• Nasionale Boomplantweek: Vanaf 1 tot 7 September vier ons Nasionale Boomplantweek. Ons Groenspan nooi alle gemeentes uit om deel van hierdie opwindende eko-projek te word. Ds Dewald Hoffman, taakspanbestuurder van ons Taakspan Ekologie (Die Groenspan) verduidelik: “Die doel van hierdie projek is dat jul gemeente self by die aanplant van bome betrokke raak in plaas daarvan dat die Groenspan dit namens julle doen. Ons Groenspan wil graag bome skenk volgens die aansoeke wat ons van julle ontvang. Omdat ons ʼn beperkte begroting het, kan ons ongelukkig nie vooraf sê hoeveel bome of watter soorte ons beskikbaar sal hê nie, maar sal ons bes probeer om volgens julle behoeftes bome te verskaf. Omdat dit ʼn gemeenskapsprojek is, wil ons hê julle moet gebruik maak van ʼn plaaslike kwekery. Stuur asseblief jou vorm aan ons voor 26 Augustus. Die aansoekvorm kan HIER afgelaai word: https://bit.ly/46QBxnP. “Mag September ’n maand wees van groen blare en vuil hande!”

 

  • Wêreld Oseanedag – “Awaken New Depths” Wat is nou lekkerder as om deur ’n brander te duik, op die see in jou kajak te roei of sommer net langs die see te gaan stap? Op Saterdag 8 Junie vier ons Wêreld Oseanedag met die tema, “Awaken New Depths”. Oseane beslaan meer as 70% van ons planeet en is ’n onontbeerlike lewensbron wat die voortbestaan van ons as mense asook dié van elke ander organisme op aarde ondersteun. Oseane produseer ten minste 50% van ons planeet se suurstof en is die tuiste van die meeste van die aarde se biodiversiteit. Dit is ook die hoofbron van proteïene vir meer as ‘n miljard mense regoor die wêreld. Oseane voed ook die wêreldekonomie met ‘n geskatte 40 miljoen mense wat teen 2030 in diens van oseaangebaseerde nywerhede sal wees. Laat ons as navolgers van Christus ons deel bydra om respek aan ons oseane te betoon. Lees meer daaroor HIER.

 

  • Wêreldbyedag. Op Maandag 20 Mei 2024 vier ons wêreldwyd Byedag. Drie uit elke vier gewasse wat vrugte of sade vir menslike voedselverbruik produseer, is in ‘n mate van bye en ander bestuiwers afhanklik. Nie net dra hierdie belangrike diertjies soos bye, voëls en skoenlappers direk tot voedselsekuriteit by nie, maar hulle is ook die sleutel tot die bewaring van biodiversiteit. Om ons meer bewus te maak van die belangrikheid van bestuiwers, die bedreigings wat hulle in die gesig staar en hul bydrae tot volhoubare ontwikkeling, het die Verenigde Nasies 20 Mei aangewys as Wêreldbyedag. Kom ons kyk met nuwe respek na hierdie flukse diertjies wat ’n onontbeerlike rol ten opsigte van bestuiwing speel en sodoende tot die bewaring van biodiversiteit bydra. Lees meer daaroor HIER.

 

  • Maak jou eie voëltjievoerbak. Wat is nou wonderliker as om in die oggend met die vrolike getjirp van voëltjies voor jou kamervenster wakker te word? Dis aansienlik sagter op die oor as die sesuur-nuus, maar hoe kan jy hulle daarheen lok? Dis maklik. Kyk gerus na hierdie video waarin ’n mamma verduidelik hoe jy twee maklike voerbakkies vir die voëltjies in jou tuin kan maak. Dis so maklik, selfs kleuters kan dit doen: https://bit.ly/3UiFewS.
  • Verrykende verrassings in die natuur. Wanneer laas het jy alleen in ’n berg gaan stap, in ’n kano gaan vaar, op ’n duin gaan sit, in die see gaan swem of die tyd gemaak om na al die wonderlike voëltjies in jou tuin te gaan kyk? Dit is dikwels in sulke stiltes, ver van jou rekenaar en selfoon, dat jy weer bewus word van God se teenwoordigheid. Dit is so nodig om nie net jou liggaam te versorg en fiks te hou nie, maar ook jou kop gereeld ‘skoon’ te kry. Om hierdie ontmoeting met God in die natuur ’n baie hoë prioriteit in jou daaglikse roetine te maak, sal jou elke keer verras en verryk. Lees ook iets meer daaroor HIER: https://cac.org/…/2023/02/LHTS_Transcript_S4_Episode4.pdf
  • Waardeer die lewe van plante om jou. Nadat die welbekende digter, DJ Opperman, destyds uit ’n diepe koma op ’n gevorderde ouderdom weer alle woorde en objekte van vooraf moes leer ken, was een van die wonderlikste gewaarwordinge in sy herstellingsperiode dat daar iets groens met lewe uit die grond kon groei wat ons ‘boom’ noem. Hy was in totale verwondering daaroor; iets wat ons dikwels net as vanselfsprekend ervaar. Kom vier vanjaar Internasionale Plantwaarderingsdag (https://bit.ly/49BZnTY) saam met ons op Saterdag 13 April en staan verwonderd oor die skepping van God. Probeer ook in hierdie tyd om by te dra tot die “plant 1 miljoen bome”-veldtog en plant ‘n boom (of bome) tussen nou en die einde van Junie. Jy kan ook in die natuur gaan stap vir ’n forest bathing (https://bit.ly/3Uhe22N) in ’n boomryke area naby jou en ervaar hoe jy in hierdie ruimte die nabyheid van Christus ervaar.

