Daar heers groot opwinding in Msinga tydens die onlangse Wes-Kaapse uitreik.

 

“Die rooi, sanderige grond van Msinga voel op ‘n manier soos heilige grond; ‘n mens wil jou skoene uittrek om elke tree in gehoorsaamheid aan die Here en in God se teenwoordigheid te loop.”

Ds Karlie Liebenberg
Bredasdorpgemeente

_____________________________________

In 1961 begin evangelis David Maduma van Glencoe in die Msinga-gebied KwaZulu-Natal werk. In daardie tyd was Msinga ’n wyk van die NG Kerk in Afrika (later die VGKSA) Dundee-gemeente. Na meer as agtien jaar van intensiewe arbeid deur baie getroue werkers is die Msinga-gemeente uiteindelik in 1984 gestig.

Deur die jare is die gemeente ondersteun deur verskeie NG Kerk-gemeentes in die Wes-Kaap wat elkeen ‘n spesifieke area en geestelike leier ondersteun.

_____________________________________

Vanjaar het uitreikspanne van Bredasdorp, Durbanville-Bergsig en Suidpunt weer gedurende die Junie-skoolvakansie na Msinga uitgereik.

Bredasdorp-uitreik

Een maal ’n jaar, gedurende die Junie-skoolvakansie, kry ’n groep vanuit Bredasdorp die geleentheid om op ’n skaaplorrie die pad aan te durf na Msinga in die verre KwaZulu-Natal.

“Op pad na hierdie uitreik dink ons ons gaan daarheen om mense se lewens te gaan help verander, maar wat ’n ondervinding om dan te ervaar hoe hierdie mense, die Zoeloe’s van Msinga, eintlik ons eie lewens verander!” vertel ds Karlie Liebenberg, predikant van die Bredasdorpgemeente van die NG Kerk en VGK.

“Tydens hierdie uitreike leer ons opnuut hoe om aan die Here gehoorsaam te wees en wat sy doel en rede is hoekom ons hierdie pelgrimstog aandurf.”

Karlie vertel verder: “Vanjaar het ons in die doelbewuste teenwoordigheid van die Here nuwe buiteposte besoek. Die Here het dit op ons harte gelê om verskeie take te verrig. Ons het onder andere vrouewerk gedoen, skole besoek, tiener- en kinderevangelisasie gedoen asook hutbesoeke waar ons mense besoek het wat nog nooit van die Here gehoor het nie.

 

Bredasdorp-uitreik besig met kinderevangelisasie.

 

“Ten spyte van baie uitdagings kon ons selfs ‘n buitepos by Tugela wat besig was om dood te loop, ten spyte van baie uitdagings aanmoedig om weer Kerk te wees.  Nadat die deur by Tugela aanvanklik spreekwoordelik in ons gesig toegeklap is, het ons bly bedien, vertel ds Braam Coetzee. Twee dae daarna is my kollega, Karlie Liebenberg, saam met die plaaslike diensleraars, Nkanyisani Mbata en Manqoba Mvelase terug daarheen en het daar weer nuwe lewe in die gemeentetjie ontstaan.

“Intussen is daar al twee keer gepreek. Die plaaslike diensleraars doen hutbesoek en dit gaan uitstekend. Hulle droom nou selfs daarvan om ‘n kerkgebou op te rig! Ons het reeds ‘n stukkie grond bekom en wag nou in geloof vir bouers en boumateriaal. Ons besef net weer opnuut: die Here hou sy Kerk in stand; nie ons nie.

“Aangrypend was dat die Here in hierdie geval die jonger diensleraars van Msinga gebruik het; nie die ouer leraars nie. Ons kon as kerkleiers met mekaar daaroor praat; dat die Here vir ons jonger leraars gee aan wie Hy geleenthede wil bied – ons moet hulle dan bemagtig en toelaat om dit te doen.”

