In 1935 skryf die Engelse digter, essayis en dramaturg, TS Eliot: “… human kind cannot bear very much reality.” [1]

Dit is moeilik vir die mens om lank stil te staan by dit wat werklik is; dis moeilik om met die realiteite van die lewe eerlik om te gaan en daarin te lewe. Ons vlug en ontvlug liewer in ‘n wêreld in wat  ons aandag aflei van die werklikheid.

Dit gaan vir ons egter al moeiliker word, want die ontstellende en uitdagende werklikheid gaan in omvang en intensiteit en impak toeneem.

Luister ‘n mens na gesprekke met sielkundiges en akademici en programme oor geestesgesondheid oor die radio dan kom jy onder die indruk van die geweldige druk waaronder mense vandag lewe. ‘n Gevoel van oorweldig wees is besig om wydverspreid voor te kom en in intensiteit toe te neem. Sosiale media maak dat ons nie net onmiddellike toegang tot inligting het nie, maar ook dat ons oorstroom word deur ‘n oormaat van inligting. Ons word oorlaai met inligting oor alles en van oral oor die wêreld.  Dit is opsigself alreeds te veel om te verwerk en oorweldigend.

Voeg hierby dat baie van die nuus ook “slegte” nuus is. “Slegte” nuus demoraliseer ons. Dit vreet aan ons innerlike vrede en hoop. Baie van dié nuus het ook met klimaatsverandering te doen.  Klimaatsverandering is nie meer net iets wat voorspel word nie; verslae stroom in van oor die hele wêreld van natuurverskynsels wat direk die gevolg is van klimaatsverandering. Die nuus bly vol berigte van buitengewone hittegolwe, oorstromings, orkane en verwoestende brande. Beeldmateriaal konfronteer ons met die gewelddadige en vernietigende impak wat hierdie gebeurtenisse het.

Die sielkundige impak wat hierdie nuus op ons het, is onder andere verhoging in gevoelens van bedreig wees, angs, magteloosheid, irritasie en selfs woede. Die kans dat hierdie soort berigte in die nuus al meer gaan word, is ‘n gegewe. Ons gaan dit egter nie net oor die nuus verneem nie; ons gaan dit toenemend aan ons eie lyf ervaar. ‘n Toename in natuurrampe is ons voorland. En dit beteken dat ons al meer deur krisisse gekonfronteer gaan word. Ons sal moet leer om in krisis-modus te leef.

Hierdie werklikheid bedreig en impakteer nie net ons geestesgesondheid nie. Dit gaan ook nie net groot druk sit op infrastruktuur en bronne (ekonomie) nie, maar veral ook op ons menseverhoudinge. Die potensiaal vir die eskalering van konflik tussen mense is ook aan die verhoog – tussen bure, belangegroepe en nasies.

‘n Nuwe buurman het onlangs ‘n erf langs ons gekoop. Ons ontmoeting was vriendelik en aangenaam. Dit was somer met sy aankoms. Ons woon saam aan die voet van Ontongskop (deel van die Ubiqua-bergreeks). Buurman se erf lê laer as ons werf. Toe word dit winter. En ons beleef die natste Juliemaand sedert ons hier kom woon het. Ons ontvang meer as 253mm reën. En wat ‘n berg doen as hy versadig raak, is om die oortollige water deur strome en syfering los te laat. En ons het ‘n dam (nie baie groot nie) wat nog nooit regtig ernstig oorgeloop het nie. Sy oorloop saam met al die syferwater uit die berg wat deur ons erf syfer, vat onder andere pad na my nuwe buurman se erf.

Hy was baie geduldig met die water, totdat sy voertuie sy erf papperny gery het en een van hulle tot op sy maag vasgeval het. Enkele dae later hoor ek hoe hy met ‘n slootgrawer in die grondpad tussen ons erwe aangery kom. Uit vorige ondervinding wis ek dat daar ‘n goeie kans was dat sy gewerskaf die pad sodanig kan beskadig dat ek gaan sukkel om met ons voertuie te kan in en uit. Die enigste toegang na ons motorhuis is regoor sy erf en die plek waar hy ‘n dreineringsloot wou grawe. Toe ek vir hom vra om net eers vir my kans te gee om my voertuig te verwyder voor die pad dalk vir my onrybaar word, was dit duidelik dat die moeras wat die water van sy erf gemaak het vir hom te veel geword het. Die woorde uit sy reaksie was onder andere die volgende: “Ek is nou keelvol!” Dit was duidelik dat hy te veel gehad het. En omdat die meeste water wat in sy erf ingesyfer het van ons af gekom het, het hy my kwalik geneem vir sy krisis. (As hy nie geweet het ek is ‘n dominee nie sou hy sekerlik heelwat sterker taal gebruik het.)

My en buurman se uitdaging is om die krisis wat die oormaat water van hierdie winter veroorsaak só te hanteer dat ons verhouding groei en nie skade lei nie. Dit is egter nie net ons twee se uitdaging nie. Natuurrampe gaan vanweë klimaatsverandering meer intens en meer dikwels voorkom in die toekoms en ons almal se verhoudinge onder druk sit. Ons sal moet leer hoe om ons eie en mekaar se keelvol-gevoelens te erken en te bestuur, sodat ons nie mekaar uiteindelik letterlik aan die keel gryp nie.

Hierdie feite stel die ekumeniese kerk voor groot uitdagings. Geestesgesondheid en verhoudings is immers wesenlik deel van die kerk se agenda. Een van die terreine waar die kerk ernstig oor hierdie uitdagings sal moet dink en beplan, is teologiese opleiding. Leiers van geloofsgemeenskappe sal vir die groter en intenser-wordende “very much reality” en die impak daarvan toegerus moet word.

Vrede vir jou en jou omgewing.

__________________________________

Kontak vir David Botha by dpbotha2@gmail.com vir meer inligting.

__________________________________

[1]Dit kom uit die eerste deel van Burnt Norton, die eerste van sy The Four Quartets wat hy in 1935 geskryf het; p 190, Collected Poems 1909-1962, uitgegee deur Faber & Faber, 1963.