 

  • Stap ’n wandelpad. Wat is nou lekkerder as om saam met ’n paar hartsvriende donkermôre voor Jonkershoek se natuurparkhek te wag dat dit moet oopgaan en ons kan begin stap? Jy ruik die fynbos, sien die dag stadigaan breek en hoor die kabbelende water in die bergstrome in die diep donkergroen klowe langs die wandelpad. In hierdie groen majestuese katedraal ervaar jy hoe jy deel van God se skepping word; dit laat staan jou verwonderd en maak heel.

 

  • Doen hierdie maand iets moois vir jouself en maak sommer nou daardie afspraak om die mooi natuur om jou saam met ’n groep vriende te gaan verken. Ons vier hierdie maand Plantwaarderingsdag en ook Aardedag, so op watter lekkerder manier kan ons nou hierdie April inlui?
  • Wêreld Natuurlewedag. Kom ons vier op Sondag 3 Maart 2024 saam met die res van die wêreld ons pragtige natuur. As Suid-Afrikaners is ons baie bevoorreg om een van die mees biodiverse fauna en flora ter wêreld te hê. Dink maar net aan ons unieke fynbos-areas en die groot vyf wat in verskeie van ons natuurparke te sien is. Wêreldwyd maak mense staat op die natuurlewe en biodiversiteitsgebaseerde hulpbronne om aan ons behoeftes te voldoen – van kos tot brandstof, medisyne, behuising en klere. Vele organisasies fokus daarop om te verseker dat ekosisteme kan floreer en plant- en dierespesies vir toekomstige geslagte kan voortbestaan. Wêreld Natuurlewedag bied aan ons die geleentheid om ons besondere Suid-Afrikaanse fauna en flora te vier en mense bewus te help maak van die vele voordele wat die bewaring van ons kosbare natuurlewe aan die mens bied. Terselfdertyd herinner dié dag ons daaraan om die stryd teen misdaad teen ons mooi natuurlewe op te skerp en die menslik-veroorsaakte afname aan spesies te beveg. Kom ons vier hierdie besondere dag en die belangrike bewaringswerk wat regoor die wêreld in hierdie verband gedoen word. Lees meer daaroor HIER: https://www.un.org/en/observances/world-wildlife-day.

 

  • Ietermagog Wêrelddag 2024. Die woord ”ietermagog” is ‘n inboorlingwoord (pangolin in Engels) vir die insektevretende, reptielagtige soogdiertjie met skubbe wat net snags uitkom en die aarde al sowat 80 miljoen jaar bewoon. Op Saterdag 17 Februarie vier ons wêreldwyd die bestaan en beskerming van die ietermagog. Ongelukkig is hulle ook, soos ons renosters, ’n bedreigde spesie en waarskynlik die mees gesmokkelde soogdiere ter wêreld. Hulle is gesog vir hul skubbe (gemaak van keratien, soos die naels van mense), en word veral in Asië vir hul kwansuise medisinale eienskappe gebruik. Lees gerus die mooi verhaal van Lumbi en ook Steve, twee ietermagogs wat na ’n klopjag uit die kloue van stropers gered is en van die besondere werk wat die Johannesburgse Wildlewe-veeartshospitaal (https://bit.ly/3UF3HxZ) doen om inheemse wild te behandel en te rehabiliteer. Lees meer daaroor HIER: https://bit.ly/49tQfS4 (Met erkenning aan Maroelamedia.)

