Daniël de Wet (links) by die VGK Msinga se kerkraadslede tydens hul vergadering by Pomeroy, Msinga

 

Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, was verlede week vanaf 19 tot 21 Mei op besoek aan die VGK Msinga met wie daar al ‘n jarelange vennootskapsverhouding is.

Daniël vertel: “Die doel van die besoek was om saam met die leierskap van die VGK Msinga te onderskei en na te dink oor die toekoms van die bediening daar, veral na dr Lourens Schoemann se aftrede in April 2024.

“Die Msinga-gemeente het weer eens groot waardering uitgespreek vir die dekade-lange verbintenis wat hulle met NG Kerk-gemeentes in die Wes-Kaap het. Hulle is veral dankbaar oor gemeentes wat hulle verbind het tot spesifieke bedieningsareas en ondersteuning aan predikante en jeugwerkers in Msinga.

“Gedurende die Covid-pandemiejare was dit baie moeilike vir dié gemeentes om voort te gaan met hul uitreike na Msinga. Hierdie Junie-vakansie gaan gemeentes weer soontoe om uit te reik; iets waaroor ons almal baie bly en opgewonde is.

“Tydens die kerksraadsvergadering op Saterdag 20 Mei is daar heelwat tyd spandeer aan hoe daar in die konteks waar daar so baie werklose jongmense is en mense wat net van maatskaplike toelaes leef, hierdie uitdagings van die kerk se kant af aangespreek kan word. Daar is baie klem gelê op jeubediening en die rol wat die Veritas-opleiding speel. Dr Schoemann is ‘n geakkrediteerde Veritas-opleier en speel hierin ‘n enorme rol. Danksy die Veritas-opleiding van VGK Msinga se kerkleiers, begin dié leiers al hoe sterker deurkom in die gemeente se leierskap.

“Daar is ook gekyk na ‘n strategie waar daar gesê word dat wanneer gemeentes vanuit die Wes-Kaap na Msinga uitreik, dan gaan dit nie net daaroor om ‘n bouprojek of ‘n vinnige evangelisasie-uitreik te hê nie, maar om met die gemeente daar hande te vat en saam te bedien, saam te leer en saam die Here te aanbid. Die realiteit van die koninkryk van God is dat ons saam geroep is – ons broers en susters in KwaZulu-Natal is daar ver en ons is hier in die Wes-Kaap, maar ons is een geloofsfamilie.

“Tydens die kerksraadsvergadering was dit ook vir my baie duidelik dat die leiers besef dat ons nie ‘n ‘dominee-kerk’ kan of moet wees nie, (waar die dominee alles moet doen nie; dis nie heeltemal teologies regverdigbaar nie), maar dat ons moet werk met die liggaamsmodel; die gemeente moet bedien as die Liggaam van Christus oor daardie wyd-uitgestrekte area en leiers toerus om daar die evangelie te kan bedien.”

Daniël is weer eens oorweldig deur die hartlike gasvryheid waarmee hy daar ontvang is. Een van die hoogtepunte was die oorhandiging van tradisionele geskenke binne die Zoeloe-kultuur.

“Dis lekker om te weet dat ons as Getuienisaksie altyd daar met ope arms ontvang word.”

Kontak Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.

Hier ontvang Daniël ‘n pragtige Zoeloe-hooftooisel van ds Sithole as simbool van hul gebed dat God sy wysheid oor Daniël se hoof sal uitstort.