Die boek oor die lewe van Ednes Kagundu word hier oorhandig in die kerkgebou op Nkhoma aan die algemene sekretaris van die CCAP Nkhoma Sinode, ds. Vasco Kachipapa en sy vrou, Madalitso.
_________________________
AnnaMarie de Klerk, wat haar lewe aan sendingwerk in Malawi gewy het, se tweede boek, EDNES KAGUNDU – Extending hope to women, het onlangs verskyn. Sy was bevoorreg om dit vroeër vanjaar self in Malawi te kon gaan bekendstel – iets waaroor sy diep dankbaar is. (Lees meer oor haar verbintenis met die CCAP Nkhoma Sinode HIER)
Wat was die motivering vir die skryf van dié besondere boek?
Hierop antwoord AnnaMarie: “Ek en Ednes het vir 28 jaar saamgewerk; nie net in die sinodale netwerk van die vroueverening nie, maar ook as mentor, kollega, vriendin en suster in Christus.
“Ednes het haar man, ds. H Kagundu, in 1988 na ‘n noodlottige ongeluk verloor. Hulle was toe leraarspaar in hul tweede gemeente, CCAP Chimwang’ombe. Ds. Christie Burger was in daardie tyd die skakelbeampte van die Nkhoma-personeelkantoor en het met sy sinodale betrokkenheid ‘n sleutelrol gespeel toe ons vir Ednes en haar kinders na Nkhoma kon verskuif. Hy het my daarna gehelp om logistieke uitdagings in plek te kry vir haar opleiding as offisiële vrouewerkster in diens van die CCAP Nkhoma Sinode se Chigwirizano (Vrouediens). Saam met mentors, wyle di. Josophat Mwale en JM Kajawa, het ek die geleentheid gehad om haar te sien ontwikkel as ‘n gehoorsame en gefokusde diensmaagd van die Here.
“Haar aanstelling as onderwyseres by die Vroueskool op Malingunde in 1992, het aan haar die geleentheid om diensrolle en –terreine te benut, vermenigvuldig. Ednes was holisties toegerus deur haar Meester. Die Here het self haar lewensroete ontwerp en haar geloofsgehoorsaamheid daarmee belyn.

Die Yoswa Skool op Nkhoma. Ednes staan in die agterste ry tweede van links. Lea Cloete, die hoof, staan agter heel links. Die kollega wat in die huldeblyk uitgebreid oor hulle vier jare in die Yoswa Skool vertel het, is Hilda Chilabade. Sy is 8ste van agter links.
“Kruis-kulturele blootstelling was nie vir haar ‘n uitdaging nie. Trouens, tydens twee besoeke aan haar broers en susters in Suid-Afrika, het sy met grasie en passie haar lewensroeping vervul.
“Ednes kon nie opgeneem word in die boek oor getuienisse van 16 persone oor ‘n wye spektrum van bediening in my eerste boek, My walk with the Lord nie, en daarom het die Here self vir my sy raamwerk vir Extending hope to women deurgegee sodat Ednes se getuienis in die hand en tot in die hart van vroue nuwe verwagtinge aan hulle kan ontskemer.
Hoe het jy te werk gegaan om navorsing oor die inhoud van die boek te doen?
Hierop antwoord AnnaMarie: “Ter voorbereiding en navorsing met die oog op ‘n huldeblyk aan my mentor, kollega, suster en vriendin, Ednes Kagundu, het ek in 2021 inligting gaan versamel sodat Extending hope to women hierdie jaar bekendgestel kon word. Ek het begin by die familielede wat haar moeder, Rakeli, en dié babadogtertjie terug ontvang het van die kliniek in Highfields, Harare, Zimbabwe, waar Ednes op 19 November 1940 gebore is. Hierdie paar oorlewende familielede woon in Malawi. Ek het vir ousus Mirriam en niggie Enifa besoek en met ‘n diktafoon en beplande vrae, of meer dikwels die tydsones en roetes wat hulle betree, gevolg en sodoende kosbare inligting bekom.