 

  • Tuinedag Sondag 15 Oktober 2023: Kom ons vier Tuinedag op Sondag 15 Oktober en verwonder ons opnuut aan die wonder van die natuur. Maak ook ’n aantekening in jou dagboek om die opetuine in jou dorp te gaan besoek, as jy so gelukkig is om so iets te hê. In die Stellenbosch-omgewing kan jy nie dié geleentheid mis nie – dis die ervaring van ’n leeftyd en duur vanjaar vanaf Vrydag 27 Oktober tot Sondag 5 November. Lees meer daaroor is HIER.

 

  • SANParke bied GRATIS besoeke in Nasionale Parkeweek (2023) Sal dit nou die Bontebok -, Camdebo -, of Karoo Nasional Park wees? Maak seker dat jy nie hierdie gulde geleentheid misloop nie! Hier is jou kans om ‘n lang lys van 18 SANParke in die week van 16/18 tot 23 September gratis te gaan besoek. Kry jou verkyker, stapskoene en rugsak gereed en gaan verlustig jou in Suid-Afrika se wonderlike natuurparke. Gaan kyk HIER en maak jou keuse: https://bit.ly/45RSzR6

 

  • Bekamp Woestynvorming en Droogtes Op 17 Junie vier ons die Wêrelddag vir die Bekamping van Woestynvorming en Droogtes. Droogtes is van die grootste bedreigings vir volhoubare ontwikkeling, veral in ontwikkelende lande, maar in toenemende mate ook in ontwikkelde lande. Die aantal droogtes en die duur daarvan het sedert 2000 met 29% toegeneem. Wanneer meer as 2,3 miljard mense reeds bekommernis ten opsigte van water ondervind, is dit ‘n groot probleem.Vroue het ‘n belangrike aandeel in die gesondheid van ’n land, maar hulle het dikwels nie beheer daaroor nie. In alle wêrelddele staar vroue beduidende struikelblokke in die gesig om grondregte te verseker, wat hul vermoë om te floreer, beperk. In baie streke bly hulle onderworpe aan diskriminerende wette en praktyke wat hul reg om te erf en hul toegang tot dienste en hulpbronne, belemmer.Vanjaar beklemtoon die Wêrelddag vir die Bekamping van Woestynvorming en Droogte die tema, Haar land. Haar regte. Dit leer ons dat die belegging in vroue se gelyke toegang tot grond en gepaardgaande bates ‘n direkte belegging in hul toekoms en die toekoms van die mensdom is. Lees HIER meer.

 

  • Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit – Op Maandag 22 Mei 2023 word die Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit wêreldwyd gevier. Laat ons dus respek betoon aan ons biologiese rykdom en dit help beskerm en herstel. In Desember 2022 is die Kunming-Montreal Globale Biodiversiteitsraamwerk aanvaar en onderteken met doelwitte en konkrete maatreëls om die verlies van die natuur teen 2050 te stop en om te keer. Daarom is die tema van vanjaar se Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit Van ooreenkoms tot aksie: bou biodiversiteit terug. Lees meer daaroor HIER.

 

  • Malawi Boomplantprojek: Ds. Dewald Hoffmann, (koördineerder van die Taakspan Ekologie) en prop. Noxolo Fihla, lid van hul Groenspan, was bevoorreg om vanaf 23 tot 27 Februarie 2023 Malawi te kon besoek in verband met ʼn boomplant projek. Die projek is ʼn vennootskap tussen die Getuienisaksie en ons susterskerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode. Die doel van die projek is om bome te plant in gebiede wat veral in gevaar van ontbossing is. Tot dusver is daar 600 bome geplant by 8 verskillende plekke. Die projek plant spesifiek bome op of naby CCAP-gemeentes, met lidmate, kleingroepe, kore en diensgroepe wat elkeen ʼn boom of twee aanneem. Dus word die bome nie net aan die elemente oorgelaat nie, maar word deur die lidmate van die gemeentes versorg. Die doel van die besoek was om van die gemeentes te besoek en ook meer te leer oor die hele proses. Hou ons mediaplatvorms en die VrydagNuus dop vir meer inligting oor hierdie projek. Kontak gerus vir Dewald by ds.dewaldh@gmail.com vir meer inligting. Kyk na die video HIER.

