Onderwysers kan ‘n kind maak of breek. As jy egter jou klaskamer as die plek beskou wat Christus aan jou toevertrou het om heel te maak, op te hef en kinders in hulself te laat glo en te bemagtig, is dit nie net tot groot seën vir daardie kind nie, maar ook vir sy of haar hele gemeenskap, ons mooi land en ook uiteindelik vir die hele wêreld. As so ‘n onderwyseres dan uit die bloute ‘n boodskappie ontvang om te laat weet: ek het dit gemaak, wil jou hart bars van vreugde! Dít is die storie van Mxolisi Ndlovu …
___________________________________________
“Thank you, Ma’am, for everything you did for me while I was still at Langelihle High School. Your support, both physical and emotional, especially after the passing of my grandmother in 2021, meant so much to me. Even though things seem difficult at home, I want to express my heartfelt gratitude to you and your husband. Please convey my thanks to him as well as for everything you both have done for me. I’m currently at the University KwaZulu Natal Westville Campus, doing my first year in the Bachelor of Physiotherapy programme.”
Dit is die WhatsApp-boodskap wat Jeanne van der Westhuizen, wiskunde-onderwyseres van die Hoërskool Langelihle (mooi son), gisteraand onverwags van haar oud-leerling, Mxolisi Ndlovu, ontvang het. Jeanne is ook die vrou van ds Louwrens van der Westhuizen wat saam met hom die VGK Makhathini in KwaZulu-Natal bedien.
Jeanne, dit moes vir jou iets besonders wees om so ‘n boodskap te kon ontvang, né? Vertel vir ons meer van Mxolisi.
“Ja, ek was totaal uit die veld geslaan toe ek gisteraand hierdie mooi boodskap van Mxolisi ontvang het. Ek het dit ook dadelik met ons Makhathini-WhatsApp-groepie gedeel, omdat daar so baie vir ons bediening gebid word.
“In 2021 was Mxolisi een van die leerlinge in my Graad 10-wiskundeklas. Ek kon sien dat hy baie arm is en swaar kry, veral nadat sy ouma, wat hom grootgemaak het, ook later daardie jaar oorlede is. Van toe af het hy niemand gehad nie. Sy ouma was maar die een wat gesorg het dat daar kos op die tafel was. Na haar dood was daar dikwels geen kos in hulle huis nie.
“Ten spyte daarvan het hy báie hard gewerk en was die beste leerder in die klas – nie die slimste nie, maar die beste, omdat hy so hard gewerk het. Hy het altyd ál sy werk gedoen.
“Ek het die hele klas, elke dag voordat ons begin, Fil. 4:12 laat opsê, naamlik: ‘Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.’ As jy niks het om aan vas te hou nie, kan so ‘n vers jou anker en lewensredder word.
“Dalk het dit hom geïnspireer, maar Mxolisi het aangehou om hard te werk totdat hy toe in Graad 12 wél die slimste kind in die klas was! Hy het nie net eerste gestaan in Langelihle nie, maar hy was ook die top-student in die hele Umkhanyekude Distrik en vandag is hy op universiteit!
“Ek wil eintlik maar net sê: Die Here is goed, want dit is Hy wat hierdie dinge doen; nie ons nie. En dat iets wat ‘n mens dalk doen en nie eers aan dink nie, soms vrug dra sonder dat ons dit verwag, want die Here werk in die verborgene.
“Die Here doen wat Hy sê in sy Woord. In 1 Samuel 2:8 (AFR20) staan: Hy laat armes uit die stof opstaan, van die ashoop af hef Hy behoeftiges op om hulle by vooraanstaandes te laat sit en ‘n ereplek hulle erfdeel te maak. Ja, aan die Here behoort die fondamente van die aarde, Hy het die wêreld daarop geplaas.
“So, aan Hom kom toe al die eer!”
Louwrens, julle kerk het ook met behulp van die Global Challenge-groep die nood van Mxolisi-hulle se omstandighede help verlig. Vertel meer
“Ja, ek onthou nog goed toe ons daardie dag na sy ouma se dood Mxolisi-hulle se huis gaan besoek het met ‘n Bucket of Love – ‘n emmer met basiese kosvoorraad. My hart het gebreek toe ek die armoede daar rondom my sien; as ek reg onthou, het die huisie boonop ‘n grondvloer gehad.
“Maar hierdie jong seun het elke geleentheid moedig aangegryp om iets van die kanse wat die lewe hom gee, te maak. Hy was vasbeslote om iewers in die lewe te kom.
“Jeanne het gereeld vir my kom vertel hoe hard hy in die skool werk; hoe hy absoluut sy bes probeer om bo uit te kom en net sy allerbeste gee.
“Hy is ‘n tipiese voorbeeld van ‘n kind wat letterlik en figuurlik uit die stof opgestaan en sover ‘n merkwaardige sukses van sy lewe gemaak het.
“Ek is seker daavan dat Jeanne baie vir hom in die skool moes beteken en hom baie moes bemoedig het; ‘n mens lei dit ook af in sy boodskap.”
En ‘n laaste woord van Mxolisi
“May God bless you and all your family and fulfill all your dreams. Thank you, I even don’t know how I could thank you Ma’am. I will always work hard, and I will never forget you in my life. You played a huge role to where I am right now. You’ll always be in my heart. Thank you, a lot, Ma’am🙏🏿”
________________________________
Vir meer inligting kan ds Louwrens van der Westhuizen gekontak word by weshuis7@gmail.com.