V.l.n.r.: Daniël de Wet, mev. Ngubane (kerkraadsvoorsitter en maatskaplike hulpwerker), Nonhlanhla Gumbi (onderwyseres), Xolani Sibiya (prediker en opsigter), Thandazile Ngubane, ds B. T. Sithole en Ryno Els

 

Op Woensdag 23 Maart het Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, Ryno Els en Janneke Marais van die NG Toringkerk in die Paarl, na Msinga vertrek.

“Die doel van ons besoek was om al die kerkleiers van die VGK Msinga persoonlik te ontmoet, soveel as moontlik van hul bedieningspunte te besoek en eerstehands kennis te neem van die uitdagings wat tans daar ervaar word,” vertel Daniël. “Dit was ook vir ons belangrik om die kerkleiers en gemeentelede daar van die Sinode Wes-Kaap en VGK Streeksinode Kaapland se volgehoue verbintenis te verseker.”

Daar is besoek gebring aan skole en kleuterskole en gesien hoe van die jonger kerkleiers, veral ten opsigte van lewensvaardighede, ‘n groot impak op die kinders het. Hierdie jong leiers word met oop arms deur die skole verwelkom, want hulle sien watter groot verskil dit in die lewens van die kinders maak.

“Persoonlik het dit vir my baie beteken om te sien hoe toegewyd die gemeentelede is,” vertel Daniël. “Ons het groot dankbaarheid vir dr Lourens Schoeman wat in Ladismith woon – vir die rol wat hy speel en sy betrokkenheid. Daar is ook groot waardering vir al die ander leraars in die VGK Msinga vir hul toegewydheid.”

V.l.n.r.: Janneke Marais, biskop Mdu Zondo (biskop en kunstenaar), Daniël de Wet, ds. ST Zuma en Khanyisani Mbatha (lewensafrigter van Nhlalakahle)

 

“Msinga was vir my ‘n ongelooflike ervaring,” vertel Janneke Marais, jeugwerker by die NG Toringkerkgemeente in die Paarl. “Noudat ek fisies daar was, sal ek nooit weer anders oor Msinga kan dink nie … Dit was vir my ‘n groot voorreg om hierdie mense te kon ontmoet en in die oë te kon kyk. Veral die manier hoe kerkleierskap oor kerkwees en volhoubaarheid dink, was baie leersaam. Hulle Veritas-inisiatief het my laat besef hoe dit jou kan bemagtig om die roeping in jou gemeente te kan uitleef. Opvallend was ook die vroue wat so ‘n prominente rol in die kerk speel. Mans is in die minderheid, maar programme soos ‘The World Needs a Father’ word alreeds gereeld aangebied. Ek droom saam met hierdie gemeente dat hulle leierskap sal uitbrei; dat elke gemeente hul eie predikant sal hê; dat daar ‘n moontlikheid is dat dit binnekort kan gebeur. Ek kon ook die moontlikheid sien dat die huis by Pomeroy byvoorbeeld ‘n soort Echohuis sou kon word wat ‘n tuiste gee vir jongmense sonder ‘n huis of kinders uit kinderhuise wat ‘n tweede kans op ‘n mooi toekoms hier kan ervaar. Ek wens ook ons kon meer kontak op ‘n gereelde basis met mekaar hê; persoonlik incheck op mekaar soos ek destyds met my penvriende op skool gehad het.”

“My ervaring van Msinga is dat dit jou sal help om ‘n missionale ekklesiologie te beliggaam op ‘n praktiese manier,” sê Ryno Els, predikant van die NG Toringkerk in die Paarl. “Ons praat daaroor en bereik dit nie, maar ons kan daaroor baie leer by ons broers en susters in Msinga – oor hoe die kerk behoort te operate… Jy reik soontoe uit om by hulle te gaan leer oor God. Ons reis dikwels en ken nie ons landsburgers nie – in Msinga het jy die voorreg om iets van die Zoeloe-kultuur te leer wat so ‘n diep en wonderlike kultuur is en so lief is vir dieselfde Here. Jy kom verryk terug – met ‘n diepte en liefde vir God en ‘n passie vir verhoudings – dat ons wil saamwerk en by mekaar wil leer. Hierdie kontak kan vir jou van groot waarde wees, veral in hierdie land met al sy diversiteit en uitdagings. Dis dalk die missing link in baie van ons gemeentes.”

V.l.n.r.: Slomo Mchunu (Jeugleier en Veritas-student by Keate’s Drift), Daniël de Wet, Nkazimulo Ngcobo (prediker, lewensafrigter en Veritas-dosent by Keate’s Drift) en Ryno Els

 

Na hierdie besoek wil Getuienisaksie ook ons eie VGK- en NGK-gemeentes in die Wes-Kaap motiveer om by die wonderlike werk wat in Msinga gedoen word, betrokke te bly. Gaan gerus weer op uitreike – blootstelling van ons as medegelowiges se wêrelde aan mekaar is van onontbeerlike waarde. Ons weet dat die die afgelope jaar weens COVID-19 nie moontlik was nie, maar daar is nou weer ‘n wonderlike geleentheid om die bande te versterk en die liefde van Jesus op so ‘n manier uit te leef.

Lees meer oor die Msinga Vennootskap en ook Msinga.

Kyk ook gerus na die video wat deur Janneke Marais gemaak is oor die werk wat in Makhathini gedoen word – hopenlik sal dit julle inspireer om ook daarby betrokke te raak.

Gemeentes wat betrokke wil raak, is baie welkom om vir Daniël te skakel by missio@kaapkerk.co.za.