 

  • Gaan besoek ’n SANPark verniet in September! Maak nou al ’n knoop in jou sakdoek vir die week van 11 tot 16 September wanneer die 17de Nasionale SANParke-week gehou word. Tydens hierdie week kan alle Suid-Afrikaanse burgers verniet toegang tot die meeste van die 22 nasionale parke in ons land kry. Maak gerus gebruik van hierdie gulde geleentheid. Dit gee ook vir ons as Christene die kans om omnuut van God se skepping bewus te word en ook ons kinders daaraan bloot te stel. Kyk gerus na hierdie video waarvan Taakspanbestuurder Ekologie, Dewald Hoffmann, ons van die inligting voorsien het. https://youtu.be/_XHabdVd96A
  • Help verbeter ons kwaliteit lug – Op 18 Maart vanjaar het ons Hooggeregshof verklaar dat elke Suid-Afrikaner die reg tot skoon lug het. Lugbesoedeling sal egter nog lank ‘n probleem in Suid-Afrika bly as gevolg van ons afhanklikheid van fossielbrandstowwe vir die opwekking van energie. Rudolph Scharneck van ons Groenspan verduidelik hoe ons elkeen wel ‘n verskil kan help maak. Kyk na sy video daaroor HIER.

 

  • Wêreldomgewingsdag. Maar hoekom is dit nodig? Hoe bewys ons respek aan ons omgewing wat aan ons lewe gee? Sonder water, suurstof en skoon lug kan ons nie lewe nie. Ons moet dus alles in ons vermoë doen om dit so suiwer moontlik te hou – elke mens het die verantwoordelikheid om die omgewing te help bewaar. Daar is baie maniere waarmee ons die aarde kan help bewaar.Vandeesweek gee Noxolo Fihla van die Groenspan vir ons lekker praktiese idees van hoe jy uit jou kombuis en erf ’n plan kan maak.Kyk na die video HIER: https://youtu.be/1JqtFpPtu9k

 

  • Kom ons vier Biodiversiteitsdag! SONDAG 22 MEI. Marizanne Pfeil-Wessels van ons Groenspan het vandeesweek vir ons meer inligting oor Biodiversiteitsdag wat op Sondag 22 Mei gevier word. Biodiversiteit is die biologiese verskeidenheid van lewe op aarde. Vir ‘n gesonde aarde het ons ‘n gebalanseerde biodiversiteit nodig.’n Lys van 22 biodiversiteitaksies is aan verskillende instansies vrygestel. Kyk gerus daarna hier (https://www.cbd.int/biodiversity-day/activities/22) en kies aksies waarvoor jy kans sien. Hierdie 22 aksies is ook in pas met die nuwe wêreldwye biodiversiteitsraamwerk. Op 22 Mei kan jy onderneem om enige van die 22 aksies aan te pak en uit te voer. Ter wille van bewusmaking kan jy dan asseblief foto’s of video’s van jou aksies op sosiale media met die hutsmerk #BiodiversityDay deel.Kyk ook gerus na ons bewusmakingsvideo: https://youtu.be/gXrqSG3hjeM

 

  • Omgewingsvriendelike vuuraanstekers. Met die winter wat op hande is en meer kaggels en vleisbraaivure wat aangesteek gaan word, is dit belangrik om omgewingsvriendelike vuuraanstekers aan te skaf.Baie dankie aan Sam Chamberlain van ons Groenspan vir hierdie week se eko-wenk oor vuuraanstekers. In hierdie video verduidelik Sam vir ons hoe maklik dit is om sommer self so iets te maak en gee drie maklike voorbeelde.Kyk gerus hierna: https://youtu.be/i-nVUcg54GQ
  • Op Woensdag 13 April vier ons Internasionale Plantwaarderingsdag. Om plante te vier klink dalk vreemd, maar ons het ons hele bestaan te danke aan plante. Sonder plante kan ons nie asemhaal of eet nie – ons kan basies niks doen as dit nie vir plante was nie! So, waaroor gaan hierdie dag en hoekom moet ons omgee? Baie dankie aan Dewald Hoffmann van ons Groenspan wat hierdie week vir ons die redes daarvoor gee: https://youtu.be/_d6ghsae2pI

 

