V.l.n.r.: Daniël de Wet, Danie Möller en Clive Jacobs
Op Woensdag 19 Oktober was dit die eerste keer na twee jaar (as gevolg van COVID-beperkinge is 2021 en 2022 oorgeslaan) dat die jaarlikse Waarderingstee vir ons oud-sendelinge aangebied kon word.
Daar was ‘n lekker groot groep by die NG Kerk Strand-Noord byeen. Die verrigtinge is deur Getuienisaksie se mede-voorsitter, ds Clive Jacobs van die VGK Stellenbosch geopen en ds Danie Möller, ons ander mede-voorsitter, het ons nuwe taakspanbestuurder van Afrika Ekumene, dr Daniël de Wet, aan die groep bekendgestel.
Dit was besonders dat oom David Botha, seun van die pioniersendeling van Nigerië, George Botha, ook teenwoordig kon wees. Oom David is ‘n lidmaat van Clive se gemeente en was as klein seuntjie al Clive se rolmodel toe oom David sy dominee in Malmesbury was. Baie dankie aan Selma Botha, Johan Botha se vrou – Johan was oom David se oudste seun – wat hom daar besorg het en ook daar was.

Oom David Botha (links) by sy dominee, Clive Jacobs (middel) en Johanna Philander (regs) oom David se persoonlike versorger.
Nog ‘n hoogtepunt was dat Daniël se pa, Koos de Wet en sy vrou, Mariaan, ook teenwoordig was.
Dit was ‘n voorreg om vir Ester Retief wie se man, Deon, wat groot spore in Malawi se onderwys getrap en verlede week oorlede is, ook daar kon wees. Martin Pauw, een van ons vorige sendingsekretarisse, het ‘n pragtige huldeblyk oor Deon se lewe geskryf.
AnnaMarie de Klerk kon tydens hierdie geleentheid ‘n eksemplaar van haar nuwe boek, nog nat van die drukkersink, oor haar besondere mentor tydens haar sendingwerk in Malawi, Ednes Kagundu, aan Daniël oorhandig.

AnnaMarie de Klerk oorhandig haar nuwe boek oor die lewe van Ednes Kagundu aan Daniël de Wet
Berlise Louwrens van CLF was ook daar met ‘n pragtige boekuitstalling en kon ‘n paar nuwe boeke op die rak aan ons bekendstel.
Ons bedank Mickey Bouwer vir die puik reëlings van die geleentheid en vra dat julle haar kontak by kga1@kaapkerk.co.za indien julle weet van oud-sendelinge wat nog nie op ons uitnodigingslys is nie.
Kontak Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
