In Januarie 2009, net een jaar voor sy dood, lewer Steve de Gruchy ‘n voordrag by die World Forum on Theology and Liberation in Belem, Brasilië. Die titel van sy voordrag was Dealing with Our Own Sewage: Spirituality and Ethics in the Sustainability Agenda.*
Vir Steve de Gruchy, in navolging van Klaus Nürnberger, is daar ‘n direkte verband tussen ekonomie en ekologie. En een van die plekke waar ons dit duidelik kan sien, is in die probleem van marginalisering (die uitskuif van mense na die rand van die samelewing). Dit is hulle wat op die rand leef wat eerste swaarkry. Daarom behoort die kerk die probleem van ons ekonomies-ekologiese krisis aan te spreek vanaf die posisie van die armes. En wie by die armes gaan staan, kan nie anders as om by die vraagstuk van ons menslike afval te begin nie. Hierdie vraagstuk behoort die konteks te wees wat ons spiritualiteit en “etiek van volhoubaarheid” skep en vorm. Hy haal vir Victor Hugo aan wat in Les Miserables skryf: “The history of men is reflected in the history of sewers …. The sewer is the conscience of a city.”
Hiermee sit Steve de Gruchy ‘n baie ongemaklike onderwerp op die kerk se agenda. Ons beskaafdes praat nie eintlik graag oor ons eie afval nie. Ons het daaraan gewoond geraak om dit weg te spoel na rioolaanlegte en uit te sit vir die munisipale werkers om na ons stortingsterreine weg te neem – in die hoop dat ons sodoende daarvan ontslae kan raak. Maar ons afval gaan nie weg nie. Ons verplaas dit slegs na ‘n plek buitekant die stad en dorp. En dan is dit ook juis by ons riool en afval wat ons die armes van ons samelewing ontmoet.
By ons rioolaanlegte en stortingsterreine ontdek ons hoe verweef ekonomie en ekologie is. Drie dinge ontmoet mekaar daar: “Prosperity, Poverty and Pollution”(Klaus Nürnberger). Mense wat welvarend leef veroorsaak vreeslik baie afval. Die armes wat uit die sentrum van die stads- of dorpslewe uitgestoot is, soek en maak ‘n bestaan van hierdie afval. Die afval is egter erg besoedel en hou daarom ‘n groot gesondheidsrisiko in vir die armes.

Ons riool
Die geskiedenis het al meermale getoon dat menslike riool potensieel groot gevaar inhou – veral vir die armes. So onlangs soos Desember 2008 was daar ‘n uitbraak van cholera in Zimbabwe wat die dood van 1,800 mense tot gevolg gehad het. Cholera versprei en ruk handuit wanneer daar ‘n totale verval is in publieke gesondheidsorg, watersuiwering en regering. In 2009 sê De Gruchy was daar reeds duidelike aanduidings dat die Limpoporivier met cholera besmet was. Die besoedeling van die meeste van Suid-Afrka se riviere is ‘n feit en iets wat skrikwekkend toeneem. Riool is een van die groot besoedelaars. Baie munisipaliteite in ons land slaag nie daarin om rioolwerke in stand te hou en te bestuur nie.
In Februarie 2020 rapporteer The Mail & Guardian dat daar steeds 12,000 huishoudings in Suid-Afrika is wat die emmerstelsel vir rioolafval het en dae kan verbygaan wat dit nie geledig word nie. Ons hoor gereeld oor die nuus van riool wat in dorpe en veral “townships” se strate bo die grond loop. Die groot reëns wat KwaZulu-Natal onlangs getref het (wat met klimaatsverandering verband hou) het groot skade aan riooleringstelsels aangerig. Van dié skade is nou nog nie heeltemal herstel nie. Dit hou reuse-gesondheidsgevare vir mens en dier in. Daar is van volhoubaarheid geen sprake in sulke omstandighede nie. Daarom vra De Gruchy: “How do we manage our waste and our water so that the poor do not die of cholera?” Hierdie vraag hoort op die Olyfagenda, sê hy. Volgens hom het ‘n Christelike spiritualiteit ook met menslike riool te doen.
Ons huishoudelike afval
De Gruchy het nie self oor huishoudelike afval en ons stortingsterreine geskryf nie. Sy opmerkings oor riool en die gesondheidsgevaar wat dit vir die armes inhou, impliseer dit egter. Dit wat die meer welvarendes in die samelewing weggooi (as vullis uitsit), het vir baie armes via die informele waste pickers-ekonomie hul enigste bron van inkomste geword. Daarom bestaan daar al groot dorpe by van die groot stede van die wêreld se stortingsterreine. Die armes woon daar en maak nie net ‘n lewe van die welvarendes se afval nie, maar roep ook vir ons wat in dorpe en stede woon om te kom kyk en sien hoeveel afval ons industriële en ekonomiese stelsels veroorsaak. Hierdie kwessie hoort ook op die kerk en gemeentes se Olyfagenda. Lees asseblief Mariëtte Odendaal se artikel, ‘n Teologie van Afval en Gemors, wat onlangs in Vrypos verskyn het hier.
Is dit op ons agendas?
Ek wonder of daar ‘n kerkraad of kerklike vergadering is wat al die saak van riool en vullis op hul agenda gehad het. Weet julle dalk van een? Of weet jul dalk van ‘n kerkraad wat al ‘n besoek gaan aflê het by hul dorp/stad se stortings- en riooleringsterrein?
Diep vrede vir jou en jou omgewing.
david p botha
dpbotha2@gmail.com
* Hierdie voordrag was die eerste keer gepubliseer in die Journal of Theology for Southern Africa 134 (2009), 53-65 en is ook opgeneem in die huldigingsbundel ter ere van Steve de Gruchy, Keeping Body and Soul Together, onder redaksie van Beverley Haddad en uitgegee deur Cluster Publications in 2015, 284-296.
