daniël de Wet (Getuienisaksie), ds en mev Mseche, eerste predikantspaar van die Kaapstad CCAP-gemeente by Nomzamo in die Strand, ds Edward Masona Kaluluma Tembo (moderator van die CCAP Nkhoma Sinode) en ds Jaleck Kachipanda (vise-algemene sekretaris van die CCAP Nkhoma Sinode)
________________________________
Daar is tans ‘n hele paar van ons susterskerk in Malawi, die Church of Central Africa Presbyterian (CCAP) Nkhoma Sinode se kerkleiers op besoek aan Suid-Afrika.
Een van die hoogtepunte van hul besoek was die bevestiging van ds Elimereck Mseche op Sondag 7 Julie as die heel eerste predikant van die Nomzamo-gemeente van die CCAP Strand. Dr Daniël de Wet, Getuienisaksie se taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, het ook hierdie besondere geleentheid bygewoon.
Hy vertel: “Die een ervaring wat vir my tydens hierdie marathon-erediens van byna ses uur uitgestaan het, was die absolute vreugde van die CCAP-lidmate. Hulle is so verheug om nou hul eie voltydse predikant te kan hê en daar is behoorlik feesgevier.”

Die vreugde van die Nomzamo-gemeente van die CCAP Strand was oorweldigend tydens die verwelkoming van hul nuwe predikant, ds Mseche.
Een van die Nomzamo-lidmate het na afloop van die bevestiging gesê: “History has been made. Prayers have been answered. Today the 7th of July 2024 is a day to celebrate, remember and honor God. Finally, we have our own residential pastor, the first in Cape Town of the Nkhoma Synod, Rev. Elimereck Mseche.”

Dr Daniël de Wet lewer ‘n groeteboodskap namens die NG Kerkfamilie in die Wes-Kaap tydens die erediens.
Daniël beklemtoon verder: “Ons NG Kerkfamilie moet kennis neem dat al hoe meer van ons Afrika-susterskerke hier in die Wes-Kaap bedieningspunte vestig. Ons moet daarvan bewus wees en met hulle hande vat.
“Dit help my ook baie as ek met gemeentes in gesprek tree oor ons werksaamhede en oor hul plaaslike betrokkenheid in hul gemeenskap; dan is hierdie inligting van groot belang.”
Vir meer inligting kan dr De Wet by missio@kaapkerk.co.za gekontak word.