V.l.n.r.: Manqoba Mvelase, Karlie Liebenberg en Nkanyisani Mbata

 

Karlie vertel verder: “Ons as predikante van Bredasdorp en Msinga bemoedig mekaar op ‘n gereelde basis telefonies en deel dan met mekaar hoe elkeen op ‘n unieke manier ‘n pad met die Here stap.

“Die rooi, sanderige grond van Msinga voel op ‘n manier soos heilige grond; ‘n mens wil jou skoene uittrek om elke tree in gehoorsaamheid aan die Here en in God se teenwoordigheid te loop.”

“Soos op enige plek in die wêreld wys God ons die regte rigting; ons moet net bereid wees om sy stem te hoor en volgens sy weë te wandel.

“Die Msinga-uitreik het ons net weer opnuut bewus gemaak van op watter wonderlike manier God waarlik deur sy Kerk werk. Die geheim is om net gehoorsaam te wees.”

________________________________________

Durbanville Bergsig- en Suidpunt-uitreik

Ruan Viljoen, spanleier van die Durbanville Bergsig- en Suidpunt-span vertel: “Vanjaar was dit die tweede jaar wat Durbanville-Bergsig hande gevat het met die NG Kerk Suidpunt (Struisbaai), wat al baie jare in die area werksaam is, om uit te reik na Msinga.

“Die VGK Msinga dek ‘n groot area in Msinga, maar ons spesifieke fokus was die bediening by Keates Drift wat so 30 kilometer noord van Greytown geleë is.

“Die doel van die uitreik was onder meer om ‘n vakansieprogram vir die jong kinders en tieners aan te bied, die volwasse vroue te bedien deur die fasilitering van ‘n daaglikse vaardigheidswerkswinkel, om die plaaslike leraar te ondersteun, verhoudings met die gemeenskap te bou en ondersteuning te bied deur onder andere hutbesoeke en klereverkope. Ons het ook herstelwerk en onderhoud gedoen waar nodig.

“In totaal was ons 33 spanlede wat vanuit die Wes-Kaap gereis het waarna nog 8 lede van Greytown en Keates Drift by ons aangesluit het.

“Die uitreik was besonder geseënd en ons staan in verwondering oor die Here se werk in Msinga in die algemeen, en ook spesifiek in Keates Drift waar ons was. Dit was veral goed om beide bekende gesigte, asook ’n jonger generasie te sien wat besig is om al hoe meer by die gemeente betrokke te raak.

“Ons vra vir volgehoue voorbidding en dat God die gemeente in Keates Drift sal bewaar en seën.”

Hier is die span besig met Keates Drift se junior-bediening en dakherstel.

________________________________

Ten slotte

Die pas afgetrede ds Louwrens Schoeman, eertydse leraar van die VGK Msinga, laat weet: “Alhoewel ek afgetree is, kan my hart nie aftree nie; Msinga se Koninkryksenergie het in my bloed ingetrek!

“Ek prys die Here vir wat ek hier in Msinga sien – die jong standplaasleraars se nuwe, oop verhoudings met die jeug in Msinga. Die jongmense begin kerk toe kom! Hulle vra eksistensiële vrae; hulle lééf die antwoorde.

“Die mooi verhouding tussen die uitreikspanne en die jong standplaasleraars is nog iets waaroor ek diep dankbaar is; die verhoudinge vorm mooi.

“Die uitreikgemeentes se jongmense se verhoudinge met hulle maats in Msinga: Hulle kan praat oor ‘Waar kom jy vandaan?’ en ‘Ons as jeug voel dieselfde oor baie dinge …’ Ek sien hoe die Liggaam van Christus se ledemate met uitreikligamente sterk saamgebind word.

“Ek is opgewonde oor die invloed van die uitreike wat voortgaan na die uitreik, in die sin dat jongmense in Msinga self (by Keates Drift) begin Bybelstudie doen rondom Veritas se jeugboekie. Diensleraar Nkazinulo Ngcobo het al heelwat boeke bestel.

“En ten laaste – gesprekke gaan voort oor hoe Msinga die Wes-Kaap daar kan kom help!”

_____________________________________

Vir meer inligting kan dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za geskakel word.