Die 2024 Makhathini-span bestaande uit lidmate van Mikal Barnes se vorige gemeente, die NG Kerk Kandelaar in Noordwes en lidmate van sy huidige gemeente, Oosterlig in Pretoria.

_______________________________________

 

“Ek is so dankbaar dat ds Kunene ons hieraan herinner het; dat hulle my en ons spanne altyd in Makhathini verwelkom; dat hulle ons oor geloof leer. Ek is dankbaar dat hulle ons familie is en waardeer uit die diepte van my hart elke geleentheid wat hulle ons gee om ander jongmense te lei in hul verhouding met Jesus. Dit alles dra daartoe by om ‘n beter Suid-Afrika te bou waar daar die EENHEID in Christus is wat ons aan mekaar bind.”

Ds Mikal Barnes
NG Kerk Oosterliggemeente, Pretoria

_____________________________________________

 

“‘n Gelukkige en sinvolle lewe gaan veral oor die handhawing van goeie verhoudings en blootstellings.”

Volgens navorsers is dit die boodskap wat baie mense aan die einde van hul lewe aan hul nageslagte wil gee. As hierdie goeie verhoudings en blootstellings boonop as navolgers van Christus uitgeleef is, kan dit soveel meer betekenis aan jou lewe gee.

Met uitreike bereik jy sommer beide: goeie verhoudings én blootstellings; hiervan kan Mikal Barnes getuig.

Mikal wat al die afgelope tien jaar op uitreike na Makhathini gaan, is in Januarie vanjaar as leraar by die NG Kerk Oosterliggemeente in Pretoria bevestig. Hy beplan ook om vanjaar weer die Makhathini Vennootskapsvergadering te kom bywoon by Kylemore naby Stellenbosch.

Maar wie is Mikal nou eintlik en waarom is sy getuienisstorie oor die impak wat Makhathini sedert 2014 op hom gehad het en steeds het, so belangrik? Ons het gaan uitvind.

 

Mikal, watter rol het jou grootwordjare in jou lewenskeuses gespeel?

Mikal as jong Graad 10-leerder in 2014 met sy eerste besoek aan Makhathini op die dag wat hy sy hart vir die Here gegee het.

“Ek het grootgeword in die Roodepoort-omgewing waar ek my skoolloopbaan aan die Laerskool Horison en Hoërskool Florida voltooi het. My tuisgemeente was die NG Kerk Constantia-Kruin en dit was danksy hulle dat ek my eerste blootstelling aan ‘n Makhathini-uitreik gekry het. Ek moes op dié uitreik gaan as ‘n voorvereiste vir my belydenis van geloof.

“Dit was hier, tydens my eerste uitreik in Makhathini in my Graad 10-jaar waar ek my lewe op 2 Julie 2014 aan Jesus oorgegee het. Dis ook hier waar ek vir die eerste keer in my lewe die evangelie gedeel het met iemand en ‘n hoender as geskenk ontvang het.

“Voor dit was ek net ‘n kulturele Christen en het nie regtig ‘n verhouding met Jesus gehad nie.”

 

Hoe het jou “weghardlooppad” jou toe by jou voltydse roeping gebring ?

“In 2017 het ek ingenieurswese aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom gaan studeer en was nog aan die weghardloop van die roeping wat ek al in my Graad 10-jaar in my lewe ervaar het.

“Tydens die wintervakansie was ek weer op ‘n uitreik na Makhathini waar my roeping om voltyds in die bediening te gaan werk tydens die uitreik bevestig is. (Ek wonder dikwels waar ek vandag sou wees as dit nie vir Makhathini was nie.)

“Aan die einde van daardie jaar was ek ook saam met ons gemeente op ‘n uitreik na Indië. Hierdie twee ervarings het my gehelp om te besef dat ek voltyds vir die Here moes gaan werk.

“In 2018 het ek toe begin met teologie, ook aan die Noordwes Universiteit, tot 2020. Ek het in kerkplanting gespesialiseer en  my honneurs in teologie in 2021 behaal; dit was met die oog daarop om ‘n sendeling te word.

“Nadat my uitreike, onder andere na Sri Lanka, as gevolg van Covid gestuit is, het ek toe kontak gemaak met die Universiteit van Stellenbosch om daar verder te studeer. Ek het my MTh in 2023 aan US behaal.

 

Jy praat van hoe jou begrip van ‘uitreik’ verbreed is om ook ‘inreik’ in te sluit. Hoe het dit gebeur en wat is die effek daarvan?

“Vir die afgelope tien jaar praat ons altyd van die ‘uitreik’ na Makhathini, maar verlede jaar het ds Lucky Kunene van die VGK Makhathini my daarop gewys dat dit nie net ‘n uitreik is nie, maar ook ‘n inreik.

“Vanaf vanjaar het hierdie soort terme my begin pla. Ek het begin besef dat ons nie aparte groepe gelowiges is nie, maar dat ons werklik almal deel van een familie is. Ons is een in Christus; ons werk saam in God se Koninkryk.