“Ouma Leah, gebore in die dorpie Mbedza, naby bekende groot hoofman Chiwere van Mvera, het ‘n fokuspunt geword. Haar teenwoordigheid in die eerste groepie jong meisies wat Jesus erken het, gedoop was en haar eerste kindjie, Rakeli, saam met haar man, mnr Chifuna op Mvera laat doop het, het nog ‘n kulturele vlam aangeblaas tot lig in die kring van familie en gemeenskappe wat Jesus nog nie as Verlosser aangeneem het nie.
“Navorsing oor hierdie merkwaardige drie vroue, grootmoeder Leah, moeder Rakeli en Ednes, in eie reg die mizati, steunpale van hul familie, het my die roete laat volg van soveel moontlike informante wat nog skrefies van onthou kon toelig.
“Ednes se lewenstyl het elke moontlike seisoen van verbeuring van akademiese of beroepsopsies oorrompel. Sy het met elke spreekwoordelike hekkie, die guns van die Here implementeer en die verwagte verlies aan selfkennis en beroepsvakkundigheid met haar bestendige onversteurbare kapasiteit oorwin.
“Navorsing oor Ednes kon ek dus nie doen uit argief- of geskrewe verslae nie. Haar lewensroetes met mense, onderwysers, mentors, kollegas, oud-studente, haar kinders, die baie vroue en gemeenskappe waar sy gedien het, almal het een getuienis gehad: sy was fenominaal. Dr Chatha EJ Msangaambe sê byvoorbeeld oor haar: ‘What comes clear in this real-life story is how several commentators speak of a single life without consulting one another, yet they all describe her as a woman of virtue, courage, character and influence.’
Vertel meer oor die hooftemas wat jy in die boek belig.
AnnaMarie verduidelik: “‘n Toegevoegde waarde tot die hooftemas in die boek, is waarskynlik die twee kaarte wat aandui waar haar ouma, moeder en sy geleef en impak gehad het. Eerstens die kaart van Mvera, in die dorpie van hoofman Mbedza, en in die area van Traditional Authority Chiwere. Die ander kaart is naby Nkhoma, in die area van hoofman Tsoyo. Ouma Leah het in Sambantani grond bekom in die vroeg 1900’s. En in hierdie dorpie woon ousus Mirram steeds. Naby Sambantani woon ‘n neef van Ednes, die bejaarde Mika, seun van tannie Lucy (in die familie-verband, haar klein moeder, mayi wamng’ono). Dié twee kaarte asook ‘n stamboom laat die hele familie herleef en wanneer die hooftemas dan oopval, is daar die bekendheid van hoe elke seisoen van Ednes se lewe ‘n enorme impak gehad het.
“Die hooftemas volg dus die betekenisvolle lyn van my lang reis saam met Ednes, my kennismaking met haar, haar akademiese geleenthede, uitstaande eienskappe as onderwyser, kollega, vriend en die kulturele status as ouma (eerbiedige erkenning), haar vermoë as buitengewone begeleier en laastens huldeblyke van haar kinders en kleinseun.
“Baie noodsaaklik is die erkenning aan leierskap en persone wat nodige inligting verskaf het in die samestelling van Ednes se ingesteldheid tot haar motto: sindingalole kuti mdyerekezi andibere korona wa moyo wanga (ek sal nie toelaat dat die vyand my beroof van die kroon van my lewe wat ek van die Here self sal ontvang nie …)
Jy het onlangs die boek in Malawi gaan bekendstel – vertel asb hoe jy te werk gegaan het en hoe dit ontvang is; wat was die impak daarvan?
“Dit was ‘n gegewe dat hierdie huldeblyk aan Ednes Kagundu se familie en kollegas, en daarom binne die CCAP Nkhoma Sinode, beskikbaar gestel moes word,” vertel AnnaMarie. “Ednes se lewensverhaal en bedieningsgehoorsaamheid ontskemer ‘n oorvloedige vrugdra-styl gebore uit en bemagtig in hoop. Haar hoop op dit wat, soos ‘n aflos-erfenis aangegee, was vanuit ouma Leah en moeder Rakeli se geloofskeuses.
