“Ek het vier maande gelede vir die eerste keer ma geword; iets waarop niks jou kan voorberei nie, ” vertel Marizanne Pfeil-Wessels, lid van ons Groenspan en predikant van die NG Kerk De Aar.

“Vroue voel maklik hulle misluk in hul poging om ekologies volhoubaar hul baba groot te maak. Hulle probeer deur ‘n all or nothing-ingesteldheid alles perfek doen. Hulle koop net organiese seep, organiese room, lapdoeke en speelgoed van hout. As jy dan enigiets anders (soos weggooibare produkte) gebruik, voel jy dan maklik ‘n mislukking, asof jy meedoen om die aarde nog verder skade te berokken.

“Ouers, veral die ma’s, is onder soveel druk om alles perfek te doen, maar dis onmoontlik. Niks en niemand is perfek nie en daarom het ek al voor ons baba se geboorte besluit dat ek eers op net een aspek van volhoubaarheid sal fokus, naamlik op ons koop-kultuur vir die baba-fase.

“Ons leef in ‘n baie gemaklike era waar daar ‘n speelding of gadget vir elke liewe situasie onder die son is en daarom het ons toe besluit om voor ons kind kom, net die nodigste aan te koop. Daarna sou ek slegs aankoop soos wat ons iets benodig. Dit het beteken dat ons minimaal onnodige goed in die babakas gehad het. Met die lapdoeke het ek letterlik en figuurlik die handdoek ingegooi; dit was ‘n jammerlike mislukkig.

 

Volhoubare wet wipes

“Ons het toe besluit om net wet wipes te gebruik wat maar eintlik net waslappies is, ‘n alternatief tot weggooi wipes. Ek het twintig lappies by Pokkelokkie Cloth gekoop en daarna het ek handdoekstof by die materiaalwinkel gaan koop en nog ‘n paar lappies geknip en omgekap. Ek het ook  groter handdoeke aangeskaf om op die doeketafel te sit wanneer ons doeke ruil.

“Die voordeel van die waslappies is dat ons elke derde dag ‘n hele bondel lappies was wat in die toekoms, wanneer ons deur die doeke-fases is, saam vasgestik kan word om groter vloerlappe te word!

“Elke klein veranderinkie help. Daarom stel ek voor dat ouers net een aspek van baba-uitgawes kies wat vir julle belangrik is en dan daarop fokus.

“Jy is alreeds ‘n superhero net omdat jy as ma (en pa) jou beste vir jou kind wil gee!”