“So, vanaf vanjaar het ek my taal verander – in plaas van ‘uitreik’ praat ek nou van ons span wat ons familie in Makhathini besoek en saam met hulle die Koninkryk van God bou.

“Ek is so dankbaar dat ds Kunene ons hieraan herinner het; dat hulle my en ons spanne altyd in Makhathini verwelkom; dat hulle ons oor geloof leer. Ek is dankbaar dat hulle ons familie is en waardeer uit die diepte van my hart elke geleentheid wat hulle ons gee om ander jongmense te lei in hul verhouding met Jesus. Dit alles dra daartoe by om ‘n beter Suid-Afrika te bou waar daar die EENHEID in Christus is wat ons aan mekaar bind.

“Dit is hierdie presiese EENHEID waarvoor Jesus in Johannes 17 bid; sy langste aangetekende gebed. Ek kan werklik getuig van hierdie eenheid wat ‘n werklikheid geword het in my verhouding met my medegelowiges in Makhathini oor die afgelope tien jaar.

“Vanjaar het ons werklik iets wonderliks hiervan ervaar. Die eenheid wat ons hierdie jaar tussen Afrikaanse witmense, Zoeloes en Zambiërs ervaar het, is ongelooflik. Ons noem mekaar broer en suster, familie in Christus en dit gee my soveel hoop vir ons pragtige land. En hierdie eenheid, volgens Jesus, is van kardinale belang, want dit is een van ons belangrikste getuienisse van Jesus se oproep tot ‘n nuwe lewe!

“In Johannes 17:22-23 staan daar: ‘ … dat hulle een mag wees soos ons een is.” In vers 23 staan daar: ‘Ek in hulle en U in My—sodat hulle tot volle eenheid gebring mag word. Dan sal die wêreld weet dat U My gestuur het en dat U hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.’

“Ons eenheid is so belangrik – laat ons voortgaan om in hierdie eenheid te lewe en dit te deel!”

 

Jy werk ook nou saam met geestelike werker, Zaheus Ngwenya en teologiestudent, Phumlani Ngwenya. Vertel meer van hulle.

“Dit is regtig ‘n seën om saam met Baba (vader) Ngwenya te werk, om saam met hom te evangeliseer en van hom te leer. Baba Ngwenya is een van my mentors in my eie reis met God. Ek het soveel by hom geleer oor die afgelope jare. Hy is vervul met Goddelike wysheid en het ‘n diepe liefde vir Jesus en sy familie. Hy is ‘n wonderlike vader met wonderlike kinders. Hy het my lewe diep geraak.  Tot op hede was hy een van die mense wat die grootste impak op my geestelike lewe gehad het.

“Sy motto is ook: ‘The work must continue!’

Baba (vader) Zaheus Ngwenya oor wie Mikal getuig: “Ek het so baie by hom geleer.”

“Nog ‘n groot seën is om Phumlani Ngwenya oor die afgelope drie jaar te kon leer ken en saam met hom te kon werk. Hy is my broer in Christus en ek het verstommende groei in sy karakter, houding en verhouding met God gesien en ervaar.

“Phumlani het my met wonderlike woorde geseën: ‘Mikal, onthou altyd, jou wandel met die Here is belangriker as jou werke vir die Here. Die werke vloei uit jou wandel’.

“Hierdie herinnering het my op soveel maniere ondersteun. Dit is deesdae moeilik om ‘n jong persoon in die bediening te vind wat regtig sy verhouding met God sy nommer een prioriteit maak; ons het meer leiers soos hy nodig. Phumlani is ‘n wonderlike en diensbare leier – hy het ‘n gawe om die evangelie maklik verstaanbaar aan ander te verduidelik; hy leer mense van Jesus op ‘n mooi manier. Ek bid dat God hom tot voltydse bediening in hulle gemeente sal roep.”

Phumlani Ngwenya (links), Mikal en nog spanlede tydens ‘n hutbesoek.

 

Wat is jou gebed vir Makhathini, Mikal?

“Ek bid dat God Makhathini se kerkleierskap sal seën met wysheid en insig om die gemeente in ‘n uitdagende tyd soos hierdie te lei en ook veral in ‘n belangrike tyd van leierskapsoorgange.

“Mag God hulle leidende lig wees. Mag Makhathini aan Christus se voete val in eerbied en afhanklikheid. Mag hulle Hom bo alles soek, mag hulle elke oggend aan hulself sterf om ten volle vir Christus te lewe. Mag die karakter van Jesus in elkeen van hulle sigbaar wees (Fil 2:5). Mag hul passie vir God en sy Woord elke dag toeneem. Mag hulle volhard en getrou bly in die meedeel van die evangelie. Mag God hulle seën en bewaar.”

Lees meer oor die VGK Makhathini HIER.

“The work must continue!”

____________________________

Kontak ds Louwrens van der Westhuisen by weshuis7@gmail.com vir meer inligting.