“Nog voordat die boek afgerond kon word, het ek leiding versoek van dr Daniël de Wet van Getuienisaksie. Ons het die moontlikheid van ‘n bekendstelling in Malawi, verkieslik op Nkhoma en tydens ‘n erediens, as die mees toepaslike plek en prosedure gefinaliseer. Die moderatuur, met ds Vasco Kachipapa (algemene sekretaris van die CCAP Nkhoma Sinode) as skakelpersoon, was dit eens dat die boekbekendstelling op Nkhoma en tydens ‘n erediens kon plaasvind.

‘n Eksemplaar van die boek is verlede jaar tydens die Waarderingstee aan Oud-sendelinge aan dr De Wet oorhandig.
“Die titel van hierdie huldeblyk aan Ednes, Extending hope to women, asook haar buitengewone lewenstyl en bedieningsvelde, was nog ‘n oorweging om die boek binne bereik van soveel moontlik leraarsvroue in die CCAP Nkhoma Sinode te besorg. Dr. De Wet het voorgestel dat die drukkoste van die boek deur Getuienisaksie gedra sou word, om die jarelange betrokkenheid van Getuienisaksie verder te bevestig. ‘n Anonieme donateur het die subsidiëring van die boek aan 43 leraarsvroue in opleiding by die Yoswa Skool vir predikantsvroue op Nkhoma, geborg.
“Tydens die navorsing en ook beplanning vir die bekendstelling van die huldeblyk, kon ek op gereelde basis met Ednes se kinders, familie en kundige kollegas kommunikeer. Feite oor Ednes se jeug, opleiding, haar huwelik met ds Harry Kagundu en hulle dienstermyn in twee gemeentes, vroegtydig hersien en die nodige opgradering doen.
“Beplanning vir die versorging van die besoekende geloofsfamilielede uit Sambantani-dorpie en CCAP Nkhoma Sinode-leierskap op 2 April 2023 daar op Nkhoma, het gepaardgegaan met soveel nuwe inligting en die volkome samewerking van sinodale leierskap en hegte verhoudingsnetwerk wat deur Ednes gehandhaaf is.
“Die bekendstelling van ‘n boek vereis enorm baie offisiële prosedures. Hierdie huldeblyk het egter die gemeenskap en spesifiek die Liggaam van Christus wat op dié Sondag in ‘n aanbiddingsruimte saamgekom het, beklee met die atmosfeer van die Parakletos (Heilige Gees) -teenwoordigheid en daarom het die fokus geval op die Skrif- en Woordbediening, gelei deur dr Chatha EJ Msangaambe.
“Die algemene sekretaris, ds Vasco Kachipapa, het namens die moderatuur erkenning gegee aan die sinvolle toevoeging van die huldeblyk en dat die boek as deel van die leraarsvroue se leerplan benut sou word. Ds Kachipapa het ook dr Daniël de Wet se boodskap oorgedra en sodoende Getuienisaksie se betrokkenheid beklemtoon.

Vlnr: Mev. Milka Kandoje, AnnaMarie de Klerk en mnr. Kandoje (vyfde jaar teologiestudent by JMTI)
“Enkele kopieë van die boek is oorhandig aan leiers en Ednes se kollegas, asook ‘n simboliese oorhandiging aan een van die vyfdejaar teologiese studentevroue, mev. Milca Kandoje. Op Maandag, 3 April 2023 is die ander 42 kopieë by die Yoswa Skool aan studente-leraarsvroue oorhandig. By hierdie geleentheid was die hoof, mev. Jane Chikakuda en twee dosente, mevv. Katundu en Zeze ook teenwoordig.
“Behalwe die 300 kopieë wat beskikbaar was en elke kopie of verkoop of gesubsidieer, is ook 500 brosjures gedruk om aan vroue in die CCAP Nkhoma Sinode beskikbaar te stel. In hierdie brosjure is ‘n hele aantal getuienisse saamgevat wat Ednes se boodskap van hoop beklemtoon.
