Gemeenteleiers vergader by Jozini
Vanaf 30 Maart tot 3 April was Daniël de Wet, bestuurder van ons Taakspan Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, op besoek aan die VGK Makhathini in die heel noordelikste gedeelte van KwaZulu-Natal.
“Die doel van die besoek was om soveel as moontlik van die bedieningsleiers te kon ontmoet en om met die kerkraad te gesels oor die toekoms van die bediening. Ek wou hulle ook verseker van ons volgehoue betrokkenheid vanuit Wes-Kaapland,” vertel Daniël. “Ons het ook geleenthede ondersoek waar ons vir gemeentes kan uitnooi om betrokke te raak.
“Daar is byvoorbeeld die Makhathini Vennootskap wat uit ‘n hele aantal gemeentes bestaan, maar wat nog verder kan uitbrei. Dit bied die geleentheid aan mense om die bediening eerstehands te beleef. Vir gemeentes wat nog nooit daar was nie, is dit dalk die maklikste om eers net ‘n besoek daar te gaan aflê en te gaan kyk wat die werk alles behels voordat hulle hulself tot die vennootskap verbind.
“Ons wil in hierdie tyd gemeentes opnuut aanmoedig om weer op uitreike te gaan,” sê Daniël. “Ons weet dat dit, weens COVID-19-beperkings, vir gemeentes moeilik was om die afgelope twee jaar te kon uitreik, maar daar is nou weer ‘n wonderlike geleentheid om soontoe te gaan.”
Vir baie gemeentes behels die uitreike die instandhouding van infrastruktuur, evangelisasiewerk en om saam met die plaaslike kerkleiers te werk.
“Die gemeente se kinderbediening geniet ook hoë prioriteit,” vertel Daniël. “Daar is ‘n paar kleuterskole onder gemeentelike beheer. In die verlede was daar mense uit ons sinodale gebied wat daar gaan werk het om die kleuterskoolpersoneel by te staan. Daar is ook sorgwerkers wat opgelei word om mense in hul huise te versorg en lewensvaardigheidsprogramme wat aangebied word. Die laaste ruk is ds Louwrens van der Westhuizen se fokus baie sterk op die leierskapsontwikkeling van gemeenteleiers.

Daniël de Wet neem leiding tydens ‘n biduur
“Ons vra voorbidding vir die bediening daar en as daar gemeentes is wat betrokke wil raak, wil ons julle uitnooi na die Makhathini Vennootskapsvergadering. Dit word later vanjaar in die Strand op Saterdag 8 Oktober gehou.
“Die Makhathini-vlakte is ‘n area waar ‘n mens binne die Zoeloe-kultuur ‘n heel ander deel van Suid-Afrika beleef. Die liefde van die Here was so duidelik sigbaar tydens die geleenthede waar ons saam gebid en gesing het, en waar ons as broers en susters – al kom ons van verskillende dele van die land en praat verskillende tale – mekaar binne die liefde van Christus kon vind.
“Dit was vir my ‘n hoogtepunt om Makhathini te kon besoek en my wens is dat daar soveel moontlik van ons gemeentes weer daarheen op besoek sal kan gaan,” sê Daniël.
Vir meer inligting kan julle Daniël de Wet kontak by missio@kaapkerk.co.za of direk met Louwrens van der Westhuizen skakel by weshuis7@gmail.com.