  • Op Dinsdag 22 Maart vier ons Internasionaal Wêreld Waterdag. Op hierdie dag is dit belangrik dat ons sal probeer om almal om ons daarvan bewus te help maak oor hoe kosbaar water is. Kom ons kry opnuut weer respek vir die water tot ons beskikking en probeer so waterwys moontlik te leef.Dankie aan Hanli Groenewald vir die inligting. Kyk gerus na die video daaroor: https://youtu.be/vfS251mQTYU
  • Maak jou eie voëltjievoerbak.Wat is nou wonderliker as om in die oggend met die vrolike getjirp van voëltjies voor jou kamervenster wakker te word? (Dis aansienlik sagter op die oor as die sesuur-nuus.) Maar hoe kan jy hulle daarheen lok? Dis maklik. Hierdie week vertel ons Groenspanlid, Marizanne Pfeil-Wessels, hoe jy met ‘n keramiekpot en tou ‘n voëltjievoerbak (bird feeder) in jou tuin kan prakseer: https://youtu.be/CaHUYUaQIoI

 

  • Waarom is ons vleilande so krities belangrik? Rudolph Scharneck verduidelik: “Water speel reg deur die Bybel ’n baie belangrike rol. Jesus gebruik lewende water as metafoor vir die verlossing wat Hy bring. Water is vir alle lewe op aarde krities belangrik. Ongelukkig sien te veel mense dit as ’n onuitputlike bron. Die werklikheid is dat vars en skoon water baie beperk is. Vleilande is natuurlike watersuiweraars. Op Woensdag 2 Februarie is daar wêreldwyd Wêreld Vleilanddag gevier, maar wat is ’n vleiland presies en waarom is dit van kritiese belang dat dit bewaar word?: Kyk gerus na hierdie video en staan in verwondering. Dit is veral ook baie geskik om deur onderwysers gebruik te word.

 

  • Ekologie is meer as die plante om ons; dit sluit veral ook ons diere in. Op Maandag 4 Oktober vier ons Wêreld-dieredag. Die doel van dié dag is om mense bewus te maak van diereverwaarlosing. Deur hierdie dag jaarliks te vier en meer gemeenskappe daarby betrokke te kry, kan ons die plaaslike en globale standaarde ten opsigte van dierewelsyn verhoog. Deur bewusmaking en opvoeding kan ons ’n wêreld skep waar die waardigheid en versorging van diere altyd ’n prioriteit sal wees. Ons kan net ’n verskil maak wanneer ons betrokke raak! Dankie aan Marizanne Pheil van ons Groenspan wat die inligting verskaf het.

 

  • Wêreld Rivieredag: Sondag 26 September is dit Wêreld Rivieredag. Een van die bekendste riviere in ons sinodale gebied is die Breederivier. Rudolph Scharneck van die Groenspan het ‘n lidmaat in sy gemeente wat baie betrokke is by die bewaring van die Breederivier en vas glo die Here haar vir hierdie taak geroep het. Haar naam is Elkerine Rossouw en sy woon in Rawsonville. Hy het met haar gesels om meer uit te vind waarom die Breederivier so belangrik is en wat die kerk en gemeenskap se rol in die bewaring van ons land se riviere in die algemeen is. Lees meer HIER. Kyk ook na ’n kort video oor die rol wat jy hierin kan speel HIER.

 

  • Wêreld Motorvrye Dag wat op 22 September gevier word, moedig ons aan om ons motors minder te gebruik. Dit hou baie voordele in, soos dat die lug minder besoedel word en dat ons kan stap en fietsry in ‘n gesonder omgewing.  Waarom is dit so belangrik en watter wenke kan jy volg om jou motor minder hoef te gebruik? Janneke Marais van ons Groenspan deel met ons ‘n paar idees HIER.

 

  • Op Donderdag 16 September is dit die Internasionale Dag vir die Bewaring van die Osoonlaag. Die osoonlaag is ‘n natuurlike laag gas in die boonste atmosfeer wat mense en ander lewende dinge teen skadelike ultraviolet (UV)-strale van die son beskerm. Wat kan ons gewone mense daaraan doen? Hoe kan ons die osoonlaag beskerm? Leer meer by Samantha Chamberlain: https://youtu.be/k7BSZGTQ45M

 

  • Op 15 September is dit Internasionale Kusopruimingsdag. Maak seker dat jy deelneem aan hierdie belangrike veldtog, of nog beter – kry ‘n groep bymekaar en gaan help maak ons pragtige Suid-Afrikaanse kus skoon. Kyk gerus na Samantha Chamberlain se inligting hieroor: https://youtu.be/CYj6a_RhNYw