“Die bekendstelling van hierdie huldeblyk het aan die familielede ook die geleentheid gegee om nie net self kennis te neem van die omvattendheid van Ednes se bedieningsera nie, maar dit was duidelik dat hulle ook weer mekaar omhels het binne haar sterk geloofsdissipline en die drie vroue, ouma Leah, moeder Rakeli en dogter Ednes. Familielede uit die Sambantani-dorpie, waar aldrie vroue gewoon, geleef, getuig en bedien het, het sigbaar die hernude verbintenis gekoester.”
Wat is die doel met die opbrengs van die boek?
“Realistiese kommunikasie met ds. Vasco Kachipapa en die prinsipaal van die Josophat Mwale Theological Institute (JMTI), dr. Leonard Katundu, het die implimentering van ‘n visie oor die benutting van die boodskap van hierdie huldeblyk laat vorm aanneem. Die leierskap van JMTI kon projekte voorlê vir oorweging deur dr De Wet en myself.
“Die projek om ‘n heining rondom die Yoswa Skool op te rig, het nie net die begroting toegelaat nie, maar ook ‘n simboliese boodskap van omarming, versorging en voortgesette gehoorsame voorbereiding tot gemeentediens versterk. Ednes se lewe en gehoorsaamheid aan haar Here, sal in die toekoms ook aan hierdie opleidingsruimte gestalte gee wanneer leraarsvroue saam met hulle leraar-eggenoot diens in die Liggaam van Christus aanvaar.
“Die bestuur van JMTI is besig om 200 boeke in verskeie gemeentes te verkoop. Dié bedrag asook die beskikbare fondse uit verkope in SA en spesiale donasies, sal eersdaags aangewend word wanneer die heining-projek realiseer.”
Wat het hierdie hele ervaring vir jou persoonlik beteken?
“Daar is geen opdrag van die Here wat deur Sy dienaar alleen uitgevoer kan word nie,” antwoord AnnaMarie. “Daar was dus geen beplanning of navorsing, woordkeuse, redigering of ontwerp, finansiële oorwegings, of selfs die aflewering van die 270 boeke in Lilongwe, Malawi wat maar net in plek geval het sonder die duidelike en altyd tydige inspraak van die Gees van God nie. ‘n Buitengewone ervaring en getuienis is juis die vier bokse boeke wat bestem was vir aflewering in Malawi. Binne drie dae het ds Saka van die CCAP Lilongwe-gemeente die boeke gaan afhaal by die bushalte in Lilongwe. Selfs die vervoerkoste is voor die tyd deur ‘n donateur gedek.
“Met kundige betrokkenheid van medewerkers, begeleiers en mentors kon die teks en indeling van belangrike inligting voltooi word. Veral die baie broers en susters in Malawi kon sensitiewe kulturele gebeure of begrippe help saamvoeg sodat Ednes se ervarings, wat dan ook haar boodskap se fondamente gebou het, verwoord kon word.
“In retrospek besef ek dat die Here my eie geloofsgehoorsaamheid, sensitiwiteit vir ons kultuur en verhoudinge, interaksie en kollegaskap in sy fokus gehad het. Ek het daarom ook opnuut en met verwondering en erkenning geleer dat Jesus die kern is en dat God sy geliefde Seun bekendstel en van my verwag dat ek voor Hom sal buig, na Hom sal luister.
“Hierdie bedieningsfokus het die verskil gemaak! Die res is waar: Obey God and leave the consequences to Him.”
En is daar dalk nog ‘n boek op pad?
“Soos met hierdie projekte, het die CCAP Nkhoma Sinode ook toestemming verleen dat ek hierdie jaar met die navorsing oor die geskiedenis van die Vroueskool op Malingunde kon begin,” vertel AnnaMarie. “In 2028 gaan ons die eeufees van hierdie skool vier!”
Kontak dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
