Ds João Herbath Kachemue en Danie Murray tydens een van hul gemeentebesoeke

 

Hoe gemaak as jou voertuig vir sinodale gebruik nog net gebruik kan word vir kort afstande dorp toe, maar glad nie meer vir lang afstande geskik is nie en nog net op gelapte genade loop?

Danie Murray van die NG Kerk Proteahoogte se Handevat-projek, voorheen predikant van ons susterskerk in Mosambiek, die IRM Tumbine Sinode in Milange-gemeente, verduidelik: “Nadat verskeie voertuie oor die jare vir sinodale diens ingespan kon word totdat hulle een-vir-een die gees gegee het en my ou rooi bakkie darem nog vir kort afstande ingespan kan word, ag die algemene sekretaris van die Tumbine Sinode, ds João Herbath Kachemue dit nou broodnodig om ‘n goeie tweedehandse bakkie vir die lang afstande in diens van daardie wyd-uitgestrekte sinodale gebied aan te skaf.”

Daniël de Wet van Getuienisaksie is baie dankbaar vir donasies wat reeds ingekom het en gemeentes wat finansiële bydraes gemaak het, maar ons kort nog heelwat fondse om in hierdie broodnodige behoefte te voorsien.

Sedert Danie Murray terug is in Suid-Afrika, gaan hy gereeld ‘n paar keer per jaar op besoek na Mosambiek om kosbare gemeente- en kerkleierskapsopleiding daar te gaan doen.

“Aangesien die sinode baie op my besoeke vanuit Suid-Afrika aangewese is om hulle met vervoer aan die verafgeleë gebiede te help, is hulle verplig om hul programme rondom my besoeke te beplan,” vertel Danie. Dit is egter nie die ideaal nie, omdat daar dikwels gemeente- en ringsake is wat dringend aandag verdien en nie kan wag totdat Danie eendag weer daar kom nie. So bly noodsaaklike gemeente- en ringswerk dikwels agterweë en gemeentelede en kerkleierskap kan maklik voel hulle word deur die sinode in die steek gelaat. Vervoer is dus krities belangrik om sinodale werk aan die gang te hou en om dit veral onafhanklik te kan doen van my besoeke, anders skep dit baie probleme.

Die paaie in Mosambiek is ‘n groot uitdaging.

Oor die jare het van die IRM-leierskap al genoeg kennis en agtergrond ten opsigte van die onderhoud van bakkies opgedoen en is die tyd tans ryp dat ons hulle nou kan bystaan met die aankoop van ‘n goeie tweedehandse bakkie. Toerusting en rentmeesterskap ten opsigte van die onderhoud en eienaarskap van ‘n voertuig is egter van kardinale belang; ‘n pad wat Danie bereid is om met hulle te stap tydens sy besoektye daar.

Wat die ideaal is, is as ons donateurs ook ‘n stem hierin kan hê en met hul deurlopende belangstelling en bereidheid om te help met raad oor byvoorbeeld voertuigonderhoud, saam met ons medegelowiges in Mosambiek kan hande vat en sodoende ‘n praktiese bydrae kan help maak – om nie net die bestaande gemeentes daar te help ondersteun nie, maar dit ook moontlik kan help maak dat die IRM die onbereikte gebiede buite die sinodale ringe kan bereik en hul sendingwerk daar help bevorder.

Kontak Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting. Vir diegene wat graag ‘n bydrae wil maak:

Bankbesonderhede:

Naam:                NG Kerk in SA (Getuienis)
Bank:                  Nedbank
Takkode:            198-765
Rek. nr.              1135-900-280
U verwysing:     Tumbine Sinode-voertuig
Ons verwysing: U naam en van